Strooi: filosofiese dromer, nou ook doener

I search for perfection in imperfection, because imperfection is beautifully unique and brutally honest.

As iemand wil weet wie dit gesê het – dit was ‘n filosofiese oomblik wat ek gisteraand beleef het waartydens ek allerhande diep dinge kwytgeraak het. Ek doen dit soms (raak diep) en bedoel dan altyd wat ek sê. Soms is dit mooi uitgedink en versigtig gevorm, en soms is dit iets wat sonder enige nadenke uit my mond of vingers vloei, en dan dink ek eers nadat ek dit gesê het dat dit nou eintlik nogal nie te simpel was nie.

Ek het die afgelope ruk ernstig herbesin oor my blog; die waaroms en die hoekoms en die ofs. Ek het ophou skryf, omdat ek besig geraak het en bloot net nie iets gehad het om oor te skryf nie. Dalk ook omdat ek begin voel het ek mors my tyd deur selfs net te probeer skryf; valse bravade wat in teks vasgevang is en stukkies drome wat eintlik onbereikbaar is.

Soms ry ek maar op golfies waar my gemoed pikswart is en ek alles wat is en nie is nie bevraagteken. En nee – dis nie depressie nie; dis die lewe. Dalk die begin van my eie klein midlife crisis. Dalk net my eie onsekerheid. Dalk het dit iets met ontevredenheid te doen. Wie weet!

Ek worstel deesdae dikwels met vrae oor myself – of ek is waar ek veronderstel is om te wees (en ek is sinies oor die kastige bestemming van alles wat met ‘n mens gebeur of waar ‘n mens jouself behoort te bevind op ‘n sekere tyd en plek). Ek vra myself al meer of ek doen waarvan ek regtig hou en of ek daardie groot en ondeelbare drome (ek het ‘n non-disclosure met myself geteken, so moenie eers vra nie) wat so kristalhelder in my kop is, ooit sal kan laat realiseer van waar ek hier op die voorstoep van my laat dertigs sit.

Op die oomblik frustreer dit my dat ek eintlik ook maar net ‘n dromer is wat dalk te min doen. Dit moet verander. Ek haat die feit dat ek nog soveel in myself twyfel en so bang is om te misluk. Nog iets wat moet verander. En die gedagte dat ek, meer as wat ek baie ander dinge begeer, begeer om te kan skryf en dit tot nou toe nie heelhartig nagejaag het nie, is besig om my lewendig op te vreet… ek voel amper skuldig oor die een ding wat ek nog altyd wou doen, maar nog nooit gedoen het nie. Nog iets wat moet verander.

So nou moet ek skouer aan die wiel sit en begin werk maak van my drome. Ek gaan begin om dinge te doen ook. Natuurlik twyfel ek steeds in myself, maar selfs al is wat ek aanpak ‘n totale flop… is dit nie beter om te kan sê dat ek wel probeer het nie? Selfs al is my skryfwerk nie goed genoeg vir sommiges nie – ek probeer darem so op ‘n manier. Selfs al raak ek nie duisende mense met my inskrywings nie, weet ek darem van twee of drie…

So vanmiddag het ek besluit om te doen waaroor ek gisteraand gefilosofeer het (die quote was eintlik in ‘n heel ander konteks bedoel, maar vandag werk dit nou vir my op dié manier… soos dit ‘n behoorlike filosoof betaam; klink ek nie vreeslik filosofies nie):

Al is dit wat ek doen nie perfek nie, gaan ek probeer om iets wat perfek is daarin te skep. Dalk is dit net ‘n lewensles of ‘n ervaring. Dalk is dit soveel meer vir iemand wat dit nodig het; dalk vir myself. Ek gaan ophou skuldig voel omdat ek nie alles reg kan doen nie en begin leer uit dit wat gebeur. So what as ek en wat ek doen nie perfek is nie? Wat maak dit saak? En wie is perfek genoeg om my te oordeel? Dis mos juis die dinge wat nié perfek is nie, waarin mens die mooi kan sien; waarin daardie onwegsteekbare uniekheid en onontkenbare eerlikheid lê en wag om gevind te word!

 

Advertisements

5 thoughts on “Strooi: filosofiese dromer, nou ook doener

  1. Ek kan jou verseker,jy skryf ‘n pragtige,foutlose Afrikaans…meer as wat mens van meeste jongmense kan sê.Jou filosofie maak baie sin.Immers is perfeksie bloot ‘n hersenskim,wat baie mense ongelukkig maak.

    Liked by 1 person

  2. As skryf is waarvan jy hou, treat jouself met ‘n kursus daarin! Dit dwing mens om beter te skryf asook hoe om jou lesers se aandag te behou – wat in vandag se dae nie ‘n maklike ding is nie. Ek brand na skryfgeheime se Tydskrifkursus …. maar ai, tyd!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s