The unbearable lightness of not being

Ek onthou Milan Kundera se boek en stukkies van die film, The unbearable lightness of being. Ek moes die boek lees en die film kyk as deel van ‘n kursus in filmkunde wat ek jare terug gedoen het.

Soos enige goeie boek, het dié een ook baie interpretasies van lesers, ontleders en kritici, baie onbeantwoorde vrae oor wat dit dalk werklik impliseer en waarop die skrywer dan nou eintlik wil sinspeel. Vir my was dit ‘n goeie boek deur ‘n meesterskrywer, maar die storie was eintlik maar in hooftrekke vir my oor die situasie wat ontstaan wanneer ‘n mens – enige mens – vasgevang word in daardie onduidelike en ongedefinieerde zone tussen realiteit en fantasie; realiteit en onwerklikheid.

Onlangse gebeure het my weer aan dié storie laat dink; meer aan die naam as die inhoud of die betekenis; en ek sit vas in ‘n ongemaklike plek waar ek wens ek kon iemand wie se realiteit en onwerklikheid een en dieselfde ding geword het, help om weer rég te kan sien.

Iemand wat regtig baie naby aan my is – seker een van die mense wat die naaste aan my hart is – was ‘n paar jaar gelede in ‘n baie ernstige motorongeluk. Vir twee dae het die dokters sy familie en vriende gewaarsku om nie te veel te hoop nie. Sy toestand was kritiek en hoewel hy stabiel was, kon dit op enige oomblik verander. Inwendige bloeding… vergruisde bene… beskadigde hoofslagaar… breinskade… Spesialiste het belowe dat hy nooit weer sal kan loop nie of moontlik nooit weer homself sou wees nie, weens die aard van sy beserings.

En toe, eendag, word die man met die meeste wilskrag wat ek ken, wakker.

Hy het vinniger as wat die spesialiste kon glo, begin loop. Hy het met trane van pyn oor sy wange elke oefening gedoen wat die terapeute van hom gevra het en almal om hom vertel dat dit nie sy tyd was nie. Dat hy ‘n tweede kans gekry het. Dat hy hééltemal reg sal kom. En ons; almal van ons; het hom geglo!

Maar toe, die onverwagse.

Terwyl sy fisieke vordering almal om hom stomgeslaan het, het ‘n ander probleem ingesluip. Die harde stamp feen sy kop en bloeding op die brein, wat tot tydelike breinskade gelei het, het sy tol begin eis. Almal het aangeneem dat dit ook herstel het. Of, almal behalwe sy sussie, wat hom blykbaar beter as enigiemand anders geken het en meer kon raaksien as die beste breinspesialis of kopdokter. Maar niemand wou na haar luister nie. Drie of sewe psigiaters later, kon hy nog steeds nie sy studies voltooi nie en begin dinge erg raak. Erger nou, as wat dit was in daardie eerste paar dae na sy ongeluk.

Wat word dit genoem? Dimensie? Paranoia? Depressie? Psigose? Skisofrenie?

Hy is nie meer dieselfde nie. Ten minste, nie as hy vir ‘n rukkie sy voorgeskrewe pille gelos of vergeet het nie. Dan verander hy van ‘n stabiele jong man met die mooiste toekomsdrome, in iemand wat hallusineer oor mense wat hom jaag en hy raak agterdogtig oor almal wat hom te na wil kom. Hy verander van ‘n briljante maar gewone mens na iemand wat tred verloor het met die realiteit. Die onwaarheid van die lewe het sy realiteit geword. En ons – almal wat vir hom lief is – se hande is afgekap.

Vir my is dit ondraaglik. Vir hom is dit al wat hy op die oomblik ken. Vir ons almal, ‘n ongenaakbare realiteit.

Dit maak my bang. Hý maak my bang. Met so iemand, wat altyd oop was vir redenasies en ander se opinies in ag sou neem, kan ‘n mens nie mee stry nie. Jy durf nie. Dit raak lelik. Dit is gevaarlik.

Ek het al met sy ouers, by wie hy tans bly, gesels en gevra of ‘n mens nie maar met die psigiater kan gesels nie. Maar die een verskoning ná die ander kom dan op soos grasspruite om ‘n ou graf.

