Wat maak jou bang?

Sielsoekend, het ek vanmiddag terwyl ek my klerekas reggepak het, iets anders as klere gevind.

Dit is Oums se wankelrige houtleertjie waarop ek gestaan het. Ek, die perfeksionis met die baie onperfekte klerekas – ‘n letterlike “closet slob” – op ‘n leer wat al lendelam is, maar wat vir my so ontsaglik baie sentimentele waarde het.

Terwyl ek ‘n swart trui waarna ek al ‘n paar keer dié winter gesoek het uit ‘n agterste hoek van die boonste rak getrek het, het die leer net so effens op sy onvaste pote begin wankel. Die stapel netjies opgevoude klere wat ek op die boonste trappie maak staan het, het omgetuimel en alles het op die vloer geval. Ek het wanhopig na my kas se naaste rak gegryp en met dié die hele rak met vars gevoude en netjies gestapelde truie per ongeluk uitgepluk. (My kas se rakke skuif bloot in, dit is nie “vas” en onbeweegbaar nie.)

Ek het gelukkig nie geval nie, maar die hefte van my werk (ek het besluit om twee rakke klere vandag reg te pak) het wel. “Moerig” is nie ‘n sterk genoeg woord wat my op daardie oomblik akkuraat sou beskryf nie! Ek het gevloek. Die woord wat drie keer oor my lippe gerol het, was nie “dammit” nie. Soos ek stokmanagtig met bewende bene en wit kneukels vloer toe geklim het, het ek gewonder wat Oums sou doen as sy my gehoor het en of sy sou dreig om my mond met Sunlight seep uit te was. Sy het hoeka een keer. Dit was ook nie oor “dammit” nie.

Die rak is teruggeskuif. Die truie weer uitgeskud en opgevou, waarna dit minder netjies op die rak teruggepak is. Ek haat dit as sulke goed gebeur – iets onbepland, iets ontwrigtend, en as ek iets oor moet doen.

En toe tref dit my.

Wat maak jou bang?

Vir my? Ek dink ek is ‘n beheervraat. Ek spook en stoom en stoei ten alle koste om in beheer te wees van alles. Konstant. En eintlik put ek net myself daarmee uit. Of dit nou kaste en klere is wat ek regpak, vakansies en werksbeplanning of mense… dis asof ek beheer nodig het om te kan funsioneer.

Dit is egter nie die gebrek aan beheer wat my bang maak nie. Dit is die gevolg daarvan.

Verlies.

Ek is bang ek laat val en verloor dit waaraan ek tyd bestee het. Netjies opgevoude klere. Werk wat weens ‘n rekenaarprobleem weg is. Mense. Die gedagte dat ek mense kan verloor, maak my vreesbevange.

Maar wag nou eers! Ek verstaan dat mense vry moet wees en dit is wat ek almal in my lewe toewens, want beheer versmoor mense. Dit maak hulle dood. Ek bedoel dus geensins ek wil mense beheer (manipuleer?) nie. Ek bedoel ek dink ek wil in beheer wees van die situasie eerder as die mense.

Ek is so bang ek verloor beheer oor iets, dat die leer waarop ek staan onvas is en ek my balans verloor, en dat ek in die proses mense waarvoor ek diep lief is, ook sal verloor. Ek is bang ék maak droog en almal verdwyn. Want so flippen baie mense het al weens my eie oorgretigheid om alles te wil beheer, verdwyn.

Eintlik is ek net vrek bang vir “alleen”.

Advertisements

4 thoughts on “Wat maak jou bang?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s