Ek: ongeredigeer

Ek is bitter bang om vas te hou; banger selfs om te laat gaan. Soms dink ek na oor besluite wat ek geneem het en ek wonder dan hoe my lewe sou wees as ek nié gekies het wat ek wel gekies het nie. Dis seker niks snaaks nie. Almal wonder tog seker op een of ander stadium oor sulke goed.

Wil jy die waarheid hoor oor my skryfsels? Ek skryf sonder om enigiets te beplan. My bloginskrywings is eenvoudig een gedagte wat ná ‘n ander by my opkom en dan vind dit op een of ander manier neerslag hier net voor ek die “publish”-knoppie druk. Dis meestal rigtingloos en deurmekaar en ek het honderde ongepubliseerde gebrabbel wat ek self nie kop of stert van kan uitmaak nie. Maar die letters op die skerm is vir mý goed. Altyd. Dis terapie. En my ongepubliseerde goed is hier vir myself. Dis hartuitstortings wat ek te skaam is om met regte mense te deel, drome wat te wild is vir selfs ‘n wagwoord-beskermde inskrywing, en dit gaan dikwels oor die geraamtes in my kas en spoke in my kop wat my siel so tart dat ek soms wens ek kon net alles stil maak. Vir goed.

Soms wens ek egter dat ek méér van ‘n uitlaatklep gehad het. Meer as nét ‘n stomme blog wat skaars gelees word. Soms wens ek dat ek méér kon wees as wat ek is – al is dit net vir ‘n enkele iemand iewers. Maar wense en drome… beteken dit regtig op die ou einde iets?

Soms wens ek, ek was ‘n engel. Skoon en rein en amper perfek, wat goedheid bring en goeie nuus soos doilies in ‘n ouetehuis uitdeel. Maar ek is alles behalwe ‘n engel. Ek is gevlek en besmeer en ek is op die punt waar ek amper nie eers meer wil probeer om skoon te kom nie. Grys-wit met wynkolle, soos die tannie op die TV wat nog nie Vanish probeer het nie se eens wit rok. Maar Vanish werk nie vir dié vlekke van my nie.

En ek wens ek kon net hierdie één bloedkol uit my siel uitgewas kry. Net hierdie één wat dieper vlek en sommer brand. Ek wens ek kon net vir ‘n rukkie langer as ‘n oomblik iets anders as oorbodig voel. Ek wens woorde wat in my kop weergalm wil net stil word… en ek wens dat iemand my net styf kon vashou sodat ek hierdie histerie in my wat ek so hard probeer wegsteek, maar net erger word, net kan uithuil:

Ek was eintlik van die begin af ‘n fout. Ek is gebore as ‘n fout en ek haat dat mense my teenwoordigheid oorbodig vind. Om te hoor dat ek iemand hulle drome ontneem het, hulle lewe opgeneuk of vir hulle moeilikheid beteken maak my bang vir myself. Selfs al kom dit van iemand wat my nie ken nie, laat dit my voel soos die monster wat ek nooit wou wees nie; die een waarvoor ek self nog altyd bang is.

Op oomblikke soos dié wonder ek of en nie eerder net alles en almal moet laat gaan nie. Ek is bitter bang om vas te hou en mense se lewens verder te verdring; banger selfs om hulle te laat gaan.

Advertisements

10 thoughts on “Ek: ongeredigeer

  1. Ek dink ons almal voel partykeer SO. Weggegooi en vergete. Dan draai al daardie verkeerde keuses net makliker oor en oor in jou kop. Daai “wat as ek maar net…” En ja, ek dink almal van ons het al iewers in hulle lewens iets gedoen waaroor hulle baie spyt is en met hulle hele hartjie wens dat hulle die tyd kon terugdraai en dinge anders doen. Almal van ons het al soos `n monster’tjie met skerp kloue gevoel oor iets wat ons miskien in `n oomblik van onsinnige woede gesê het. Ons almal het al gewens vir emosionele Vanish…

    Maar ons kan dit nie verander nie. Ons kan nie verlore tyd terugbring nie. Ons kan wel probeer vrede maak daarmee. (Ek kan nie vir jou sê HOE daai vrede ding werk nie, as jy die resep kry, deel hom asseblief met my ook)

    Al wat ek wel vir jou kan sê, is dat jy NIE ‘n fout was NIE. Jy beteken baie meer as wat jy besef. Jy doen die beste wat jy kan… En dit is genoeg. Jy is wonderlik net soos jy is – die oulike “koekies bak en hekel maatjie” SAAM met die “Monster’tjie” oomblikke maak jou spesiniaal, en jy moet dit asseblief NOOIT vergeet nie.

    Liked by 2 people

  2. Sonstraaltjie is reg, ons voel almal partykeer so. En ons is almal mense, met “Wat as?” vrae, met issues, met foute. Vrede in jou hart kan net jy vir jouself bewerkstellig, niemand kan dit vir jou gee nie. Beste nuus ooit – as niemand jou kan gelukkig maak nie, kan niemand dit van jou af wegvat nie. Sterkte met jou pad. Weet dat jou skryfsels vir baie mense iets beteken. En publiseer daai diepste geheime, dit maak jou vry

    Liked by 2 people

  3. As ek na hierdie intelligente deurdagte skryfsel kyk, sien ek nie ‘n oorbodige mens of ‘n “fout” mens nie. Jy het fantastiese skryfvermoë. Ek dink jy dink heeltemal te min van jouself. Ek weet nie wat jou keuses was wat jou so ontsettend gevlek het nie, maar ek dink jy moet dit agter jou sit en aanbeweeg en ‘n nuwe mens word.

    Liked by 1 person

  4. Jou skryfsels maak my dag…jy is baie goed. Glo dit maar van iemand wat self deur daardie gevoelens moet stoei. Jy gee my krag om aan te hou skryf. Want jy laat my besef dat om ons binnegoed op papier neer te pen, dit ons eintlik deur elke dag dra.

    Liked by 2 people

    • Dit is so waar! Skryf is vir my die beste vorm van terapie, want jy gee jouself die geleentheid om na jouself te luister… soms nogal nodig.

      Dankie vir jou mooi woorde. Soms weet ek nie of ek met dié blog moet aanhou nie, maar dan kry ek sulke boodskappe en ek wéét dat ek nie moet ophou nie.

      Like

      • Soms voel mens elke tweede dag om op te gee…dan kom daar n ding oor ons pad om ons petrol te gee om aan te stoot…joune was vandag my 2 liter om tot by die pomp te kom…dankie

        Like

      • Dit is my grootste wens om jou sommer 20 pleks van 2 l se goeie brandstof te kan gee! (Jy het nie ‘n idee hoeveel hou boodskap vir my beteken nie… DANKIE!!!)

        Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s