Pretty Woman

Die sogenaamde jumping game het vanaand baie gou vervelig geword. Vir ʼn Vrydagaand in die Desember-skoolvakansie moes ek seker nie verwag het dat daar veel meer op die kassie gaan wees nie en my gehop-hop van kanaal tot kanaal het ʼn skielike einde gekry toe ek ʼn ou bekende naam sien wat oor ʼn minuut en ʼn half begin.

Pretty Woman.

Dit is seker een van die mooiste sprokies waarmee Hollywood nog ooit opgekom het. Waarskynlik my gunsteling film. Julia Roberts is nie my heel gunsteling aktrise nie en Richard Geere lyk net nie vandag meer soos wat hy doerietyd gelyk het nie, maar die storie bly vir my so verskriklik mooi.

Die vrou met die breë glimlag en mooi hart wat vasgevang is in die slegte kant van die lewe. Die man wat skynbaar ʼn emosielose sakeman is, maar wat eintlik ook ʼn mooi hart het, wat instap en haar lewe onherroeplik verander. En dan die gelukkige einde… Hierdie is nie ʼn storie nie en dit is nie ʼn ware lewensdrama nie. Dit is eenvoudig net ʼn sprokie. Maar dit is steeds ʼn baie mooi sprokie.

Ek wil elke keer wat ek die film kyk vir myself lag. Ek het maar ʼn romantiese kant en ek ken tog maar net te goed van groot drome droom; veral nadat ek sulke goed gekyk het.

Al het ek die film al ʼn duisend keer gekyk, is daar elke keer iets kleins wat ek vir die eerste keer raak sien of wat ek vir die eerste keer (en soms weer ʼn keer) besef. Daar is elke keer iets wat my opval.

Vanaand het die toneel waar Vivienne (Julia Roberts) ʼn rooi rok dra en Edward (Richard Geere) vir haar sê dat iets kort hier in my hart vasgesteek. Hy het ʼn diamanthalssnoer uit ʼn boksie gehaal en haar gewaarsku dat sy nie te opgewonde moet raak nie, want hy het dit net vir die aand by die juwelier geleen en moet dit weer teruggee. Haar reaksie, kompleet met blink oë en al, is aangrypend en veral wanneer sy sê dat dit so waardevol moet wees en so mooi is. Dis maklik om die verband en ironie hierin te kan sien – sy het soveel meer waarde het as die halssnoer, maar besef dit nie vir ʼn oomblik nie… Die eeue-oue storie dat ʼn mens soveel meer waarde het as selfs die mooiste en grootste diamant is al holrug gery. Ek weet. Maar daar is waarheid in. Ek glo dit. En dit is nie waaroor hierdie bloginskrywing gaan nie. Dít is nie wat my vanaand so half versigtig (want my hond mag nie sien wat mooi sprokies aan my doen nie) ʼn traan laat pink het nie.

Nader aan die einde van die film gee Edward die halssnoer terug en die woorde “it must be difficult to let go of something so beautiful” van die anderkant van die toonbank af, gryp my elke keer aan. Almal weet dié wyse omie verwys nie na die halssnoer nie. Vanaand het dié uitlating my besonder diep getref.

Vanaand, waar ek seker een van die mees romantiese films saam met niemand anders nie as my hond van die gemaklike beskerming van ʼn rusbank sit en kyk het, wens ek egter dat die tweede deel van dié tema in Pretty Woman ook in my lewe kon waar wees.

Gaan dit ooit gebeur dat iemand dit moeilik sal vind om my te laat gaan? En waarom kon dit nie maar alreeds die geval gewees het nie?

Dalk gaan dit nog gebeur. Dalk nie. Maar vir die oomblik gebeur dit ongelukkig seker nét in sprokies.

Advertisements

One thought on “Pretty Woman

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s