’n Driehoek van pyn

‘n Tragedie het ʼn dorp getref. Die gemeenskap is stukkend. Elke ma en pa en maatjie is geskok deur die fratsongeluk en die seer van die leemte – drie kinders se lewens; weg.

Ek ken die dorp en ek ken die skool. Toe ek die eerste berigte gisteroggend ontvang het oor die oorgang tussen twee geboue wat meegegee het by ʼn hoërskool, het my hart gesink. Dit was kort ná ʼn saalopening, het die een berig gesê, en ek het ten spyte van wat ek reeds geweet het, saggies gehoop dat niemand seergekry het nie. Maar iemand het.

Drie kinders wat gister nog blinkoog gedroom het oor die toekoms, naderende Valentynsdag en wat waarskynlik groot planne gehad het vir die eerste te kort naweek van Februarie, se lewens is skielik en wreed verstil. Hulle vriende en familie se lewens is omvergegooi… hulle ouers se harte verpletter.

Meer as twintig ander skoolkinders het ernstig seergekry en is in hospitale in Vereeniging, Johannesburg en Pretoria opgeneem. Almal is tans nog in Intensiewe Sorgeenhede, sommige ondergaan operasies, baie van hulle se toekoms of kans op ʼn sogenaamde “normale” lewe is onseker.

Die skool, Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, is een van die top publieke skole in die omgewing met goeie onderwysers, toegewyde bestuur, mooi groen sportvelde, netjiese geboue en in besit van baie respek van die gemeenskap. Maar die strukturele stabiliteit en integriteit van die stoepe en oorhoofse afdakke en voetgange word nou in twyfel getrek en, hoofsaaklik as gevolg hiervan, is die skool vir ʼn onbekende tyd gesluit om die veiligheid van die res van die leerders en personeel te probeer verseker. Die skok oor die gebeure is intussen gevolg deur vrae… wie se skuld was dit? Is iemand skuldig? My mening – of dit nou weens die Departement se eie gesny aan fondse en nakoming of gebrek aan behoorlike maatreëls was of die skool se eie nalatigheid – dit maak nie op die oomblik saak nie.

Ek het vandag gesien dat ʼn maat van een van die oorledenes op sosiale media in die lig van gister se gebeure ʼn eenvoudige en terselfdertyd ook so ʼn komplekse vraag vra: “Wat nou?”

Ja… het ek gedink, terwyl ek in my hart kon voel hoe seer die trane maak wat op daardie vingers wat die boodskap getik het, geval het. Wat nou?

Ek wens ek kon die skrywer daarvan ʼn stywe drukkie gee. Ek wens ek kon haar op ʼn manier laat voel dat dit okei is om uitmekaar te val as sulke goed gebeur. Ek wens ek kon vir haar sê dat dit nie verkeerd is om vrae te wil vra nie, dat sy haar oë maar mag rooi huil, dat sy mag gil en skree en mag vloek en slaan… totdat dit beter is. Totdat sy weer kan voel en sy in haar kop en hart plek kon maak vir iets anders as hierdie onregverdige seer. Totdat daar weer plek is om eerder te onthou wie haar maat was.

Antwoorde op dié kind se twee woorde het my diep geruk en lus gevoel om die mense wat dit geskryf het te ruk. “Wees sterk.”

SE GAT!

Moenie na hulle luister nie, want hulle besef nie wat hulle sê nie. Moenie sterk wees nie. Al wat jy nou moet doen, is treur. Gaan pak blomme en kerse en briefies teen die skool se muur as jy wil, en sing “amazing grace” as jy wil. Bid saam met jou vriende en die kinders wat dood of seergekry het se ouers as jy wil. Maar ook: Gaan gooi iets stukkend as jy wil. Gaan slaan iets so hard dat jou kneukels bloei as dit moet. Skreeu die pyn uit totdat jou stem nie meer wil nie en laat toe dat die trane loop en loop en loop, totdat daar nie meer ʼn druppel oor is nie. TREUR! Voel die pyn en die onsekerheid en moenie sleg voel omdat jy so goor voel nie. Moenie skaam wees omdat jy “nie sterk is nie”. Van alles wat nou “moet” gebeur, is sterk wees die laaste wat jy “moet” wees.

Maar as jy klaar is, as jou trane opgedroog het en jou kneukels verbind is en die skerwe van dit wat stukkend is opgetel is… as jy klaar is, snik. Snik totdat jy weer asem kry. Haal asem! Onthou dat jy nog lewe en dat jy gelukkig genoeg was om hierdie maat, hierdie familielid en hierdie kind in jou lewe te kon hê. Onthou hom of haar. Herdenk sy of haar lewe. En glimlag oor al die mal goed wat julle saam aangevang het. Moenie vergeet nie en moenie ophou droom nie. Moet nooit dat ʼn tragedie wat ander se lewens geëis het, jou laat ophou lewe nie.

Wat nou?

Onthou… treur… onthou… haal asem… moet nooit vergeet nie… lewe.

Driehoek. Hoe ironies… drie leemtes. My gedagtes is by almal wat geraak word deur dié verskriklike tragedie.

 

 

Nota Vir lesers van my blog wat nie kennis dra van die tragiese gebeure nie, hier is ʼn paar skakels:

https://ewn.co.za/2019/02/01/gallery-tears-at-hoerskool-driehoek-after-3-fatalities

https://vaalweekblad.com/41186/opvolg-tragedie-hoerskool-driehoek/

https://maroelamedia.co.za/tag/hoerskool-driehoek/

https://www.news24.com/SouthAfrica/News/3-children-killed-after-walkway-at-a-vanderbiljpark-school-collapses-20190201

 

 

Advertisements

4 thoughts on “’n Driehoek van pyn

  1. Ek is baie jammer om hiervan te hoor, is regtig niks wat mens kan sê oor sulke dinge nie. Ek stem so met jou saam oor daai uiting gee, mense grief net nie meer nie, asof hulle nie mag nie. Dankie vir die skryf hiervan 🙏

    Like

  2. Dis werklik n tragedie….ek wonder onwillekeurig of al die ander skole nou ook inspeksie sal doen of sal hulle dit ook net afmaak as “dit sal nooit hier gebeur nie?” Jou raad aan die einde om te treur is die beste ooit…te veel keer word daardie onverwekte emosies van “sterk wees” die diep maalgat wat jou vir altyd wil insluk.

    Liked by 1 person

    • ❤ Ek mis sulke kommentaar. Dankie… en ja, my Vrydag en Saterdag was eintlik maar oorheersend emosioneel oor dié tragiese gebeure. Ek het gister gehoor dat die vierde kind oorlede is. Dit breek my hart.

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s