‘n Strooi-bessie-muffin?

Dis iets wat die meeste vroue oorkom. Gewoonlik iewers teen die einde van die winter of die begin van die lente. Dis niks lekker nie, maar ek is seker dat almal  een of ander tyd daardeur gaan. Soms huil ons, soms raak ons angsbevange. Ander kere reageer ons met ‘n behoorlike plan van aksie, wat so vinnig en so goed uitgedink is dat ons onsself amper stomslaan. En as dit regtig erg is, word ons getref deur ‘n volslae, verlammende depressie…

Dit, liewe mense, het my vanoggend oorgekom!

Ek het nog nooi t ‘n geheim daarvan gemaak dat ek regtig nie ‘n wintermens is nie. As middel Mei se koue ons tref, voel ek dat iets hier diep in my hart vir my probeer sê dat ek my menswees maar moet laat staan en die werklike ek; die bruinbeer wat in ‘n mens se liggaam vasgekeer is; die leefstyl waarvoor ek gemaak is met ope arms moet aanvaar en aanneem. Daarmee verwys ek natuurlik nie na visvang in die ysige water van Alaska nie (hoewel ek seker is dat dit baie interessant sal wees), maar eerder na daardie diep winterslaap waarvoor bere dikwels ook bekend is.

Dit was vanoggend nogal koud by ons en ek het regtig weer opnuut begin wens dat ek maar net die komberse oor my kop kon trek en verder kon slaap. Nie omdat ek moeg was nie; eerder omdat ek net nie lus was om koud te kry, klaar te maak en dan van voor af te probeer warm word nie. Omdat ek geweet het dat min mense vandag direk met my te doen gaan kry (my rekenaar en boeke tel tog nie), was ek lus om iets gemakliks aan te trek… wat eintlik presies is waar die probleem begin het.

My eerste keuse was die oudste sweetpak en tekkies in my kas; daardie stel wat ek nog van skooltyd het, wat saam met my boude rek as dit moet en my in warm, sagte materiaal teen die koue beskerm. Die feit dat ek regtig daarin lyk soos ‘n uitgewaste bruinbeer het my egter laat besluit dat ek dit dalk eerder nie werk toe moet aantrek nie.

Opsie twee was tights en ‘n lang trui, ’n lang sagte serp en natuurlik lekker snoesige lang stewels met dik gestreepte kouse (daardie sagtes wat ʼn mens eintlik net my vlooimarkte koop en wat jy tot duskant jou ore kan optrek). Die probleem was egter dat my go-to-trui heel onder in die wasgoedmandjie gelê het. Gekreukel en vuil, dalk met ‘n effense bedompige wasgoedmandjiereuk. (Ek is nie ‘n slegte huisvrou nie; ek was net vanaand eers die truie, want die naweek was nogal bedrywig.)

Ek het my stywe denim toe maar onder ‘n hoop ander denims uitgetrek en ‘n stywerige truitjie wat mooi saam met die serp en stewels werk ook nader getrek. Dit sal goed lyk saam met my dik lang baadjie, het ek besluit, voor ek dit so vinnig as wat ek kon aangetrek het.

Ek was nog net halfpad aangetrek toe ek besef dat iets nie is soos wat dit moet wees nie, en toe die fout van my lewe gemaak en omgedraai om in die spieël te kyk terwyl ek al hoppende probeer het om my kuite in die denim se pype te laat inpas terwyl ek ook die knoop en knoopsgat nader aan mekaar getrek het.

Magtig, ek het dit dalk oordoen met my isolasielaag…

Daar, voor my in die spieël, het ‘n vrou gestaan wat vat-vat aan haar middeljare, hoewel haar gesig nog relatief jonk gelyk het (van ‘n afstand af, in elk geval… my oë was moontlik weens ‘n tekort aan koffie nog nie heeltemal oop en funksionerend nie). Die vrou voor my se lyf was seker nie te sleg vir iemand wat die aktiwiteitsvlak van ’n wortelkoek het nie, maar toe daai knoop toegaan, het die bloed stadig na haar gesig opgetrek en net daar bly lê. Bloedrooi van skaam en frustrasie, het ek besef dat ek werklik nou baie mooi weet waarom hulle dit ‘n “muffin top” noem, want ek het presies net soos die bloubessie-muffins gelyk wat so pragtig in die vertoonkaste van Mugg & Bean pronk… jy weet… daardie wat so stoom as jy dit oopsny en waarin die botter so intrek terwyl jy nog aan ‘t smeer is. Daardie wat skaamteloos en kliphard vra vir nog ‘n happie, terwyl jy nog nie eers die eerste proetjie afgesluk het met jou skuimerige cuppachino nie. Maar ek is nie ‘n bloubessie-muffin in ‘n koffiewinkel nie, en dié top wat so amper-amper oor my denim begin rys het, was alles behalwe eetbare krummels vol lekkerte.

muffin20top20120400.jpg-1

Presies hoe ek gevoel het… foto van Google.

