Met ‘n witbrood onder die arm

Ek het nou al vir ʼn paar dae lank ʼn craving vir iets wat ek altyd as kind saam met Oups geëet het. ʼn Dubbel-dik sny witbrood. Maar nie sommer net enige brood nie.

Ek is lus vir plaasbrood; boerebrood; nie die klaar gesnyde papierdun snytjies fabriekbrood wat ʼn mens oral in natgeswete plastieksakkies kry nie. Régte brood in ʼn bruin papiersakkie, met daardie tuisgebakte reuk wat selfs getroue glutenvryes laat kwyl. As jy die snye sny, dan moet die stoom sommer so trek. Die mes moet so krap-krap deur die korsie en dit effens laat krummel om te wys dat dié stukkie lekkerte varser as vars is.

Natuurlik vra so ʼn sny vir botter. En néé; botter en margarien is nie dieselfde ding nie. Botter is gekarringde room waarby sout gevoeg is, terwyl margarien eintlik maar net gegeurde en gekleurde slapplastiek is wat nie behoorlik wou verhard nie. So ek praat van regte botter, en dit moet sommer so opgepleister wees en so half in die lieflike sagte wit “fluff” begin intrek sodra jy die smeermes neersit. Plek-plek moet dit sommer tot ʼn diep geel kleur smelt.

Brood en botter. Net so, saam met ʼn glas yskoue melk. Nie die afgewaterde soort wat jou tee ʼn siekerige blou kleur gee nie; volroom melk wat uit ʼn bottel pleks van ʼn pakkie uit kom. Die régte goed!

Daar is iets aan so ʼn vars witbrood met botter en melk wat my nostalgies maak. Dit was een van my en Oups se gunsteling “snacks”. Natuurlik, soos met enige smelt-in-die-mond-oomblik, het Oups die gewoonte gehad om iets daaraan te koppel wat my vir die res van my lewe sou bybly, en dié was geen uitsondering nie.

Witbrood en botter was seker op ʼn manier Oups se “Thanks giving”. Met elke sny brood het ons iets genoem waarvoor ons dankbaar was, en hoewel die snye dik was, was hulle ook baie. ʼn Mens kan dus sê dat ek en Oups gereeld baie dankbaar was. Dit het nie maklik gebeur dat daar veel van so ʼn brood oorgebly het as ons eers begin smul het nie. Selfs die korsies (een vir my en een vir Oups) is verorber, maar dit is gelos tot heel laaste, want netnou bly daar wel ʼn stukkie brood oor. Die korsies aan die kort kante is gebruik om die res van die brood vars te hou, maar as dit geen doel gedien het nie (omdat die brood op was), moes dit instaan as poeding – vars witbrood met gouestroop!

Ek onthou egter ʼn tyd, lank na Oups se dood, wat dinge nie juis goed gegaan het in ons huis nie. My pa het sy werk verloor (weens sy eie doen en late, wat ek nie nou hier wil bespreek nie) en hy was ook amper nooit tuis nie (lees: het hoofsaaklik sy laaste bietjie geld op sy “vriendin/ne” spandeer, eerder as om werk te soek of ʼn oomblik van sy tyd op sy gesin te mors). My ma was depressief en het haarself 24/7 oor ons finansiële situasie bekommer. My ouma (by wie my ouers ingetrek het toe dit begin sleg gaan het) het hard probeer om te sorg en te versorg waar sy kon. Nou dat ek terugdink aan daardie tyd, besef ek net weer hoe onregverdig dit teenoor haar was.

In hierdie tyd was ek reeds ʼn student. Dinge was nie altyd maklik nie, en omdat ek te trots was om enigiets te wys of te sê, het niemand ook geweet wat alles by die huis aangaan nie. Beursgeld en aflewerings (koerante en tydskrifte) en hier en daar deeltydse werkies het vir my studies betaal, en mettertyd ook vir kos.

Ek kry my hardkoppigheid van my ouma af. My trots ook. Dit is waarom ek baie goed verstaan het dat sy nooit geld van my wou aanvaar om kos te koop nie. Doerietyd het ek nie veel spaargeld oor gehad nadat ek al my eie finansiële verpligtinge nagekom het nie, so ek moes vinnig leer waar ek bekostigbare vleis en gevriesde groente kon koop en hoe om dit skelm in die vrieskas in te smokkel.

