Onregverdig

Die man in die blou uniform staan met ʼn effense skuinsgedraaide kop na haar en kyk. Hy was gister ook hier om te luister, neer te skryf, ʼn paar keer te knik, een of twee vrae te vra, verder te skryf, sy simpatie te betoon en toe te loop. Hy het nie verwag om vandag weer terug te wees nie. Gister was sy histeries, maar vandag het die realiteit stelselmatig begin insink. Of dalk het dit gisteraand alreeds begin, want sy lyk lewensmoeg en asof sy geen slaap ingekry het nie.

“Dit is verskriklik om te weet dat hulle in jou veilige ruimte ingekom het; dat hulle met hulle vuil kloue die goed gevat het waarvoor jy so lank en hard gewerk het om te kan bekostig. Ek voel nou nie meer eers veilig in my eie huis nie… my éie huis!”

Hy staan oorkant haar in die oprit. Hy begryp en knik instemmend terwyl hy sy bes probeer om simpatiek voor te kom. Simpatie. Dis yl gesaai deesdae in sy bedryf. ʼn Mens raak dinge gewoond, kyk verby die seer en pyn wat deur klein goedjies soos dié saak veroorsaak is en word al minder geraak deur enigiets wat nie ʼn bloedbad en verminkte lyke insluit nie. En selfs dit raak ʼn mens seker ook na ʼn ruk gewoond.

“Mevrou, ek wens ek kon meer help, maar my werk hier is nou klaar.”

Oombliklik verander haar postuur. Hy het haar nou kwaad gemaak, weet hy, maar wat de joos kan sy meer van hom verwag as om net sy werk te doen en aan te gaan na die volgende saak?

“Sersant,” haar stem is amper ʼn hele oktaaf hoër as twee asemteue gelede, “ek kan nie jou werk namens jou doen nie.”

“Nee, Mevrou. En dit word ook nie verwag nie. Ek sê maar net dat die ding nou uit my hande is. Daar is baie inbrake. Dit is Suid-Afrika en dit is Gauteng, al is dit ook ʼn bietjie plattelands. Sulke goed gebeur daagliks…”

“Ek het vir jou twee leads gekry. Ooggetuies wat vir jou presies kan vertel wat alles gebeur het. Die oom hier oorkant die pad het tot ʼn foto van die bakkie wat hier was geneem – registrasieplaat en al – en die tannie langsaan het mooi gesien hoe die man lyk wat daaruit geklim het. Jy moet met hulle gaan praat. Hulle het gesê hulle sal hulle verklarings gee. Hulle wag vir jou. Loop praat sommer nou met hulle. Dit sal mos nie lang vat nie.”

“Mevrou, ek hanteer nie jou saak meer nie.” Die meegevoel in sy stem is eg, so ook die effense irritasie.

“Maar hulle verklarings sal jou help om die skelms te vang…” Haar woorde droog op terwyl haar oë klam word.

“Ai, Mevrou…” Wat doen ʼn man in so ʼn situasie? Stap hy nader om haar ʼn drukkie te gee, dan het hy môre dalk ʼn seksuele teisteringsaak teen hom. Doen hy niks en loop, het hy dalk ook ʼn klag teen sy naam. As die mense maar net kon verstaan…

“Mevrou, ongelukkig is dit hoe die dinge nou werk. Dis messed-up, ek weet. Maar nie ek of jy kan iets daaromtrent verander nie. Die saak is as afgehandel beskou, want daar is net te veel inbrake en ons kan nie alles hanteer nie. As daar later nog iets kom met dieselfde of soortgelyke inligting en omstandighede, sal ons weer daarna kyk. Intussen kan ek nie meer doen as wat ek klaar gedoen het nie.”

Terwyl sy na hom opkyk, kan hy sien dat sy sy woorde verstaan het en dit aanvaar. Dit is die deel wat hy haat… hy wens soms die mense wil meer baklei…

“Ek weet. Ek het net gedink daar is dalk ʼn kans om die skelms te vang.”

“Ek is jammer, Mevrou. Wees net bly dit was net ʼn paar elektroniese goed en nie jy nie.” Hy maak gereed om te groet en om te draai, voor sy sag antwoord:

“Maar dit was mý goed. Dit was in mý huis. En dit is mý privaatheid van geskend is.”

Terwyl hy in stilte terugstap na die patrolliemotor, bly haar laaste woorde in sy kop: “En wat as hulle besluit hulle wil terugkom vir die res?”

Advertisements

5 thoughts on “Onregverdig

Lewer kommentaar op perdebytjie Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s