My onderkant was heel goed verbloem in die stywe denim. (Terloops – waarom praat hulle van iets wat soos ‘n handskoen pas as ‘n rekdenim eintlik ‘n baie beter beskrywing is?) My bokant sou nie werklik gesien kon word onder die lang dik baadjie wat ek beplan het om aan te trek nie. Maar my middel! Iewers deur oor die naweek het ek begin rys. Nes ‘n muffin! Die bed was duidelik te warm, want ek weet nie wat anders dit kon wees nie en dit was verseker nie laasweek so erg nie!

Toe ek op die bed gaan sit om my stewels aan te trek en die ritse op te trek, het probleem twee opgeduik. Ja… duidelik hét ek oornag gerys en uitgeswel soos wat goeie vetkoekdeeg maar net kan hoop om te doen. My broek was te styf. So styf, om die waarheid te sê, dat ek nie werklik behoorlik kon buk om my stewels toe te rits nie! Of my stewels enigsins sou toegaan oor my kuite (wat van nature en baie dansoefeninge nie juis die dunste en vroulikste kuite onder die son is nie) het ek eerder nie uitgevind nie. Ek was nie van plan om ‘n derde nederlaag so vroeg in die oggend te beleef, terwyl ek eintlik regtig net in die bed moes bly nie.

Ek het my refleksie in die spieël vol in die oë gekyk, saggies gevloek oor daardie heerlike soetkoekies wat ek by die ou tannie in die straat gekoop het en in my agterkop gewonder of die winkel wat onlangs sjokolade op uitverkoping gehad het dalk aandele in klerewinkels het, my wenkbrou skerp gelig asof ek vir ‘n stout kind wil sê dat dié teëpratery onmiddellik moet stop en my foon gegryp.

Ek het vinnig die sekretaresse se nommer gesoek en op die groen telefoontjie gedruk. Ná ‘n baie kort gesprek het ek uitgevind dat omtrent almal met verlof is of afgeboek is en in die bed bly, en dat dit geen probleem sou wees as ek eerder vandag net van die huis af werk nie. Dit het my probleem egter net gedeeltelik opgelos.

Ongemaklik, en om een of ander rede nogal teleurgesteld in myself, het ek die knoop wat ek met soveel moeite toegemaak het, weer losgemaak. So ook die denim se ritssluiter. Ek het myself minstens twee keer gepootjie in die uittrekproses en een keer myself ‘n vuishou in die gesig gegee. Na afloop van die beste Fight Club-oudisie ooit, het ek my bruin sweetpak gaan haal en dit aangetrek en sommer so in die op-en-af-loop op ‘n plan van aksie besluit. Ek sou eers gou met my hond om die blok gaan draf… of dalk net baie vinnig gaan stap… en dan sou ek die stof van my oefenmasjien gaan afvee en begin het met daardie oefenprogram wat eenkant in ‘n kas lê… as ek dit kan kry. Dit sou minder as ‘n uur geneem het, dan sou ek kon sê dat ek regtig vandag begin werk het aan my somerlyfie.

Die plan was daar. Die wil om in daardie denim te kan pas sonder dat die knoop losskiet en iemand in die oog tref ook. Maar ek het skoon depressief gevoel. So eers, het ek besluit, moet ek my gemoedstoestand verander en myself troos. En hoe dan nou anders? Ek is ‘n vrou, magtig! Al wat vir hierdie gevoel kan help, is immers ‘n blokkie sjokolade!

PS: Of ek daarby gaan hou, weet ek nie. Maar hier is ‘n vinnige en eenvoudige oefenprogram wat ek sommer van die Internet afgelaai het, en wat ek vanoggend sommer (kort ná die blokkie sjokolade, natuurlik) begin volg het. Jy het nie enige apparatus daarvoor nodig nie! Wees egter gewaarsku… die vrou laat dit baie makliker lyk as wat dit eintlik is (of dis wat ek gevind het), maar dit is nietemin lekker.

Nog ‘n PS: Okay… dit was nie regtig net een blokkie sjokolade nie. Dit was nader aan twee rytjies… Ek pleit vroumens!

 

 

Advertisements

9 thoughts on “‘n Strooi-bessie-muffin?

  1. Klink of ek dit geskryf het…. 27 dae dietplan of die eierdiet is my voorland, vinniger as vinnnig… beslis binne die volgende 2 weke want ek ervaar presies wat jy ervaar. Myne se oorsaak is nie slegs soetkoekkies nie……….

    Like

    • Dankie, liewe Ekmyself. En sterkte vir jou ook. Ek moet egter bieg dat dit ook nie nét soetkoekies en sjokolade en Mugg & Bean se soetgoed is wat aan my middel en heupe kleef nie. Maar dit is 85% van die oorsaak! Ek was eintlik nog altyd min gepla met my gewig en my frummels, en al wat my nou pla is sat ek wraggies nie op die oomblik ‘n hele nuwe klerekas kan bekostig nie.

      Like

Lewer kommentaar op ekmyselff Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s