Jou plek

Hoe werk dit dat elke stukkie van ‘n legkaart uniek is? Selfs met tientalle of duisende stukkies wat soortgelyk aan mekaar is, het elke enkele stukkie sy eie plek. Elke stukkie het net één plek, want die stukkies uniek in vorm en in kleur.

Ek wonder dikwels; eintlik al vir jare lank; oor my eie plek in dié legkaart waarin ek myself bevind. En skielik, vanaand, het ek hierdie ongelooflike aha-oomblik gekry.

Ek dink die kort en die lank van ‘n mens se plek eenvoudig dit is: dit gaan glad nie oor jou nie.

Dink ‘n bietjie daaroor. As jy klaar is, dink dan nog ‘n bietjie (… want Strooi praat dalk nou vir ‘n slag regtig nié strooi nie).

Besef jy dat jy slegs sal inpas op ‘n plek waar al die stukkies om jou vir jou plek maak? Besef jy dat hulle so perfek en uniek soos jy gevorm is, juis sodat jy daar kan hoort? Verstaan jy dus dat jou ‘inpas’ eintlik deur die stukkies rondom jou se vorm en kleur bepaal word; nie deur joune nie?

Vir so lank het ek vir myself baklei, myself verdedig en so dikwels myself probeer regverdig. Hoekom? Sodat ek beter kan inpas by plekke waar ek my hoeke moes skaaf en stukkies van my binnekant moes breek. Ek het gevoel dat ek selfs sommige van my kleure moes verander of selfs kleur moes weggooi. Dit alles om in te pas waar ek só verskriklik graag wou. By die werk, in my familie, tussen sommige vriende… en steeds het ek kort-kort tot die besef gekom dat ek dit eintlik net nie kan regkry om in te pas nie. Ek het gedink ek het ‘n plek gehad, of eerder dat ek vir myself ‘n plek gemaak het, maar dalk was ek verkeerd.

So nou dink ek in hierdie toestand van aha waarin ek tans verkeer, miskien moet ek ophou om dinge te forseer. En, net dalk, moet ek ophou om myself te probeer verander om op ‘n plek in te pas waar ek myself moet breek en vervorm. Dalk het “my plek” absoluut niks te doen met my nie, maar eerder alles te doen met die mense om my en hulle bereidwilligheid om te vergewe en te aanvaar en my toe te laat om myself te kan wees – skewe hoeke en al! Want my skewe hoeke pas perfek by hulle s’n en saam maak ons inperfeksies ‘n perfekte prentjie.

Dalk soek ek nog al die jare verkeerdelik na ‘n plek. Dalk is die plek waar ‘n mens hoort glad nie eers ‘n plek nie, maar eintlik net ‘n iemand.

Maar dis net iets om oor te dink.

Advertisements

6 thoughts on “Jou plek

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s