Asem!

‘n Wilde wragtig. Dis wat Oums my genoem het as ek soos ‘n warrelwind deur die huis getrek het. ‘n Meisiekind wat nie mooi weet wie of wat sy is nie, maar wat nietemin deur ‘n wil van staal regeer word. Ek het as kind veel eerder Oups se troetelname verkies; veral Rabbedoe – dit was die opwindendste een. Tog was Oums se naam seker meer gepas.

Ek het grootgeword in ‘n familie wat baie ryklik geseën is met seuns. Nét seuns! Vir baie lank was ek die enigste meisiekind in ‘n groot en uitgebreide familie.

Alleen? Glad nie! Ek kan nie dink aan lekkerder tye as wanneer He-Man en GI Joe vir Barbie van die army midgets gered het nie… totdat Barbie eintlik as die meesterbrein in die saga uitgedraai het en die seuns nie meer wou saamspeel as Barbie se handlangers nie. Daar was ook die tyd toe ons Cowboys en Crooks gespeel het en ek altyd as ‘n hulpelose damsel in distress gered moes word… net om op ‘n oomblik wat hy dit nie verwag nie, sy geweer af te vat en sy goud te steel… of om te ontsnap en waardevolle inligting as dubbele agent aan die skelms te verkoop.

Om as die enigste dogtertjie tussen ‘n klomp rowwe jacks groot te moes word, was nie altyd maklik nie en ek moes van kleins af leer om op my voete te dink en vinnig op te tree as ek die seuns my staal wou wys.

Dit het egter ook dikwels gebeur dat ek self onseker was van wie ek is en wat ek wil hê. Die doel, bestemming en hoe ek dit gaan kry het meerendeels eintlik maar so mettertyd en per ongeluk ontwikkel, eerder as dat ek daaraan beplan het.

Ek onthou vanaand hoe ek eendag, toe ek skaars ‘n tuinmuurtjie hoog was, met mag en mening teen ‘n nefie baklei het vir ‘n swaard. Ons het een of ander speletjie met middeleeuse karakters gespeel en ek was net mooi keelvol om so soetjies met netjiese gevlegde haartjies en rokkie op my plek te sit met my handjies gevou en my skoon gesiggie engelagtig.

Soos die rebel wat ek vandag steeds is, het ek my kans gewaag toe die “prins” naderkom. Sy swaard sou myne wees…!

Hoe dit gebeur het, weet ek tot nou toe steeds nie. Ek onthou net hoe dit gevoel het:

Ek was op my rug en ek kon nie regop kom nie. My blad het gepyn. Álles het gepyn. Daar was swart kolle voor my. Ek kon dit nie regkry om my asem eers vlak in te trek nie.

Om ‘n mens se asem uit te val, is moeilik om te beskryf. Soos so baie ander dinge, is dit een van daardie goed wat jy net sal verstaan as dit jou al oorgekom het. So as dit nog nooit met jou gebeur het nie, glo my… dis nie lekker nie en dis glad nie maklik nie.

Om só op die grond te lê; seer en broos en skaam oor die nederlaag; is gelyktydig vernederend en angswekkend. Tog is die gedagte dat jy nie kan asemhaal nie selfs erger.

En dán? Dan baklei jy skielik nie meer vir ‘n swaard nie. Jy baklei teen swart kolle wat al groter word en nader kom. Jy baklei teen pyn wat jou wil laat opkrul tot ‘n bolletjie. Jy baklei teen asemnood… jy baklei vir suurstof. Vir lewe.

Hulle sê wanneer jy iets verloor of weet hoe jou lewe daarsonder sal wees, dit mis en besluit dat jy dit terug wil hê, dan besef jy wat veggees is en waarvan jou binnegoed gemaak is.

Ek het my asem daardie dag teruggekry. Dit was moeite en ‘n aanvanklike gespartel. Maar ek het. ‘n Swaard ook. Maar meer as enigiets – ek het geleer om te baklei vir iets wat so klein is dat baie mense daarvan kan vergeet. Tog is dit ook só ontsaglik groot.

Veg vir asem!

As klein dogterjie het dit met my gebeur, en as volwasse vrou maak dit nou vir die eerste keer vir my sin. Ons het asem nodig. Daarsonder sou die pyn en swart kolle ons opvreet. En ja; soms gebeur dit dat die lewe jou op jou rug gooi en dit wat jy nodig het om “reg” te wees uit jou uitsuig… maar jy kan steeds veg. Niks keer jou nie. Dis immers jóú asem. So vat dit terug.

(Spesiaal vir iemand wat besig is om te veg en op te staan. Respek… Haal nou asem en weet dat jy elke diep, vars teug suurstof verdien en dat ek jou nog baie moeitelose en gemaklike asemskep-oomblikke toewens.)

Advertisements

4 thoughts on “Asem!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s