Van asemskep en ontnugtering

Daar is ‘n plek naby my waarheen ek graag gaan as ek my kop moet skoonmaak. Dis sowel naby as wat dit ver genoeg is van die gewoel, waar ek kan afsluit en net kan asemhaal in die teenwoordigheid van voëls se sang en water wat saggies dobber.

Dis ‘n plek waar ek net stil kan sit en kyk hoe miertjies stukkies gras en piekniekkrummels aandra nes toe, hoe bome botsels van nuwe seisoensbeloftes maak, hoe visse hoog uit hulle gemaksone spring om te kry wat hulle graag wil hê, hoe water sonder rede aanhou vloei…

Dis egter ook ‘n plek waar ek kan voel hoe ‘n yswind deur my binnegoed sny en waar ek ontnugterd besef dat ek nie iets warms by my het nie; waar ek besef ek is alleen en waar ek wéns om eerder te voel hoe iemand my vashou.

Ek besef dit nou: soms kan selfs ‘n veilige plek van asemskep ook ‘n plek van ontnugtering wees.

Is dit ‘n slegte ding? Ek dink nie so nie. Inteendeel… ek dink dis nodig, want dit forseer jou om te dink en jou situasie op te som. Selfs al wil jy nie dink nie, moet jy soms. Selfs al wil jy nét asem skep, moet jy soms ook jou asem inhou. Dis seker soos die visse in die water wat so pragtig spring en dan terugplons in die veiligheid van die water.

En dan… net wanneer ek lus voel om kar toe te stap, as my vingers koud word en my lyf begin bewe, hoor ek die geroep van ‘n visarend. Onsigbaar, dog só mooi. Asof dit ‘n versekering is dat ek tog dalk nié heeltemal alleen hier sit nie. Asof dit troos, terwyl ek nie weet wat of waarom daar iewers in my seer en onsekerheid is nie. En as ek opkyk om te soek na die roeper, voel ek die son op my gesig…

Soms help ontnugtering ons. Soms laat dit ons goed besef en raaksien waarvan ons voorheen nie eers bewus was nie. Soos visarende en sonskyn.

Advertisements

7 thoughts on “Van asemskep en ontnugtering

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s