‘n Les van ‘n langpad-speletjie

Toegewikkel in ‘n trui al skyn die son te lekker buite, met ‘n hoesie wat skielik (weens spanning?) erger as laas week is, sit ek voor my rekenaar. Ek moet werk. Ek weet ek moet. Maar my gedagtes dryf elders rond en ek sukkel om te fokus op al die getikte dinge met sperdatums.

Ek mis vandag my Oups. Alweer, eerder. Ek mis die manier waarop hy my altyd beter kon laat voel het – of dit nou ‘n siekmaakgogga of ‘n hartseermaker was – en my kon kry om stil te raak, te kalmeer, te fokus op die taak voor my en dan aan te beweeg. Oups was my knight in shining armour en hy kon regtig alles en enigiets met so min as ‘n glimlag of ‘n mooi woord regmaak. Hy het geen swaard gehad nie, want hy het nie geglo in geweld nie. Sy wapen was eerde sy goedhartigheid en sy diepgaande kennis van mense; iets wat ek streef om self te kan besit, maar wat eintlik nog totaal buite my bereik is.

Oups se uitkyk op die lewe was iets wat my van doerietyd af stomslaan. Vandag nog, as ek terugdink of per ongeluk iets onthou, voel ek half uit die veld geslaan oor die manier waarop hy duidelik probeer het om almal (en natuurlik vir my ook) probeer motiveer het om anders na die lewe te kyk; meer positief en met meer aanvaarding dat ‘n mens iets goeds uit alles kan haal. Dit is ‘n lewensles wat my al baie gehelp het, maar soms is dit nie juis maklik om die mooi in iets leliks te sien of die positiewe uit ‘n goor situasie te soek nie.

Een jaar, toe ons vir ons jaarlikse April-vakansie na ons gewone vakansiebestemming op Shelly Beach aan die Natalse Suidkus gery het, het ek myself nogal baie soos Donkey in Shrek gedra. Die konstante vrae of ons al naby is, het kort na ons by die huis weggetrek het reeds begin en die tydsverloop tussen dié vrae en skimpe het al korter en korter geword. Ek was opgewonde en ek kon nie wag om my tone daar in die goue sand te gaan omkrul, skulpies op te tel en tussen die rotse saam met Oups te gaan soek vir al wat ‘n seedier is nie. Die huisie wat so teenaan die strand gestaan het, was vir my soos ‘n stukkie hemel op aarde en al het Oums op ‘n stadium gesê dit raak ‘n vervelige spul om elke jaar na dieselfde plek te gaan, het dit juis oor die bekendheid vir my soos ‘n tweede tuiste eerder as ‘n vakansieplek begin voel. Ek dink nou nog aan Shelly Beach as ‘n plek waar ‘n mens gehaltetyd saam kan spandeer, interessante goedjies saam met jou mense kan doen, kan afskakel en net jou batterye kan herlaai (hoewel ek hoor dat dit deesdae baie besiger is as wat dit so 30 jaar gelede was).

In elk geval, met die langpad af kus toe het ons speletjies gespeel. Tipiese kar-goed, soos “my kleine ogies sien iets wat dié kleur is”, ‘n aangepaste weergawe van “name, diere en dorpe”, soms het Oups van sy (uiters kreatiewe of aangedikte) verhale van sy kleintyd of opgemaakte stories van Jakkals en Wolf vertel, en soms het almal in die kar probeer raai watter kleur kar volgende verby ons gaan ry, hoeveel mense in daardie kar gaan wees of van watter dorp daardie kar is (want donkiejare terug kon ‘n mens dit ook mos op die Transvaalse nommerplate sien, soos steeds vandag op ‘n manier in die Kaap die geval is).

Om een of ander rede, en ek kon as goedgelowige kind glad nie verstaan het waarom nie, het Oups altyd met hierdie laaste speletjie gewen. Elke… liewe… keer. Ek was as gevolg hiervan selfs tot ná sy dood daarvan oortuig dat hy op een of ander manier die toekoms kon sien; of minstens deeltjies daarvan. Hoe dan anders? Dit sou ook sy oneindige insig in die lewe en mense op ‘n manier kon verklaar. En sy positiewe uitkyk, want hy kon mos sien dat alles op die ou einde uitwerk.

Eers toe ek effens ouer word, het dit my getref: die kar se kant- en truspieëltjie! Natuurlik het ek ook vir weke na hierdie gewaarwording soos ‘n totale sot gevoel. Dalk was ek ook vir ‘n rukkie ‘n bietjie seergemaak, maar dit wás Oups en daar was nog nooit sprake van te lank vies wees vir hom nie.

(En terwyl ek hier skryf, tref dit my nou dat hierdie bloginskrywing ‘n heeltemalle ander rigting inslaan as wat ek aanvanklik beplan het.)

Ek dink Oups het onwetend vir my ‘n groot ding geleer met hierdie speletjie, en dit is ‘n les wat ek nou eers as oorryp dertiger hier besef.

Dit is dikwels nodig om terug te kyk sodat jy jou toekoms kan sien.

In die lewe is dit nie nodig om jou kar in tru-rat te gooi en agteruit te ry om te sien wat agter jou is nie. Jy kan eenvoudig jou spieëltjies gebruik. Die lewe, soos enige behoorlike kar, is ten volle toegerus met allerhande thingamadjiengs om dit te kán doen. ‘n Mens moet dit net gebruik. Ja, soms gebeur dit dat ‘n mens ‘n onaangenaamheid of ‘n kar met ‘n baie skel kleur sien aankom en soms kan die aankoms van ‘n oorlogtrok ‘n mens effens ontnugter en bang maak. Maar in die meeste gevalle is dit tog nodig om terug te kyk, te aanvaar waar jy vandaan kom, en dit te gebruik om jou voor te berei vir wat aan die kom is. Soms is dit nodig om van dit wat agter jou is bewus te wees, sodat jy weet wat jy in die toekoms kan verwag en jou besluite daarvolgens te rig.

Maar soos die stuitige kind in my sukkel ek soms hiermee. Ek wil nie altyd die spieëltjies terug gebruik nie, omdat ek so gefokus is op wat voor my lê. Plus, soms maak die verlede en alles wat agter my is, my niks anders as bang nie. En nou, soos met daardie langpad Natal toe, is ek nie juis te veel gepla oor die kleur van die volgende kar wat verbyry of die aantal mense daarin nie. Ek kyk na die opdraande voor my en ek hou duim vas dat ek die see sal kan sien as ek bo kom.

En ek wens Oups kon nou in sy sagte stem wat teoetel, troos en beskerm sê “dis nou baie amper” as ek weer vra:

“Is ons nog nie al amper daar nie?”

Advertisements

5 thoughts on “‘n Les van ‘n langpad-speletjie

  1. Jou oupa was ‘n wyse man en jy het goed geleer by hom, nou moet jy dit net toepas. Wanneer jy oor 5 jaar terugkyk op die tyd van jou lewe, belowe ek dit gaan net ‘n sinnetjie wees en nie ‘n hele storie nie. Sterkte

    Liked by 1 person

  2. Ek reken tog jy het heelwat van jou Oups gekry. Miskien het jy dieselfde kalmeerende en wysigheid wat jy toepas op iemand nader aan jou.
    Jy is reg- mens moet soms van die tru-spieēltjies gebruik maak in onse eie lewens en onthou ‘hoe vêr het ons gekom’. Die verlede kan ons nie meer bang maak nie – net sterker.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s