Kruidjie-roer-my-nie

Ek dink nie ek was al in die laerskool nie, toe Oups eendag by die huis aangekom het met ‘n sakkie. Speels-geheimsinnig, soos wat hy altyd van gehou het om sy agie-oogappel te terg, het hy die sakkie bo op die ou gelerige yskas gesit en spottend vir my geglimlag terwyl hy op een van die lelike mankolieke ou stoeltjies by die kombuistafel gaan sit het. Hy het gewag vir koffie, maar ook vir die vraag…

“Wat’s in die sakkie, Oups?” Ek het eers probeer om my opgewondenheid weg te steek nie.

“It’s not inside, it’s onnnn…top!” Hy het geweet ek haat daardie antwoord, maar moes elke keer daarvoor lag. Die akteur in die Cremora-advertensie kon beslis by hom lesse neem.

Ná baie gesoebat en selfs meer pogings tot omkopery (ek sou selfs my dosis dodelike pampoen eet!) het hy die sakkie afgehaal en versigtig na buite gedra. Ek het al trippelend om hom gedans.

“Dié is ‘n baie spesiale plantjie vir my blou-oog.” Ek onthou sy woorde nog so goed, dit voel asof ek dit net gister gehoor het. “Dis mooi en fyn, maar sterk.” Die vorige keer wat hy só iets gesê het, was dit pronkertjies en ek kom my nuuskierigheid dié keer skaars in toom hou. En toe trek hy ‘n verlepte, armsalige ou plantjie uit die sakkie.

Groot was my teleurstelling. Hy kon dit sien, maar het steeds breed geglimlag.

Terwyl ons die plantjie geplant het waar die helderrooi hanekamme altyd was, in die bedding reg in die middel van die groot groen grasperk, het hy my vertel wat ‘n bietjie beskutting, liefde en sonlig dié plantjie sal doen. Ek het hom nie geglo nie.

“Die ding is dan dood.”

“Nee, die plantjie [ek het geweet hy help my reg] probeer net om homself te beskerm. Gee kans. Jy sal sien.”

Ek was verward en sommer beduiweld toe ons terug huis toe gestap het. Wie plant immers ‘n dooie plant? En om dan nog te sê dit is soos wat ek is!

Net voor skemer daardie aand, het hy my egter geroep om weer na die plantjie te gaan kyk. Eers wou ek nie saamgaan nie, maar hy het aangehou en wie kan nou vir hulle gunsteling mens op aarde nee sê!

Halfpad soontoe het ek verstar. Wat vroeër niks anders as ‘n verpoepte ou stukkie halfdood was, het nou met lowergroen blare oopgesprei en opmerklik tussen die saailinge gepronk. Delikate blare, maar sterk en pragtig. Trots. Ek het nader gehardloop en aan die sagte blare gevat met my toe nog baie onkundige kleuterkloutjies. Eensklaps het feitlik die hele takkie se blare verlep en ek was bang dat ek dite plant dalk seergemaak of gebreek het.

Hy het met deernis na my gekyk. Daardie kyk in sy oë wat altyd liefde en waardering uitgestraal het, al het ek ook wát aangevang.

“Dis net hoe die plantjie homself beskerm en jou waarsku om liewer weg te bly.”

Hy het aan my verduidelik hoe die plant reageer op aanraking en vertel dat hy wel sal doodgaan as ‘n mens te hard of te veel aan hom vat, so ek moet versigtig wees… Daardie plantjie het, met hope liefde en aandag, ‘n rukkie later begin blom!

Ek het Oups nooit gevra hoe hy die plant met my kon vergelyk nie. Ek wens ek het. Dalk het hy gesien dat ek onttrek as ek seerkry? Dalk het hy gedink ek is delikaat of sterk. Dalk het hy iets in my gesien wat wonde kon help genees… ek wens ek weet. Tot vandag onthou ek egter die plant én die liefste van mense wat mý in iets só kon sien.

(Oups, jou blou-oog verlang vanaand net te veel na jou.)

Net vir die lekker – hier is Kruidjie-roer-my-nie deur Anton Goosen.

2 thoughts on “Kruidjie-roer-my-nie

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s