Toiletpapier

So… ek is seker dat ek nie al persoon is wat dit oorkom nie. Ná ‘n vlug, maak nie saak hoe kort of hoe lank dit was nie, móét ek gaan piepie. Of dit nou psigologies of fisiologies is; dit ís nietemin. Dit is asof my liggaam ná die ligte spanning van soms erge turbulensie die oomblik wat my voete die aarde onder my voel ontspan… en my blaas ontspan saam.

Dit was geen uitsondering ná ‘n onlangse vlug nie. Ek het skaars my tas gekry, toe moes ek hardloop. Ek is seker dat ‘n paar omstanders die korrekte afleiding kon maak en dat my truppels, ongeduld en waterige oë simptomaties my penarie verklap het:

Ek was in nood en die nood was groot!

Met ‘n oorgroot tas propvol klere waarvan ek net die helfte gedra het (ek moet dit nog eendag regkry om vir net soveel dae te pak as wat ek weggaan, nie drie keer meer dae nie), handsak en rekenaarsak was dit uitdagend om ‘n klein badkamerhokkie se deur toe te kry. Maar dit was doenbaar terwyl ek letterlik in twee gevou het soos wat ek geknyp het.

Met dié dat my denim se knoop losgekom het, het my oog dit gevang… enige vrou in nood (en sommige mans in sekere soorte nood) se grootste nagmerrie…

Geen freakin toiletpapier nie!

Siende dat ek daarvan oortuig was dat ek my laaste tissue vroeër die dag reeds gebruik het, het ek nou met ‘n oopgeknoopte denim by die hokkie uitgetrippel tot by een wat wel ‘n rolletjie wit genade in die houer langs die marmertroon gehad het.

Broek!

Briek (my benaming vir die vreemde yoga-posisie, want sit is dit beslis nie)!

Hemelse ontspanning terwyl engelekore dankbaar sing…!

Dit was op daardie oomblik wat ek besef het dat dié badkamerhokkie se genadepapier sommer nog ‘n vol rol is. Nuut. Vars. Ongeskonde? Die eerste stukkie papier sit sommer nog so vas aan die res van die rol… om die waarheid te sê, daardie beginpunt was eintlik nogal moeilik om te kry. Só moeilik dat dit sommer hierdie skryfsel geïnspireer het!

Ek weet nie van jou nie, maar om daardie eerste blokkie van ‘n nuwe rol toiletpapier los te kry is ‘n kuns wat ek nog moet bemeester. Onmoontlik is nie die woord nie en meer as ‘n wonderwerk is daarvoor nodig.

Vyf piepies se toiletpapier later, was ek uiteindelik klaar en die rolletjie weer netjies.

Hierdie is egter nie nét ‘n skryfsel oor ‘n nood en toiletpapier nie (jy moet my tog al beter ken as dit)! Ek het vandag weer aan die toiletpapier-ding gedink (jy kan self dink waarom)… én dit het my verder laat dink…

Dalk klink dit nou nes ‘n erg geforseerde vergelyking, maar vandag het ek vir ‘n oomblik gedink dat die lewe eintluk nes ‘n badkamerhokkie en ‘n rol toiletpapier is.

Soms moet jy geforseerd die eerste keuse wat jou gebied word aangryp, net om feitlik dadelik te besef dat dit dalk nie die heel beste besluit was nie. Dit kos moed, spanning en (erm) potensiële ongelukke (gelukkig nie in my storie nie) om dan op te staan en vir nuwe of beter geleenthede te soek.

As jy eers die regte geleentheid gekry en gedink het dat alles nou in plek sal val, is daar dikwels ‘n volgende verrassing… ‘n nuwe uitdaging… en soms vat dit ‘n tydjie om iets van daardie uitdaging te maak. Maar tog. Dit is daar om gebruik te word! Soms voel dit asof dit onmoontlik is, soms voel jy lus om in die bekendheid van jou lewe te grou vir ‘n maklike uitweg (kom ons sê net ek kan bevestig dat ek geen meer tissues in my handsak gehad het nie). Maar soms doen die lewe jou ‘n guns en dwing dit jou om juis die onbekende se geheime en potensiaal te ontrafel en dit te verken… en dán vervulling en sukses te kan geniet.

‘n Geforseerde vergelyking? Dalk. Maar vandag werk dit vir my!

Advertisements

11 thoughts on “Toiletpapier

  1. Dis ‘n besondere vergelyking! Hierdie is puik geskryf en ek het elke oomblik saam met jou beleef. Ek het al die kuns bemeester met daardie eerste blokkie toiletpapier…ek rip hom so met my duimnael van kant tot kant…werk soos ‘n bom!

    Liked by 1 person

  2. Ja toiletpapier, ek het die manier om alewig die 1 te kry wat nou net klaar is en dan moet ek die dekselse volgende 1 prober afkry nadat ek die leë rol afgeskeur het. Urg
    Mooi vergelyking en ek is bly dit gaan goed

    Like

  3. Wat ‘n wonderlike vergelyking. Ek het lekker gelag en dit was so lekker om elke oomblik saam met jou te beleef. Welgedaan !!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s