Die angel maak die seerste

Ek het daardie oggend lekker gelag. Binnensmonds, maar darem. Dit was effens later wat ek by die werk ingestap het (waarskynlik omdat ek verslaap het) en ‘n kollega buite haar kantoor in die gang sien staan het; al naelkouend met ‘n gespanne uitdrukking op haar gesig. Ek het my pakkasies voor my deur neergesit en haar skeefkop aangekyk terwyl ek die sleutel in die slot gedruk en begin draai het. Sy het my nie eers raakgesien nie en net blindelings in haar eie kantoor ingestaar.

“Môre…?” My groet was net so warm en vrolik soos die lieflike dag.

“Hallo.” Haar groet was alles behalwe vriendelik; heel ongewoon vir haar. Sy kon dit netsowel gelos het. Daar was fout – ongetwyfeld was daar gróót fout.

“Wat is aan die gang?” Ek het onseker nader gestap en geweet dat daar iets vreesliks in haar kantoor moes wees. Dalk het die dak op haar kantoor ingeval… dalk was daar ‘n spinnekop so groot soos ‘n kat wat op haar lessenaar vir haar gesit en kyk het… ‘n Spook? ‘n Monster? ‘n Demoon? ‘n Reeksmoordenaar of ontsnapte wreedaard wat sy van ‘n dekade gelede se Crime Watch erken het? Die duiwel homself dalk? Wat dit ook al was, dit moes groot gewees het, want sy was regtig bang.

Ek moes my vraag effens harder en stadiger herhaal voor sy getraumatiseerd en met pierinkie-groot oë wat steeds iets in haar kantoor dophou, terug antwoord:

“Daar’s ‘n by…”

Ek wou eers lag, maar onthou toe dat dit baie taktloos, ongevoelig en dalk selfs onprofessioneel van my sou wees. My kollega was in distress en het my hulp benodig.

Toe ek by die deur kom en my kop om die hoekie verbyskuif – versigtig soos ‘n soldaat wat wil kyk of die vyand se geweer steeds op haar gerig is – het sy my laat skrik:

“Moenie! Die ding gaan jou steek!”

Ek het haar smeek geïgnoreer, verby die deurkosyn ingeloer, en die klein zoemende insek teen haar venster sien vlieg.

“Het jy Doom?” Die angs was aanvoelbaar eg in haar stem.

“Nee, ek het iets beter!” Ek het omgedraai en ‘n tissue uit my handsak gaan haal.

“Is jy mal!” het sy senuweeagtig gevra.

“Dis ‘n by. Dis nie ‘n monster nie. Buitendien – bye is ‘n bedreigde spesie en dié een is belangrik vir sy hele kolonie.”

Ek het die by versigtig bekruip, hom versigtig in die tissue gevang en gevra dat sy die venster moet oopmaak (korreksie: gesoebat, want sy was steeds verlam deur vrees). Toe die bytjie vry is en wegvlieg, het sy my aangekyk of ek ‘n ietwat kranksinnige hero van een of ander aard is.

“Maar is jy dan nie bang vir bye nie?”

“Ek is bang vir hulle angels. Bye self maak my nie bang nie. Inteendeel – bye gee vir ‘n mens heuning en lekker vrugte en goed. Mens moet net versigtig wees met hulle en hulle respekteer, dan sal hulle jou nie regtig veel aandoen nie. Onthou – ‘n by se lewe sit maar in sy angel, so as hy jou steek dan is sy lewe ook daarmee heen.”

Ek dink sy het steeds gestaan en frons nog lank nadat ek by die kantoor uit is ná my lessie.

Dis die angel wat die seerste maak. Soms báie seer.

