Snikheet

Dis warm vandag. Gauteng beleef tans een van die ergste hittegolwe in ‘n lang tyd en plek-plek het die kwik blykbaar so aan 44 grade geraak (maar ek sal nou nie my lewe op dié inligting wed nie). Ek is nie een vir hierdie kaliber somers nie. In die winter, het ek nog altyd gesê, kan ‘n mens warmer aantrek as jy koud kry. ‘n Mens kan lae op lae op lae klere, komberse en duvets aantrek if oor jou gooi, nader aan ‘n vuur skuif en nog ‘n stomp daarop gooi. Maar in die somer? Jy kan tog nie net sommer gou kaalgat Checkers toe skiet om koeldrank of ysies (want wie dink in dié hitte aan eet) te koop nie. Wel… ék sal nie.

Op dae soos vandag voel ek dat ek in niks anders as my bikini wil rondlê (want rondloop is hopeloos te veel moeite) nie. Kaalvoet op die koel teëls. Iewers waar ‘n luggie op hierdie windlose dag trek, in my goedkoop blou en wit hibuscus-bikini wat ek nog voor ek getroud is eendag by Pep gekoop het. Ek dra mos nie sulke goed nie. Ek pas in elk geval nie regtig so goed daarin dat ek dit ooit voor iemand sal dra nie en die ding is boonop skreeulelik.

Maar dit ís warm. En ek hét die drie-stukkies-lap-aan-toutjies maar uit my kas gaan grawe en nou sit ek hier – braaf en koel langs die swembad. Gefrumpel en gevoue, met bulte en dimpels en al, maar wie gee om!

Iewers tussen sonbrandgoed aanverf en gaan lê, het ek aan my Oups gedink.

“Daai blonde bene,” het hy my altyd gespot, “wat maar net nie wil bruin nie.”

Ek vermoed dis waarom ek min kort goed dra. My bene kán nie verbruin nie al.doen ek ook wat. “Self tanning lotion” noem ek met goeie rede en eerstehandse ervaring “geelmaakgoed. ‘n Sonbed laat my lyk soos Trump se (heelwat jonger) sussie. As ek te lank in die son is, verkleur ek tot ‘n ligte skakering van tamatie vir ‘n dag en dan vervel my spierwit vel wraggies ook nog ‘n paar dae later!

My ou blonde bene, dink ek met ‘n glimlag…

Oups, dis moeite in die hitte om te dink en dis nog stééds vir my moeite om my bene te laat verbruin. Maar nooit – nie eers in dié hitte waar ‘n mens se brein kook aa jy onthou om asem te haal nie – is dit moeite om iets oor jou te onthou nie. Ek mis jou!

En net so… eensklaps… skielik… hoor ek die amper onbekende klank. Die wolke is op pad! Dit klink my hier kom reën!

Advertisements

3 thoughts on “Snikheet

  1. Stem ek so saam jou oor hitte- en winter, ek is totaal ‘n winters-baba. Ek het so gesmile oor ” blonde bene”. Ek het ook, word gekookte -kreef- rooi, vervel en raak dan as ek gelukkig is beige. So mooi geskryf, dankie vir so mooi deel🌻

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s