Die middeljare is ook nie vir sissies nie

Dit val my vanoggend by toe ek aantrek. Ek is nou aan die verkeerde kant van my dertigs. Volgens die WHO is die globale gemiddelde lewensverwagting vir die gewone mens so om en by 71 jaar. Vir Suid-Afrikaners is dit aansienlik laer, maar laat ek nou nie swartgallig raak nie. Dit beteken ek is nou net mooi middeljarig as ek myself aan die globale prentjie wil meet, en nader aan emmerskop as ek na die Suid-Afrikaanse prentjie kyk. Ag wat! So is die lewe, so is die lot… of so sê dié wat weet blykbaar.

Almal praat alewig van oudword wat nie vir sissies is nie. Met goeie rede, neem ek aan. Ek beskou myself egter nog nie as “oud” nie (hoewel my hare bewyse van wysheid toon). Maar kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: wat hulle die middeljare noem is ook nou nie juis maanskyn en rose nie! Op ‘n manier sou ek seker wat wou gee om weer ‘n stralende twintiger te kon wees – pragtig en vol passie oor ‘n blink toekoms vol avontuur. Ek het al baie gehoor dat mense sê jou dertigs is die beste tyd van jou lewe… maar ek wonder deesdae al meer daaroor.

Vir my het my dertigs ‘n tyd geword waar ek wonder of ek nou nog vir die res van my professionele loopbaan gaan wíl doen wat ek nou doen en of dit werklik genoeg is vir my. Sou ek besluit om te skuif, sal ek dit nou dadelik of minstens so gou moontlik moet doen, anders sou ek eenvoudig as “te oud” geklassifiseer word. Groot besluite in onsekere tye veroorsaak dat my kop in alle rigtings trek, want ek is nou nie meer so naïef as wat ek tien jaar gelede was nie. Ek verstaan die waarde van beplanning. Ek besef die waarde van finansiële sekuriteit. Ek weet wat ‘n groot verantwoordelikheid selfstandigheid impliseer. So terwyl almal my vertel het dat die dertigs ‘n wonderlike tyd is waarin jy versekerd is van jouself, is ek net daarvan seker dat ek onseker is. En wie weet… dalk is dit ook presies wat die wyse “hulle” ook eintlik nog altyd bedoel het.

Waarheen is ek op pad en is dié rigting regtig die moeite werd? Dit is ‘n vraag wat ek minstens een keer ‘n week vir myself afvra. Ek dink die onsekerheid oor my huidige ek maak my bang. Nie vir die hier en die nou nie, maar eerder bang vir my 70-jarige self. Ek wil nie terugkyk op ‘n lewe wat niksseggend was en vir niemand iets beteken het nie. En dan wonder ek… is ek dalk maar ook net een van die Generasie X-stuiptrekkings wat glo dat ek die wêreld (of hopelik net iemand in die wêreld) sal kan verander?

Die verkeerde kant van dertig het ook fisiese uitdagings. Om gewig te verloor is nie meer so maklik soos wat dit was nie. Ek word vinniger moeg ná wat ek tien jaar gelede as ‘n vroeë kuier sou bestempel. En alles sak. Alles! Van my binnebene tot my boude en… hou vas daai hoed… my borste.

Waarom moet ‘n mens se borste sak en plat word? Wat kan ‘n mens doen om dit te keer? Dis seker die fisiese verandering wat my die meeste vang. Veral vir my, want as iemand wat nog nooit veel van haar eie fisieke voorkoms gedink het nie, haarself allermins as aanloklik sou beskryf en vas glo dat daar nie veel is om na te kyk nie, het ek tog nog altyd gevoel dat my boebies nou nogal die een ding is wat nie té onaardig nie. Nie te groot nie. Nie te klein nie. Net reg.

En noudat ek so aan die karring is oor my lyf… Verduidelik tog vir my waarom verloor ‘n mens skielik as jy dertig tref nie meer gewig om jou heupe en bobene nie, maar juis daar waar jy skielik sou kon doen met ekstra… uhm… volume? Waarom bly my denim tot oorlopens toe vol en my bra se koppies al leër? Ek verstaan dit nie. En ek wil tog net nie as ‘n spitsberg doodgaan nie… klein afgeplatte pieke met ‘n soliede fondasie.

Oor die res van die fisiese veranderinge sal ek vir eers maar nie te veel sê nie. Dit begin nou eers, so ek sal nog vasbyt voor ek my mond daaroor ook uitspoel.

So vir nou is dit eers net dit. Die dertigs hou nie vir my vreeslike dirty dinge in nie. Net baie vrae. Hoofsaaklik vrae oor my sekere onsekerheid… en oor my boebies wat afblaas soos laasweek se helium-balonne!

Advertisements

8 thoughts on “Die middeljare is ook nie vir sissies nie

  1. Toe ek 30 geword het, het ek ook oor my lewe gedink. Gaan ek maar net ‘n boervrou wees wat saamry op die golwe of gaan ek iets vir myself doen?
    30 was vir my beslis ‘n beter plek as 20. En kan ek jou sê, ek het die 40s nog meer geniet, en geniet die 50s weer op ‘n nuwe manier.
    Ja wat, afsakking begin in die 30s, dis nou maar waar.
    Dis reg. Dink soms oor die lewe, oor waarmee jy besig is. Verander wat jy kan, aanvaar dit wat jy nie kan nie.
    Maar, die belangrikste van alles: Geniet elke dag. Maak die beste van elke dag. Geniet elke tydperk waarin jy is, voluit en jy sal nooit terugverlang nie.
    Middeljare begin op 40. 😁

    Liked by 1 person

  2. Terug pieng: Watter tyd is die beste? | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se blog

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s