‘n Ou lewensles

Dit was drie jaar gelede… Ek was onseker of ek vir die pos moes aansoek doen, tog wou ek. Bang-benoud het ek my CV opdateer, die dekbrief getik en dit in ‘n spesiale vouer op my kantoorrekenaar gestoor. Die pos was uitgeknip vir my en ek het die nodige visie en dryfkrag gehad om ‘n verskil te maak in ‘n pos waarvan ek vir baie lank gedroom het.

Tog het ek so sterk in myself getwyfel dat ek nie geweet het of ek dit moes waag nie. Daardie “wat as”, wat met allerhande soorte negatiwiteit gevolg is, het by my gespook.

Die vrae was heel legit:

  • Wat as ek nie goed genoeg is nie?
  • Wat as my visie nie sterk of groot genoeg is nie?
  • Wat as ek nie ‘n leier se alie is nie?
  • Wat as ek net van alles ‘n groot gemors maak?

Ek was op die punt om die vouer op my rekenaar uit te vee en net van alles te vergeet, toe ‘n groen ikoontjie op my skerm wys. ‘n Goeie vriend; ‘n konfidant; se eenvoudige vraag… “Hey! Kan ek jou gou bel?”

Ek het geantwoord en met bewende hande my selfoon gegryp. Die man wat my in daardie paar maande; maklik die donkerste tyd van my lewe; geselskap gehou en vermaak het met die interessantste leesstof en heerlike geselsies oor enige onderwerp denkbaar, was op die punt om my te bel.

Al plek waar ek kon gesels sonder onderbrekings of nuuskierige afluisteraars, was onder ‘n jong treurwilg net buite die kantoorblok. Ek onthou hoe onbekend-senuweeagtig my stem selfs vir myself geklink het en hoe ek kon voel hoe my gesig van melkwit-bleek tot ryp-aarbei-rooi verkleur sonder dat enigiets my laat skaam kry. Dit was met die allergrootste konsentrasie wat ek amper teenaan die boom gaan staan het en versigtig al die uitloopsels in die middel van die dun stammetjie afgetrek het.

Die konneksie was onduidelik en ek het gevoel soos die domste persoon, omdat ek kort-kort moes vra dat hy moes herhaal wat hy gesê het. Die man moet dink ek is onnosel én doof, het ek onophoudelik gedink.

Natuurlik kom die vraag toe, ná ‘n kort geskerts: “Is jou aansoek al in?”

Hy het geweet van die pos en hoe graag ek dit eintlik wou hê. Hy was ook skerp genoeg om te besef dat ek onseker en bang gevoel het daaroor.

Ek het eers gestamel oor my eie woorde. Skielik amper skaam oor die feit dat ek begin wonder het of ek dit wel moet indien. Hy het dit van waar hy ‘n duisend kilometer ver gesit het, gehoor en my baie direk daaroor gevra.

“My hele lewe lank skram ek nog weg van enige vorm van leierskap af. Ek hou myself stil en doen wat verwag word. Maar dié keer…”

Die sin het in die lug bly hang, want hoe maak ek dit klaar? Ek wonder steeds dikwels waarom sy stem tóé skielik so duidelik was, dat ek kon hoor dat hy nie net bedoel wat hy sê nie, maar ook glo in die persoon waarvoor hy dit sê:

“En is dit genoeg?”

Ek was so onkant gevang deur dié vraag dat hy dit ná ‘n oomblik self moes antwoord:

“Nee… natuurlik is dit nie. Jy is tot meer instaat en dis waarom jy meer wil hê.”

Dit het my skoon van die boom se uitloopsels laat vergeet.

“Dit was tot nou genoeg, maar nee… dit is nie meer nie.” My woorde het my steeds nie oortuig nie.

“Want jy is tot meer instaat en daarom wil jy meer hê.”

Ek het iets in my voel gebeur toe ek daardie woorde hoor; iets wat ek nie kan beskryf nie. Maar dis ook iets waaraan ek tot vandag toe vashou en wat ek baie graag vir ander wil laat voel. Trotsheid? Selfvertroue? Die gedagte dat iemand vertroue in my het; iets meer in my sien as wat ek tot op daardie oomblik bereik het?

Ek het my aansoek ingestuur en het die kortlys gehaal. My onderhoud was nie die beste een nie, hoewel ek weet dat ek nie beter kon doen onder daardie omstandighede nie (‘n storie vir ‘n ander dag). Ongelukkig het ek nie die pos gekry nie, maar dit is okay. Ek het iets baie groot hieruit geleer:

Net ‘n klein bietjie vertroue in iemand en ‘n klein bietjie tyd wat jy aan hom/haar afstaan deur iets soos ‘n eenvoudige oproep of net ‘n paar woorde, kán ‘n lewe verander. Ek weet dit; my eie lewe getuig daarvan.

Advertisements

4 thoughts on “‘n Ou lewensles

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s