Daar’s lewe in ‘n perskepit

Het jy geweet dat jy jou eie perskebome van pitte af kan kweek? Eintlik is dit heel voor die hand liggend. Ek meen – plante maak vrugte, vrugte het sade, en sade maak plantjies. Reg? Presies. So waarom het ek nooit gedink dat dit doenbaar is nie? Nee, ek weet wraggies ook nie. Maar dit is!

‘n Paar jaar gelede het iemand wat ek ken ‘n bevlieging gekry om vrugtebome van pitte af te kweek. Hy het ‘n kleinhoewe net buite die dorp met ‘n redelike groot vrugteboord gehad, wat hy graag wou uitbrei. Die probleem was egter dat vrugtebome; veral die aantal wat hy wou aanplant; baie duur was. Die probleem met erge weersomstandighede in sy area (swartryp in die winter en geweldige hitte en droogte in die somer) nie juis op enige manier die plante se groei en latere vrugte sou waarborg nie. Inteendeel.

Na ‘n rukkie se raad soek, het hy gehoor dat vrugtebome wat vanaf die vrugte in daardie geweste se pitte gekweek word, wel sterker kan wees as bome wat in ‘n ander gebied gekweek word. Dit is glo asof daar een of ander mate van gehardheid en weerstand in die pit oorgedra word. ‘n Goeie dosis navorsing later, het ek hom eendag gaan help om ou vrugte wat van die bome af geval het te versamel. Wat gevoel het soos emmersvol papvrot vrugte se pitte is versigtig skoongewas, drooggedruk en eenkant in bakkies gebêre.

Maar perskebome kom nie sommer op as ‘n mens net ‘n pit in die grond druk en dit nat maak nie. Dit is nie ‘n eenvoudige saailing wat sommer net vir die pret wil groei nie en vereis veel meer geduld en aandag.

Die volgende stap was om die pitte se doppe te verwyder. Wat ‘n uitdaging was dit nie! ‘n Hamer was te aggressief, want dit het die dop laat spat, maar ook die binnekantste saad seergemaak. ‘n Neutekraker was nou weer nie sterk genoeg nie en het my vriend se hande seergemaak voor hy nog behoorlik pitte oopgebreek het. Ek moet bieg – ek is nie seker wat hy uiteindelik gebruik het nie. Ek weet net dit het hom soms vreeslik frustreer om met soveel aandag en so versigtig die doppies af te breek. Na baie moeite is die sagte binnekante egter ongedeerd van die harde doppe verwyder en dit is saam met ‘n klein bietjie potgrond in ‘n sakkie gesit, waarna dit vir ‘n kort rukkie eers in die vrieskas, en daarna in die yskas gebêre is.

Hierdie einste vriend se vrou was nie baie tevrede met sakke vol grond wat die bêreplek in haar yskas opgeneem het nie. Sy was selfs minder in haar noppies met die gedagte dat daardie sakkies vir twee tot drie máánde lank daar moes bly. Mettertyd het die plantjiesmaak-gogga haar egter ook gebyt en sy het ewe gretig weekliks saam met hom begin kyk of die saadjies al worteltjies maak. Dit het ‘n halwe leeftyd geneem, maar dit het wel gebeur en het behoorlik kinderlike opgewondenheid in daardie huis veroorsaak!

Nadat die worteltjies begin groei het, is die pitte wat nie ontwikkel het nie van die res verwyder en dié wat wel gegroei het, is versigtig in bakkies met ryk potgrond oorgeplant. Dit het daagliks water en sonlig gekry en het stelselmatig gegroei. Baie van die boompies is die volgende seisoen in die veld op die kleinhoewe geplant en het onlangs (ongeveer drie jaar later) begin om vrugte te dra. Heerlike soet perskes!

Daar is die potensiaal van lewe in elke harde dop van elke liewe perskepit. Hoop, lewe, vrugbaarheid en groei word in massas opgegaar in die klein sagte binnekant, maar daar moet eers deur die lelike en harde buitekant gebreek word voordat daardie potensiaal ontgin kan word en voordat dit kan groei tot ‘n volwaardige plant. En die geheim lê vir my amper meer in daardie oopbreek as enigiets anders, want dit is terselfdertyd ‘n rowwe en vreeslik delikate proses. Dit neem moeite en ‘n mens moet baie versigtig wees, want as daardie saadjie eers seergekry het, is alle hoop op ‘n plant daarmee heet. Tog; as daardie dop eers gebreek is, is daardie sagtheid blootgestel aan álles, en kry dit so maklik seer. Ek besef dat dit aan sekere omstandighede blootgestel moet word, sodat dit sterker kan word. Soos die sogenaamde koueskok. Blykbaar is dit juis hierdie skok wat later lei tot goeie en groot hoeveelhede vrugte. Maar nogtans… daardie eerste stappie om die dop te breek sonder om die saad seer te maak bly vir my die belangrikste aspek van die hele proses.

Ek kan skielik nie anders as om te wonder of dit net toevallig is dat mense net soos perskepitte is nie. En ook – dat dit dikwels die manier is waarop ons mekaar hanteer en “oopmaak” of “ontbloot”, wat bepaal hoe ons potensiaal ontwikkel… of bloot net verdwyn.

 

Advertisements

10 thoughts on “Daar’s lewe in ‘n perskepit

  1. Terug pieng: My meisie, my Strooimeisie skryf raak | Die Wit Hasie

  2. Daar is baie goeie redes waarom vrugtebome eerder van steggies gepropageer word as van saad. Vrugte word geselekteer vir verskeie eienskappe wat vir bemarking belangrik is, bv. raklewe, smaak, robuustheid, voorkoms, grootte, ens.
    Bome wat van steggies gekweek word, is gewaarborg om presies dieselfde vrugte te dra as die boom waarvan die steggies gesny word.
    Vrugtebome wat van saad gekweek word se vrugte is nie noodwendig identies aan die vrug wat die saad lewer nie! Net soos mense se kinders nie identies aan die ouers is nie!
    So, as jy vrugte van ‘n sekere gehalte aan bv. ‘n fabriek lewer wat dit inlê, moet die vrugte aan sekere vereistes voldoen. Ek dit kan jy net waarborg as jy van steggies af werk.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s