“Haai,” onthou ek my Oums se verbasing. “Ek het hierdie pakkie ‘mince’ nou die dag misgekyk!”

Dan sou sy dit uithaal onder die “ice bricks” waar ek dit weggesteek het (want om dit oop en bloot in die vrieskas te gesit het, sou haar mos agterdogtig maak), dit ontvries en met groot sorg gaargemaak. Haar oondgebakte maalvleisballetjies met “gravy”, krakerig-gebakte aartappels, boereboontjies en soetwortels is iets waarna ek deesdae kort-kort verlang.

Natuurlik was dit nie nét maalvleis nie. Daar was ook wors, “tenderised steak”, hoenderporsies… Dit was nooit duur vleis nie, maar daar was altyd iets in die bodemlose vrieskas as ʼn mens net mooi genoeg gesoek het op die regte tyd.

Dit het ʼn hele paar maande só aangegaan. Oums het begin agterkom wat aan die gang is, maar ek dink sy was te dankbaar om iets daaroor te sê. Tot op ʼn dag wat sy my uitgevang het.

Ek het tussen klasse gou winkel toe gery om ietsie te koop. Die hele winkel het geruik na varsgebakte witbrood en ek wou nie loop sonder een nie. Met ʼn pakkie kookvleis, klein houertjie botter, melk en die stomende brood, het ek amper huis toe gejaag. In my opgewondenheid oor die brood het ek egter die vleis in die sakkie op die tafel vergeet, en met dié dat Oums in die kombuis ingestap het om te kom uitvind wat so heerlik ruik, het sy my betrap.

Ek is onder kruisverhoor geplaas en sy kon toe vir die eerste keer verstaan waarom ek oor vakansies en langnaweke so angstig was om ekstra aflewerings oor te neem as my “kollegas” (koerant-trawante) weggegaan het met vakansie. Sy het gehoor waarom ek die laat skofte vir assistentwerk by die universiteit hanteer het (want die dosent was bereid om ʼn klein bietjie meer daarvoor as die ander skofte te betaal).

Eers was sy kwaad, maar toe het sy gehoor. En sy het verstaan. Ons het albei saggies gehuil terwyl ons in stilte die brood en botter snytjie vir snytjie geëet het; elkeen met ʼn glas melk wat gehelp het om die ongemaklike knop in ons kele weg te kry.

Toe ons klaar was, het sy die vleis in die yskas gaan sit en voor my kom staan. Die klein ronde vroutjie wat so kwaai kon wees, maar ook so sag en innemend…

“Dankie.”

Voor nog trane kon kom, het ek opgestaan en haar ʼn drukkie gegee. In haar lewe het sy so verskriklik baie vir my gedoen en ek het gewens dat ek méér vir haar kon doen as ʼn pakkie vleis elke af en toe.

“Ek stem saam. Die brood was lekker.”

“Onthou jy jou Oupa…?” Haar stem het sommer so gebreek.

“Ek sal hom nooit vergeet nie.”

En in daardie oomblik het ek geweet dat sy dankbaar was vir die vleis én vir die brood. Maar waarvoor sy eintlik dankie wou sê, was die herinnering aan haar een en enigste liefde.

Sy het die stukkie brood wat nog op die hout snyplank gelê het so gekyk, omgedraai, en die gouestroop uit die hoekkas gehaal.

“Kom. Ons mag nie met kos mors nie.”

Hulle sê ʼn mens moenie kla met ʼn witbrood onder die arm nie. Ons het ook nie. Nooit nie. Al het dit hoe sleg gegaan, het ons vrieskas altyd kos in gehad en ons kon altyd betaal wat betaal moes word. Maar ons het veral nie op daardie dag gekla nie. Veral nie toe die witbrood die mooiste en beste herinneringe weer laat leef het nie.

Advertisements

2 thoughts on “Met ‘n witbrood onder die arm

Lewer kommentaar op aj vosse Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s