Kersverset

Ek is jammer hieroor; veral net ná die baie mooi artikel wat ek vroeër gedeel het. My emosies het my vanaand onverhoeds betrap en gedoop in ‘n bitter ou vrou se gemoed en ek sukkel hier op my badkamermatjie wat reeds vol ronde nat kolletjies geplof is om hier uit te kom. Is dit hoe depressie voel? Is dit hoe soveel mense oor Kerstyd voel? Vanaand verstaan ek waarom die “feestyd” so fataal is.


Terwyl die wêreld gereed maak vir Kersfees; vir gee en ontvang van geskenke in alle vorme; is dit die eerste Kersfees wat ek nie eers ‘n Kersboom opgeslaan het nie. Die Kersfeesliedjies wat in winkels speel maak my moeg. Die mense wat hulle jaarlikse wense van voorspoed stuur, laat my twyfel in hulle opregtheid. Algehele verset oor die sogenaamde feestyd stoot vanaand soos die gevolg van te veel goedkoop drank in my keel op en dit walg my.

Oor twee dae (korreksie… môre) is dit Kersfees. “Wees dankbaar,” sê die hulle wat altyd so wys is. Maar waarvoor?

Vir vriende en familie wat hulle blindstaar aan die pragtige beeld wat jou dooie huwelik uitstraal. Wat te besig is vir ‘n vinnige “hallo” en nie regtig belangstel in wat volg ná “hoe gaan dit?” nie.

Vir die wete dat jy in jou hart en in jou menswees meer flenters as ooit tevore is, en dat jy bang is dat dié pad waarop jy tans is net ‘n vinnige afdraende na nêrens is nie.

Vir drie en ‘n half jaar se baklei vir iets waarin nét jy nog glo, maar waarin jy vinniger as ooit alle hoop verloor. Want jy is mens. En jy is moeg. En jy kan nie meer alleen baklei nie. En dalk moet jy ook dié hoop en gepleisterde vertroue begrawe.

Vir ‘n man wat deur jou kyk en wie se lewe soveel lekkerder en eenvoudiger sónder jou daarin sou wees. Een wat gril as hy aan jou vat en prontuit nee sê en wegloop as jy elke greintjie moed bymekaarskraap en met asseblief en omkoop en al vra vir nét ‘n drukkie. Die een persoon wat steeds jou alles is… al weet jy, jy is eintlik al vir baie lank sy niks.

My enigste Kersfeeswens vanjaar is dat Kersfees verby moet kom. Ek wens die gemaakte omgee van mense is klaar. En ek wens hierdie alleenheid is verby – daardie alleenheid wat onuithoudbaar word in ‘n skare mense. Daardie alleenheid wat jou verkleineer tot soebat vir geselskap by mense wat deur jou front kyk en jou desperaatheid sien… dit vir ‘n kort oomblik verduur. Ek het ‘n onkeerbare verset in my vanjaar. ‘n Bitterheid oor die waarheid: oor die valsheid van omgee, oor die selfvoldaanheid in wense en die klug van liefde.

En vir ‘n drukkie. ‘n Wens. Ek begeer meer as ooit ‘n drukkie wat nié net is omdat dit sosiaal korrek is of om een of ander rede vereis word nie. Een wat sal hou totdat al die rou seer en bitterheid uit my gestroom het om plek te maak vir iets anders. Een wat my net weer iets anders as dié wat ek nou voel (ek weet nie wat dit eers is nie) kan laat voel. Een wat my net vir ‘n kort rukkie weer so heel laat voel as die beeld wat ek vir die wêreld wys.

Maar dis nét wense. En dis nié een wat gaan waar word nie. Nie met dié Kersfees nie, in elk geval.

Advertisements

5 thoughts on “Kersverset

  1. 😦
    I can 100% relate…

    Vir my is Kersfees glad nie meer wat dit lank gelede was nie… Sonder my kinders is dit ‘n “leeg”.. ***verskoon my Afrikaans – Ek het lank oorsee gebly, en glad nie Afrikaans gepraat nie… 😦

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s