Tjank

‘n Paar aande gelede geskryf. Dit was eintlik ‘n poging om iets te doen terwyl ek wag vir die slaap om te kom, maar die slaap het toe ook nooit gekom nie.


Iewers huil ‘n hond. Dit klink asof dit sommer net in die straat af kan wees. Terwyl ek wens dat ek kon slaap, lê ek en luister na die enigste geluid in vanaand se nag.

Snaaks hoeveel ‘n mens in een enkele geluid kan hoor. Hierdie getjank klink byvoorbeeld vir my asof dit uit die keel van ‘n medium-grootte hond kan kom. Dis egter ‘n volwasse stem, want daar is geen helium-effek daarin te bespeur nie. Uhm… waarskynlik ‘n tefie, hoewel sommige reuns ook maar deesdae fyn sopraanagtige stemmetjies het. (Dis seker van al die estrogeen en gifstowwe in nie-organiese kosse wat in die arme honde se bakke opeindig; sommige mans kom mos dieselfde oor en dan word daar studies oor hulle gedoen en artikels word in mediese joernale gepubliseer.) In elk geval… die hond is moontlik ‘n kruising. Die blaf klink effe onsuiwer. Taalkundig onkorrek, bedoel ek. Soos wat my een dosent alewig in my tweedejaar vir my geskryf het as ek na Engels toe vertaal het in die Vertaalkundeklas. Ja-nee… hierdie is beslis ‘n tweedetaalspreker van Honds… of dalk is dit net ‘n ander dialek van Tjanks. Een waaraan my oor nog nie so vreeslik goed gewoond is nie. Hmm… dis dalk die nuwe intrekkers so drie huise van ons af se hond! Hulle kom hoeka van Prutôrihâ af.

Terwyl ek lê en luister, voel ek amper die hond se hartseer. Die tjank kom uit haar maag; so intens hartseer dat dit dalk eerder uit haar niere kom. Opreg hartseer en rou hartverskeurend en soms bykans ongefilterd-histeries. Skreiend teen die stilte van die nag. En ek wonder waarom… en waar kom hierdie groot en diep hartseer vandaan.

En dan sink dit in:

Dis skoolvakansie. Almal is seker weg.

Dat ‘n mens ‘n onbekende hond nou só jammer kan kry…!


Ek het die volgende dag weer die getjank gehoor en die hond gevind. Dit was ‘n baie groot en baie mooi swart Alsation. ‘n Relatiewe jong reun; seker ‘n jaar oud. Die mense was wel met verlof. Dit was die nuwe bure se bure wat al jare lank in die ongewing bly, maar klaarblyklik gewoonlik vir ou Hercules saamneem as hulle met vakansie weggaan. Hierdie was sy eerste vakansie alleen tuis as waghond.

Advertisements

7 thoughts on “Tjank

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s