Deurmekaarslaai-droom

Strooimeisie is vandag… wel… verstrooid. Eintlik is dit nie net vandag nie; dit is nou al vir ‘n rukkie die geval. Ek weet nie wat met my aangaan nie, maar ek vermoed dat nie eers een van my skoontannies se kammaslaai so deurmekaar kan wees soos hierdie kop wat nog net met genade aan my lyf vas is nie. Kammaslaai… dit is nou wat ek haar fyngesnipperde en soms gerasperde mengelslaai noem… ‘n pap en sopperige (of souserige… of sapperige… of waterige… die regte woord ontgaan my nou) mengelmoes wat nóg slaai, nóg salsa is. ‘n Mengel-“mouse”… ‘n “sloppy slaw”.

In elk geval. My kop is die laaste ruk niks anders as ‘n mooshy-smooshy vol stukkies niks nie. En vol drome. Dalk is my drome net soos my skoontannie se slaai… Laat ek verduidelik:

Ek droom van iets anders as die nou. Al weet ek dit kan nie en ek moenie, is dit die lekker van drome. Dit gee jou gedagtes vlerke, terwyl jy self nêrens gaan nie.

Nee, ek bedoel nie ‘n ander lewe of ander mense in my lewe nie. Ek bedoel ‘n ander werk.

Ek droom van skryf. Kreatief; nie akademies nie (die hemel weet, van die stokstywe akademiese manier kry ek meer as genoeg in my studies). Ek droom van toneelspel. Van kuns, minder spanning, amper geen roetine en absoluut geen rigiedheid. ‘n Amperse hippiegeid. Nie dat ek ‘n hippie is nie! Knoop-en-doop pas my nie en ek mag dalk net aan snaakse groen koekies of my eerste zol verstik. Vryeliefde freak my ook nogal uit (hoewel dit my op ‘n manier fassineer). Ek dink nie ek sal ooit in die kunskringe van die mense na wie ek eintlik met soveel respek en waardering opkyk (maar met wie ek nooit in my lewe sal kontak maak nie, want die vrymoedigheid ontbreek eenvoudig net), kan inpas nie. Maar tog kan ek steeds droom. Reg?

Soms is hierdie drome ook nie net ‘n gedagdroom terwyl ek eintlik moet werk nie. Soms droom ek regtig. Gisteraand het ek weer oorboord gegaan met aanlyn-inkopies. Ek het ‘n swakheid in myself ontdek vir my taal en die wonderlike films wat van onlangs af daarin gemaak is. Meng dit met winskopies en uitverkopings; Afrikaanse films wat vir ‘n skamele R50 of so te koop is; vroulike impulsiwiteit en ‘n gesonde balans op daardie nuwe (en enigste) kredietkaart en jy kry ‘n resep vir ‘n effense plofbare situasie!

Deesdae verkyk ek my aan die mooi van die Afrikaanse rolprentbedryf en ek dink dikwels dat ek dit mos ook kan doen (hoewel ek weet dat dit eintlik heeltemal te selfvoldaan en totaal onmoontlik is): ‘n draaiboek skryf vir ‘n film; ‘n toneelstuk vir die verhoog; ‘n boek wat mense se hart sal raak; dalk selfs probeer om self toneelspel te pleeg… nie dat ‘n kortkursus in toneel meer as 15 jaar gelede my nou meer sou help nie; ek het alles buitendien reeds vergeet.

Dink net… ‘n Toneelstuk op ‘n kunstefees deur ‘n nuwe Afrikaanse kunstenaar. ‘n Slim dialoog met bekende akteurs… Marius Weyers in die hoofrol… ‘n vol skoolsaal met mense wat te lekker vir woorde lag en net die volgende oomblik stil word en dink… en ek, wat sonder om te blik of te bloos vir die eerste keer iets doen in my eie naam, nie as Strooimeisie nie…

Soos ek sê, dalk is my drome net soos my skoontannie se berugte (ongelukkig nie beroemde nie) slaai… opwindend en pragtig en so heerlik… maar dis net in my eie kop die geval.

2 thoughts on “Deurmekaarslaai-droom

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s