Die psigiater is oorsee en buitendien te besig vir hulle.

Dis nie so erg as wat ek dit maak nie, maar hulle sluit hulleself elke aand in hulle kamer toe omdat hulle self ook skrikkerig is.

Nee, hulle kan nie sy wapens (hy versamel messe en gewere met ammunisie) van hom wegvat nie, want dan gaan hy kwaad word.

Hulle kan nie sy pille skelm vir hom gee nie, want dit gaan nie werk as hulle dit fyn maak en in sy kos of koffie insmokkel nie (ja, hy het dit weer gelos). Die psigiater sê dit werk nie so nie.

Hulle kan niks doen nie, want hy moet self besluit dat hy wil regkom.

Hulle kan hom seker op ‘n manier hospitaal toe neem, maar blykbaar gaan hy dan malhuis toe moet gaan. En hulle kan dit nie aan hom doen nie. Sy ma wil dit nie sien nie.

Sy sussie wás reg, maar niemand sal dit ooit erken nie, en haar hande is net so afgekap as al die ander mense s’n.

Ek is kwaad. Ek is weerstandig. Ek is lus en gaan hulle telyf en klap of skud hulle totdat hulle hoor wat hulle sê en besef hoe ‘n klomp stront hulle praat. Psigiater ingesluit. Of nee – vir hom wil ek bel en dreig om hom by die Raad te rapporteer. Ek is lus en huur sterk mans om hom vas te druk, sodat ek die pille by sy keelgat af te forseer en daarmee aan te hou totdat dit begin werk. Totdat ‘n mens met hom kan praat. Totdat hy besef dat hý die krimineel is wat óns seermaak… nie andersom nie.

En tog… hy besef nie wat hy doen nie, en daarom kan ‘n mens hom nie kwalik neem nie. Hy is onbewus van almal om hom se vrees vir hom, en verdiep hom al verder in sy eie onrealiteit; sy eie paranoia… sy eie werklike psigose. Niemand kan van hom verwag om self reg te kom nie. En wat my vies maak, is dat so min mense besef dat hý niks omtrent die saak kan doen nie; hulle wel.

As jy by ‘n malemeule op een van daardie groot swaaie klim – die een wat jou naand heeltemal horisontaal laat sit, terwyl die wêreld in ‘n waas verby jou flits, is jy nie in beheer nie. Jy ry net op die swaai en plaas jou vertroue volkome in die operateur om weldra een of ander tyd die swaai te stop en jou toe te laat om af te klim.

Maar wat as die swaai nie stop nie? Wat as die operateur besluit dat jy in jou naarheid en jou dronkheid vanuit die veraf-rondomtalie moet skreeu dat jy wil stop?

Magtig, operateur! Is die gekots wat op jou kop land dan nie genoeg rede om die ding te stop nie? Besef jy nie dat die persoon op daardie swaai so vasgevang is in sy onophoudelike horisontale gespin, dat hy nie in staat is om vir jou te skree nie? Wie kan, after all, mooi ordentlik vra dat jy die ding moet stop as hulle besig is om in hulle eie naarheid te verstik?

Ek wil histeries en onophoudelik van die kantlyn af skree. STOP!!! ASSEBLIEF, STOP DIT NET!!! Ek wil tantrums gooi soos ‘n tweejarige in ‘n winkel en nie ophou totdat iemand doen wat ek vra nie. Ek wil mense hard en rof en ongehoord-ongenaakbaar tot besinning ruk. Maar ek kan nie.

His unbearable lightness of not being became my unbearable reality. And I cannot do anything about it.

My mens, ek bid eintlik al lankal nie meer nie. Maar ek bid nou vir jou. Want ek weet nie meer wat anders nie, en ek haat jou realiteit en ek mis jou – mý méns – verskriklik baie.

Advertisements

4 thoughts on “The unbearable lightness of not being

  1. Ja, en dan kom die vraag ongelukkig ook op, “sou die dood” dalk nie meer genadiglik gewees het vir diegene wat toeskouers van hierdie arme jongman se persoonlikheidsveranderinge, gewees het nie? Dit is baie hartseer.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s