Want ek síén jou

Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat dié ding wat ons “die lewe” gedoop het, ‘n fenomeen is wat ek net nie kan verstaan nie.

Al beplan ons dinge haarfyn vooruit is daar niks van die toekoms wat verseker of gewaarborg is nie. Ons kan die inspirerendste drome droom met die allermooiste lugkastele waarvoor ons nog net verf moet koop, en kristalhelder sien hoe ons eendag in die kleurvolle foto’s wat op die voorstoep daarvan geneem is, sal pruik. Ons kan besluite neem wat die toekoms sal beïnvloed sodat ons en die mense waarvoor ons lief is perfek by die mooi prentjie van die plan kan inpas, sodat dit beter sal wees vir ons en hulle… Maar ‘n plan op papier en ‘n droom in jou kop is nie altyd uitvoerbaar in die realiteit nie. En soms gebeur daardie ontnugterende onregverdigheid, en al jou drome en planne lê aan skerwe. Dis nogal crap.

So, nou sit ek met die vraagstuk:

Wat sê ‘n mens vir iemand wat so ontnugter is? Wat sê ‘n mens vir iemand naby jou wie se plan, prent of droom ontwrig is deur die onregverdige en wrede realiteit? Hoe help ‘n mens om iemand te sien dat daar wel ander planne is, ander foto’s, dat sy of haar droom dalk net ‘n aanpassing gekort het?

Ek weet van mense wat geliefdes met kanker het; die onsekerheid en pyn wat dit meebring en hoe dit die toekomsfoto’s laat verdof.

Ek weet van mense wat onseker is oor hulle huwelik en of die lewensmaat wat hulle gekies het, hulle ook nog oor ‘n paar maande van nou af sal terugkies; die vraag of daardie leemte dan vir altyd daar sal wees as ‘n pynvolle herinnering van dit wat nie sal wees nie.

Ek weet van mense wat familie, ouers, hartsvriende aan die dood moes afstaan; ‘n leë kamer in ‘n lugkasteel wat nie met die mooiste aardse besittings gevul kan word nie.

Ek weet van mense wat platgeslaan voel omdat die sekuriteit van ‘n beroep of loopbaan wreedaardig en sonder waarskuwing onder hulle voete uitgeruk is… en ek verstaan daardie gevoel van on-wees. Onbevoeg en onbekwaam; selfs om te dink aan droom.

Wat sê ‘n mens vir mense wat onseker en seer is ná so ‘n ontnugtering? En hoe op aarde help ‘n mens hulle om hulle kop op te lug en aan te hou droom, nie moed te verloor nie en steeds aan die helder foto’s wat die toekoms sál bied te beplan?

Ek weet nie. En dit is wat my vandag erg vang. Ek lewe nou al vir meer as 35 jaar en steeds het ek nie ‘n idee hoe hierdie ding wat ek doen, werk nie. Steeds het ek nie ‘n benul wat om te doen of hoe om te doen as hierdie ding nie uitwerk soos wat ons dink dit gaan nie. Steeds kan ek dit nie verstaan nie.

Al wat ek weet, is hoe om ‘n vriendin te wees. Iemand wat regtig en opreg uit die diepte van my hart so verskriklik baie omgee, dat ek die pyn van ontnugtering en onsekerheid intens in my lyf kan voel. So ek neem aan al wat ek kan doen, is om myself te wees en te sê:

Ek kyk na jou en ek sien iets wat jy nie (nou) kan sien nie. Ek sien iemand wat sterk is, omdat hulle al deur baie diep driwwe is, en wat hierdie situasie ook sal kan deurgaan en suksesvol aan die ander kant sal kan uitstap. Iemand wat soveel onontginde potensiaal het, wat so ontsettend baie het om te bied. Ja… selfs al wil jy dit dalk nie nou glo nie; weet net ek sien dit.

Ek kyk na jou en ek sien dat jou toekoms, ongeag jou onsekerheid en seer op die oomblik, só blink is; helder en mooi. Nie omdat jy dit verdien nie of omdat dit jou om watter rede ook al toekom nie, maar omdat ek wéét dat jy hieruit sál groei en dat jou toekoms mooi sál wees.

Ek kyk na jou en ek wens ek kon jou ‘n drukkie gee. Ek wens ek kon jou nou beter bystaan en dinge reg toor met die swaai van ‘n staffie of ‘n borrelende brousel, maar ek kan nie. Ek wens ek kon verstaan waarom die lewe ons soms met lelike dinge gooi, maar ek het nie ‘n idee nie. En ek wens ek het ‘n idee gehad wat om te sê of te doen om dinge net beter te maak… ek weet egter ek kan nie.

Al wat ek wel weet is dat jy uniek is, soos ‘n roos wat ek wil koester. Dat jy spesiaal is, soos ‘n prins(es) na wie ek opkyk. Dat jy sterker en beter is as wat jy dink. En dat hier iemand is wat vir jou omgee en regtig vir jou lief is.

Gee kans. Moenie ophou droom nie. Moenie ophou beplan nie. Moet jouself nie in die wreedheid van die oomblik verloor nie. En moet nooit vergeet nie… “it is only with the heart that one can see rightly; what is essential is invisible to the eye.”

Ek sien jou. Ek gee om vir jou. En ek is hier vir jou.

x

Advertisements

9 thoughts on “Want ek síén jou

  1. En dis wat jy sê, daai kursief gedrukte letters, wys dit vir hulle.
    Nege maande terug het ek begin stap op die moeilikste pad van my lewe en al was dit opdraend, kan ek vandag eerlik sê dat ek dit nie anders sou wou hê nie. Ek het in 9 maande meer van myself geleer as in 45 jaar

    Liked by 2 people

  2. As mens God wil laat lag, vertel hom jou planne.

    Wanneer mense my vertel van so situasie kan ek nie anders as om n bladsy uit my eie verhaal uit te haal nie.

    Ek het n plan gehad. Ek was so seker daarvan ook. Toe, deur die keuse van iemand anders, het die plan platgeval.

    Die ergste van alles? Dit het beide my en n ander persoon se lewe in hell verander! Vir twee jaar het dit al hoe donkerder gegaan. Meer en meer het verlore gegan. Tog het God n plan.

    Soos n ware kunstenaar het God wat skeef en lelik was herranskik om n kunswerk te vorm. Nie net het hy my gered van die donkerte nie, maar twee ander saam my ook.

    Een platgevalde plan het vier lewens handomkeer verander. Beste van alles? Daardie moeilike jare het almal betrokke sterker gemaak. Die son mòèt ondergaan sodat daar n blink nuwe dag kan kom.

    Pragtige stuk wat jy geskryf het! Met soveel liefde en empatie kan mens lig in baie donker plekke bring. Dit is my wens vir jou dat antwoorde vir jou natuurlik sal kom…

    Onthou ook… partykeer is n oor beter as n antwoord.

    Met beste wense
    Havoc

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s