My bra, ek soek ‘n bra!

Ek het vandag vir die eerste keer sedert Oukersdag my kop in die byenes van ‘n winkel gaan insteek.

Dié wat my nou al “ken”, weet seker ek hou nie van winkels nie. Ek is ‘n lysiesmens wat sonder moeite met ‘n lysie by ‘n winkel kan instap en met presies dáárdie goed op die lysie kan uitstap (plus ‘n pakkie Rolos… dalk ‘n ekstra blikkie dry lemon). Ek is een van die min mense wat nog nooit enige vorm van therapy in retail kon sien nie. Die gemaal van mense wat plastiekgeld so elegant “swipe” sit my af. Boonop voel ek skuldig en asof ek tyd mors as ek so drentel van winkel tot winkel of rak tot rak.

Die rede waarom ek vandag die winkels ingevaar het, was egter goed gemotiveerd. My lysie het presies een item daarop gehad, maar dit was uitdagend om dit te kry… en daar is geen manier om dit anders te stel nie, so ek gaan dit net skryf:

Ek kort ‘n nuwe bra!

‘n Vleeskleurige een sonder rantjies en kantjies en kleure en some en dinge. Iets wat ‘n mens onder ‘n dun T-hemp kan aantrek sonder dat die wêreld kan sien wat jy onder aan het. Nie die soort wat jou sal laat voel of daar ‘n nuwe kontinentale kussing onder aan jou kort hangertjie vashaak nie, maar ook nou nie ‘n sportmodel wat jou sal laat simpatiseer met pannekoeke nie. En ook iets wat my nie sal dwing tot ‘n oortrokke rekening nie.

Mense, sommer mans en kinders ook, het julle ‘n benul hoe moeilik dit is om só iets te kry! Selfs in ‘n mall (wat eintlik maar net ‘n oorronde uitspraak van “mal” is) met honderde klerewinkels wat kamma-kastig iets van elke kleur en geur en grootte en snit vir elke smaak en gier het, is dit moeilik!

My eerste uitdaging was eenvoudig om my grootte te kry. Vir ‘n kortstondige oomblik het ek gedink dat elke nommer behalwe ‘n 34C nog gemaak word. Ek het my asem ingetrek en ‘n kleiner nommer (32C) in ‘n snit wat sou kon werk probeer, maar die bandjie om my lyf wou nie eers vas nie. Met ‘n 34B lyk dit of ek uitpeul oor die koppies, soos die mense lief is om in Wallmart te doen, en met ‘n 34D voel ek soos iemand wat vir ‘n onderhoud in Finding Nemo moet gaan. Die groter nommer is te los om my lyf…

Kort voor moedverloor, het ek ‘n bra perongeluk raakgesien. Toe ek die towergrootte op die etiket sien, het ek dit van die rakkie af gepluk soos wat ek seker is Adam en Eva met daardie mooi rooi appels in die Tuin gemaak het. In die aanpaskamer wou ek dans toe dié kleine stukkie lap perfek pas. Ek het weer aangetrek en gaan kyk of ek nog een kon kry (ek was egter nie só gelukkig nie) en toe in die betaalry gaan staan. Vur maklik ‘n halfuur lank het ek so liggies gehop van blydskap… tot ek voor gekom het.

“That will be R558, thank you!”

Die oorvriendelike vrou agter die rekenaar het ‘n bietjie te breed geglimlag. My tweede uitdaging het pas sy kop uitgesteek… die prys.

“Ekskuus?”

Sy het die kaart uit my hand geneem voor ek meer woorde kon uitkry en ek het gestaar na die syfers op die rekenaar se klein skermpie. Vyf. Vyf. Agt. Punt. Nul. Nul.

“Sorry. Are you sure about that price?”

Die tannie agter my snork hard om my aan te por.

“Yeeeees…?” Haar glimlag lyk nog net soos netnou. Dit is dalk ge-botox.

Ek wil dit nie doen nie, maar ek gaan… Ek kan nie daardie prys betaal vir R50 se lap nie. Al is dit die laaste bra op aarde… in daardie grootte. Ek sal iets anders soek… dit dalk met snesies en watte opstop. Of iets.

“Sorry. Please cancel te transaction.”

“Sure!”

Dis toe nié botox nie… die glimlag verdwyn en die frons verskyn en ek maak myself skaars.

Ek is huis toe sonder ‘n bra en google al van vanmiddag af vir aanlyn-onderklere. Maar dis steeds ‘n uitdaging. Want hoe weet ek dit gaan pas? En almal weet seker… US, UK en China se 34C’s is nie dieselfde groottes nie… #moedinmybracup

Die troosprys-toppie (want klerewinkels verkoop nie dry lemon nie) sit darem mooi… maar sal ook beter lyk met ‘n eenvoudige vleeskleurige bra daaronder.

So ek het pas besluit dat my groot uitdaging vir die jaar vir nou eers nét dit sal wees:


Shopping list:

Vleeskleurige bra wat pas en minder as drie pare skoene kos ✔


Advertisements

14 thoughts on “My bra, ek soek ‘n bra!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s