Die rusbank

As pasgetroudes het ons regtig nie veel gehad nie. Iets, maar amper niks. My man het ‘n huisie gekoop, hoewel ons nie ‘n paleis kon bekostig nie. Binne was die minimum: ‘n paar kombuisgoed, ‘n stokou TV waarvan die helfte van die beeld maar baie groen was, ‘n bed, yskas, tafel, twee opslaan tuinstoele en ‘n piekniekkombers… en ‘n linnekas vol handdoeke en Ppyrex-bakke (ook bekend as trougeskenk trends). Ek glo dat ons toe gelukkig was. Ek weet ek was. En dit was eintlik die lekkerste tyd van my lewe. Arm, maar so verskriklik ryk!

Dit was ‘n tyd van ongekunstelde drome.

Is dit simpel? My eerste en mooiste droom van huis-huis speel was die een van ‘n rusbank. Ons eerste regte rusbank.

As ek nou terugdink aan daardie drome, dan besef ek hoe naïef ek was om soveel in ‘n enkele meubelstuk te wou inlees. ‘n Rusbank van alle dinge! Tog het ‘n rusbank soveel vir my verteenwoordig.

Dit is daardie een meubelstuk waarin ‘n mens kan wegsink ná ‘n moeilike dag… die arms wat jou sal beskerm wanneer jy ‘n riller kyk en sal troos as daar ‘n tranetrekker op is… gemaklik genoeg vir lê en slaap, vry én kuier (verkieslik nie alles op dieselfde tyd nie), maar ongemaklik genoeg sodat dit nooit die bed sou vervang nie…

Vir my het ‘n rusbank wat ek self kon kies en koop ontsettend baie beteken. Ek het tog per slot van sake vas geglo dat ‘n rusbank iets verklap omtrent die mens wat dit besit. Dit is ‘n sielvolle ding wat die eienaar se persoonlikheid en karakter reflekteer soos wat ‘n spieël maar net kan wens om te doen.

Prentjies het in my kop gevorm. Die grootte, ontwerp, tipe oortreksel, kleur, soort pote, diepte van die sitplek, hoogte van die rugleuning, tipe armleuning… alles was kristalhelder in my kop.

En toe begin ek daardie rusbank soek.

Tot op hierdie dag was my soektog nog steeds nie suksesvol nie. Drie banke later, en daardie “sielsgenoot” ontwyk my steeds.

En ek moet bieg: die afgelope paar maande droom ek nie meer oor my rusbank nie. Eerder oor die mens wat net ‘n rusbank met my deel. Of eerder, wat dit wíl doen.

Pleks van die gemak van ‘n perfekte rusbank, mis die sielvolle gesprekke tussen twee mense wat ‘n bank deel. Ek mis die handevashou en die teenmekaarlê. Ek mis daardie uitnodiging om nader te skuif… die beskerming en onvoorwaardelike aanvaarding van ‘n arm wat jou vashou.

Dis snaaks hoe drome verander. En ironies genoeg… hier het ek gedink dié skryfsel sal oor ‘n rusbank gaan! En toe draai dit uit om eenvoudig te sê dat ek ‘n veer voel vir daardie rusbank. Ek mis die geselskap wat saam met die rusbank in die drome in my kop belowe is.

Advertisements

4 thoughts on “Die rusbank

  1. Ek sê nourie dag vir iemand: Jy weet, dis seker 1 van die goed wat ek die meeste mis van die X, hy het sommer so die kussings op die vloer gegooi, dan het ons op “sy” bank saam gelê en tv kyk. Gewoonlik meer gesels as gekyk. Aai
    Ek hoop jou droom word waar

    Liked by 2 people

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s