Hierdie gedagte het deur my kop gemaal toe ek verlede naweek buite ‘n grillerige traumasentrum vir ‘n vriendin gesit en wag het. Wat ‘n veilige hawe vir verkragtingslagoffers moes wees, was ‘n plek waar ek nie regtig wou ingaan nie. Snotterige vingermerke het soos kunswerke teen die olieverwarmer en muurtjie in die ontvangsarea vasgeplak. Die TV het te hard een of ander oorentoesiastiese prediker se woorde help uitblaker. Die bank in die wagkamer was stukkend en ek was nie seker of dit koekiekrummels of iets anders was wat daarop gelê het nie. Dit en die walgende reuk van oorryp piesangs het my laat besluit om eerder buite te gaan wag. Daar op ‘n koue konkryt-tuinbankie, waar ek eers die duifpoef met my skoen moes afskop.

In die kort tydjie wat ek daar gesit het, het sewe ander slagoffers opgedaag. Die meeste van hulle met ‘n doodsheid oor hulle gesigte; asof hulle dit te wagte was; geweet het dat dit een of ander tyd sou gebeur dat hulle deel sou word van ons wrede land se statestiek. Een of twee het daar ingestap asof hulle die plek al ken en eintlik vir vriende kom kuier; glimlaggend asof niks fout is nie.

Ek was onseker wat om te sê toe ‘n ou swart vrou met ‘n vriendelike glimlag en koddige lyf op die bankie oorkant my kom sit. Wat sê ek vir die vrou? Moet ek iets sê? Moet ek eerder net opstaan en wegstap? Ek kon nie, en het vriendelik gegroet en sy het gretig begin gesels. Ná ‘n kort gesprek oor die vreemde weer en die feit dat die Vaaldam nou darem weer vol is en Eskom gelukkig vir eers gestop het met hulle beurtkrag-nonsens, het sy my gevra wat my naam is.

“And your name?” het ek met ‘n warm glimlag gevra nadat ek geantwoord het. Ek het van die vrou gehou en het om een of ander rede gewens ek kon langs haar gaan sit en haar ‘n drukkie gee.

“Diana,” het sy met ‘n skaam glimlag geantwoord.

“Ah! Like the princess?”

Sy het so ‘n snaakse giggel gegee, wat verklap het dat hierdie opmerking al vir haar ‘n cliché is. “Yes – like the princess.”

En toe trek daar ‘n emosie soos ‘n doringkombers oor haar gesig wat selfs my ongemaklik laat voel het.

“But I don’t have a palace. I just have my family.”

Ek was sonder woorde en kon aan niks dink om te sê nie. Die woorde wat volgende uit haar mond gekom het, het my tot in my siel geskok, en ek moes veg om trane van meegevoel terug te hou:

“That’s my daughter-in-law in there. My son… he likes the alcohol. So when we slept in the night, he and his friends came and kicked open the door of our house. We live in the shack. So they kick in the door and his friends say they want his wife. So they all take his wife. And then he take his wife. And she scream so much. And I run to my neighbor to phone the police, but the police came this morning.”

Stilte, terwyl ek sluk aan die knop wat seer in my keel vorm… Stilte, terwyl sy emosieloos maar met ‘n effense glimlag verder vertel:

“Now we have to wait for the police again. They will come now anytime. They will take her statement and they will take my statement and then my daughter-in-law will be safe. They will arrest him and his friends… my son and his friends… my son.”

Die angel maak die seerste. Veral as dit ‘n by se angel is wat sít. Veral as die gif stadig versprei terwyl mens dit probeer uittrek. Dis  nie die insek waarvoor ‘n mens hoef bang te wees nie. Dis sy angel. Altyd.

Advertisements

14 thoughts on “Die angel maak die seerste

  1. Terug pieng: Laat Strooimeisie jou binnekant roer | Die Wit Hasie

  2. Eina! Eina! (Is dit dalk jou heel beste storie?). Ja, soms is daar tog “insekte” wat met ‘n plak – of selfs iets heelwat swaarder – geslaan moet word. En mens moet jou ook nie (noodwendig) teen die angel blindstaar nie. Baie geluk met hierdie besondere skryfsel!

    Like

Lewer kommentaar op KleinKitti Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s