Soos modder deur my vingers

Het jy al ooit probeer om loperige modder te stop? Het jy al ooit probeer keer dat ‘n hand vol fyn aarde tussen jou vingers deurglip?

Ek onthou hoe ek en my boetie as klein kinders modderkoekies gebak het. Dit was in die dae toe kinders nog voor in oop erwe kon speel sonder om bang te wees en toe ons mense wat verbystap nog gegroet het. Wit én swart, want maniere is nie ‘n kleurding nie. Oums se wysheid.

In elk geval… Oups het die mooiste rotstuine gehad. Hy het een of twee pryse gewen vir die mooiste tuin in die dorp, maar tussen die viooltjies, gesiggies, hanekamme, reusagtige asters en perfekte rose was dit die grond wat my en my boetie alewig gelok het. Dit en die plat rots so half onder ‘n stokou denneboom van een of ander aard, wat so skuins voor die voordeur gestaan het.

Ons sou kort ná ‘n bui reën of nadat die sproeiers klaar natgemaak het, uit die huis uit sluip, mekaar daar kry en kyk wie die sterkste modderkoekie kon bak op daardie klip. Dit wás pret, maar die modder was altyd te loperig. Ons was seker eintlik net oorgretig. Kort voor lank was die hele klip vol modder en die koekies het die een na die ander geflop. Oups was soms nogal vies oor die mooi rots wat dikwels nie na veel meer as ‘n grond-klont gelyk het nie. Maar hy hét verstaan.

Male sonder tal het ek probeer keer dat die nat grond die wêreld (of die rots) vol loop… sonder sukses. Ek kon probeer keer en probeer keer, maar die modder sou net loop. Oor my hande, oor die klip en deur my vingers.

Die modder was onkeerbaar.

Vandag nog, is baie dinge in my lewe ook maar baie soos my mislukte pogings tot modderkoekies (o, en ja… my boetie het elke keer gewen). Soms wens ek dat ek kon stop wat blykbaar onstopbaar is. Partykeer wens ek, ek kon die natuurlike neiging van modder keer. Partykeer haat ek die gevoel van modder wat tussen my vingers ontsnap.

En soms, net soms, wens ek dat ek soos dié modder kon wees. En dikwels, al hoe meer dikwels, wens ek dat ek net weer saam met my boetie buite kon gaan modderkoekies bak.

Advertisements

5 thoughts on “Soos modder deur my vingers

  1. Wow! Ek moet met jou deel dat jou stories my so tuis laat voel, so deel laat voel boonop die lekker lag maak dit die heel lekkerste blog omo te lees. Baie Dankie !

    Like

Lewer kommentaar op perdebytjie Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s