Kransklouteraar!

Dit gebeur soms dat dinge nie uitwerk soos wat jy dit beplan het nie. Jy spot die verkeerde eksamenvraag. ‘n Vertroueling blaker jou geheime uit. Jy kry nie daardie droomwerk nie. Jou voet gly terwyl jy abseil…

Ons kan beplan en droom so goed as wat ons wil en onsself laat glo dat ons al die antwoorde het en dat ons haarfyn uitgewerk het wat ons in elke scenario wat moontlik uit die situasie mag ontwikkel sal doen. ‘n Snowflake-plan… flatervry! Maar tog is niks flatervry gewaarborg nie en as jy daardie los klip raaktrap terwyl jy vertikaal teen ‘n krans opseil en jy hang net aan ‘n lyntjie tussen die hemel en die harde aarde, dan skrik jy jou alie af!

Dis iets wat ek nog net twee keer in my lewe gedoen het; abseiling. Ek was nogal gek daaroor en sou dit graag weer wou doen, al laat die harnas my boudvet peul op maniere wat niemand sou kon geraai het dat boudvet kán peul nie en al is ek skrikkerig vir goggas en slange in die krake en op die klippe waar ek moet vashou. Dis iets anders as al die gewone ou goed wat ek doen en ‘n lekker uitdaging. Meer nog, dit forseer my om my kop skoon te maak en te fokus; iets waarmee ek my lewe lank nog sukkel.

Met my eerste probeerslag, so 17 jaar gelede, was ek op ‘n spanboukamp. Die mededinger in my het besluit dat die ander span nie mag wen nie, en ek het agterlosig geraak. Halfpad op teen ‘n warm gebakte rotskrans, het ek rats en vinnig begin klouter… en te haastig geraak. In die proses het ek nie versigtig genoeg gekyk dat my trapplek stewig genoeg is nie en toe ek nog so dink dat ek op ‘n rots trap, toe trap ek al die tyd in die lug!

Weet jy hoe dit voel as jy so groot skrik dat jou hart en maag posisies ruil, jou oë en jou mond onwillekeurig groot en rond oopgaan en ‘n eienaardige geluid; een wat dalk iewers diskant jou niere ontstaan het; wat jy nooit in jou lewe weer sal kan namaak nie uit jou keel ontsnap? Wel, dit alles het op daardie dag met my gebeur, terwyl ek soos ‘n wafferse cartoon-karakter gegryp het na vatplek met arms wat te kort en onhandig in die lug spartel. Blykbaar het ek daardie dag ‘n nuwe betekenis aan “vlinderslag” gegee vir almal wat dit aanskou het.

Dit was met ‘n ernstig gekneusde ego, veel groter respek vir die krans en opregte waardering vir die boud-vet-peulende-harnas, wat ek weer begin klouter het… en ook met skaterlag vir agtergrondmusiek. Maar ek hét bo gekom. Natuurlik nie met presies dieselfde roete as die eerste keer nie en ook nie voor die ander span se klimmer nie, maar tog hét ek bo gekom en ek was baie trots op myself daaroor. En op pad boontoe het ek op hierdie ander roete boonop mooi goed gesien – ‘n verdwaalde veldblom wat sag en onskuldig in ‘n skeur groei, ‘n mooi bont wawielspinnekop wat nie ongesiens terugkruip agter in sy skuilplek… ‘n mamma grys voëltjie en haar babas, en hoe sy beskermend die kleingoed onder haar vlerke toemaak…

Vanaand sit ek met dié herinnering in my kop en, terwyl my gedagtes draai oor onlangse gebeure, dink ek:

Dit gebeur soms dat die lewe vir ons ‘n pragtige klip teen die krans pak wat ons besig is om uit te klim. Op die oog af lyk dit na ‘n voetplek; ‘n stewige plek om te trap sodat jy met gemak boontoe kan beweeg. Maar dan is dit alles behalwe! Die klip is glad en los en kort voor lank staan jy weer onder; vernederd met ‘n seer enkel; en jy moet besluit of jy weer gaan probeer om bo te kom of eerder onder sal staan en net jou spanmaats wil aanmoedig.

Ek het agtergekom dat die geheim lê in die weer probeer en dat ‘n effense ander roete gewoonlik ‘n ander resultaat sal lewer; dikwels meer geslaagd as jou eerste poging met interessante dingetjies op die pad. Dit maak uiteindelik nie saak as jy val nie (of, in my geval, soos ‘n swemmende bobbejaan agteroor deur die lug vlieg nie). Inteendeel – soms leer ‘n mens meer met die val en weer probeer as met die vinnige bo uitkom. Soms is die val goor en jy wens jy het dit nie oorgekom nie, maar dikwels was dit die ding wat vir jou nodig was, wat jou tot besinning bring, wat jou met nuwe oë na álles; selfs ‘n abseil-harnas; sal laat kyk.

Soms gooi die lewe ons met goor verrassings. Maar dit gee ons die geleentheid om regop te staan, die lewe vierkantig in die oë te kyk, en dan met selfvertroue te sê: “Watch me… want ek gaan weer probeer; ék is ‘n kransklouteraar!”

Advertisements

12 thoughts on “Kransklouteraar!

  1. Vir so ‘n jong meisie toon jy verstommende wysheid. En talle mense, veel ouer as jy, kan by jou leer. Baie mooi geskryf – ‘n treffende boodskap. Jou skrywe gee ‘n nuwe invalshoek op die ou cliche: Dit maak nie saak hoeveel kere jy val nie – dit is hoeveel kere jy opstaan wat tel.

    Liked by 1 person

    • Sjoe, André… ek is so ver van wys af soos ‘n baby marrow van ‘n komkommer. Dis net op die oog af die geval, hoor! Maar dankie vir die mooi woorde. En ja – dikwels val ‘n mens en met die opstaan en tweede probeer besef jy dat iets waarvoor jy aanvanklik bang was, eintlik nie so erg is nie. Soms is dit selfs lekker.

      Like

  2. Eintlik stem ek saam met wat André hierbo gesê het. Ek het jou blog begin volg in 2015 en soms was ek bekommerd oor jou (sorry, jy is dieselfde ouderdom as my kinders, dus het ek myself die reg toegeëien), soms wou ek jou raad gee en soms wou ek met jou raas … maar dit was nie my plek nie en nou weet ek niks daarvan was nodig nie, want jy het self gegroei en is besig om te gedy. Jy’t sterk geword en ek is trots op jou. Gun my daardie voorreg!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s