Strooi – die versamelaar

Tyd om te bieg: Strooimeisie is net so ʼn effense hoarder.

Nee… nie die soort wat elke plastieksakkie en strokie wat sy ooit kry, bêre nie! Ek haat sulke nonsensies wat net mens se kaste volmaak. Ek beskou myself eerder as ʼn nostalgiese opgaarder.

Ek het ʼn rukkie gelede, toe ek ʼn kas reggepak het, op ʼn skoenboks vol herinneringe afgekom. Die inhoud sou vir enigiemand soos ʼn vrag nonsens gelyk het, maar daardie gedagtes wat my kop onmiddellik gevul het, toe ek die een klein item ná die ander uitgehaal het…

  • ʼn Klipharde blaar, wat ʼn baie goeie vriend eendag vir my gegee het as metafoor van myself – blink en sterk aan die bokant waar almal kan sien (die mooi kant wat ek glo voorhou aan mense), maar sag en vol fyn aartjies onder (die diep deel van myself wat hy in my kon sien en wat ek blykbaar nie maklik vir elke janrap en sy maat wys nie).
  • ʼn Geel Chappies-kougom, wat seker al as ʼn tipe fossiel beskou kan word. Dit het my herinner aan daardie dag wat my ou skoolvriend en pen-pal my met ʼn kuier kom verras het. Ons was albei daai tyd nog in standerd sewe. Daardie selfde dag, het hy ook in die veldjie in ons woonbuurt uitgevind dat dié meisiekind boom kan klim, maar liefs nie toegelaat moet word om ʼn krieketkolf te swaai nie. Ek het sleg gevoel dat ek hom amper uitgeslaan het toe ek per ongeluk die bal gemis het (nee, ek het eintlik nie een enkele keer die bal getref nie), wat hom laat sleg voel het omdat hy nie betyds gekoes het nie. Ons het op pad huis toe ons kleingeld bymekaargegooi en kon darem so R5 se Chappies (toe was dit nog ʼn hele handvol) by die winkeltjie oorkant die veldjie gaan koop. Ek onthou asof dit gister was, wat ons op die sypaadjie gesit het en vir mekaar gelag het, terwyl ons gekyk het wie die grootste borrels met die kougom kon blaas.
  • Die pienk skulpie met gebreekte punt… my en my man se eerste vakansie saam. Dit was vroegoggend op die strand, toe hy dit opgetel en vir my gegee het. Die gebreekte puntjie het die skulpie die vorm van ʼn hartjie gegee. Seker een van die mooiste skulpies wat ek nog ooit besit het.
  • Die ringetjie wat my pa met my sestiende verjaardag vir my gegee het. Traan-pinkend-nostalgies onthou ek hoe hy my daardie dag bederf het met my eerste mooi ring. (Sal dié seer ooit weggaan?)
  • ʼn Foto van my en my boetie wat as laerskoolkinders plat op die gras lê en so lekker lag dat ons oë sommer sulke skrefies trek, terwyl twee klein bolletjies wol – ons eerste honde – al stertswaaiend ons ore lek en lomp-oulik oor ons probeer klouter.
  • ʼn Foto van Oums, wat ek geneem het terwyl sy halfhartig probeer het om my met ʼn tuinslang nat te spuit omdat ek haar probeer vasvang op film.
  • Verkrummelde roosblare van my en my man se mooiste dag… en ʼn briefie op ʼn wit notapapiertjie wat hy vir my geskryf het toe hy my die dag by die huis misgeloop het.
  • Die huisie van ‘n akker, wat ek ʼn paar jaar gelede in Stellenbosch opgetel het en gewonder het hoe die wilde eekhoring wat voor my in die pad gestaan het, sou lyk met ʼn hoedjie op sy kop.
  • ʼn Klein, plat swart klippie wat ʼn vriendin vir my saam met ʼn briefie in die pos gestuur het, omdat sy weet ek hou van sulke goedjies en dat ek dit veel meer as ʼn poskaart sou waardeer. Sy het dit op hulle nuwe erf, duisende kilometers van my af, opgetel en gedink sy stuur ʼn stukkie van haar nuwe plek vir my.
  • ʼn Stukkie van my matriekafskeidrok se lap… die eerste dag wat ek werklik soos ʼn prinses kon voel en almal by die skool die ou bleeksiel gesien het vir wie sy werklik kan wees (die hunk langs my het ook baie gehelp).

Daar is soveel meer in die boks!

Ek mis sulke goed… ek mis klein en nietige geskenkies wat mense mekaar gee; wat mens jouself soms ook moet gee. Ek mis dat mens simpel goedjies vir mekaar kan gee om herinneringe te bou; sonder om simpel en cheezy daaroor te voel. Ek mis dit om blaartjies en klippies te kry en te gee; geskenke wat niks kos nie, maar wat soveel stories dra… En ek wens die lewe kan weer so eenvoudig en opreg wees soos die inhoud van my skoenboks.

Advertisements

10 thoughts on “Strooi – die versamelaar

  1. Soos jy dit hier so pragtig verwoord het, kan ek ‘n hele boek oor my opgaardinge skryf. Op die grens, ‘n dag voordat hy geskiet is, het my ou buddy vir my ‘n geroeste spyker aangegee toe ek iets gesoek het om ‘n gaatjie mee te maak. Ek het daai spyker agterna vir baie goed gebruik en vir jare gehou – tot my vrou op ‘n dag op hierdie ou stukkie nutteloosheid afkom en dit weggooi. Sy het natuurlik nie die storie agter die spyker geken nie. Ek was vir dae teen die planke – oor ‘n geroeste spyker!

    Liked by 2 people

Lewer kommentaar op Biltong & Pot-roast Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s