Prins Albert

Ek was een keer, lank gelede hier. Van toe af wens ek dat ek weer ‘n paar dae in hierdie stukkie hemel kon spandeer… Vandag sit ek maar net agter my rekenaar en dagdroom van Prins Albert.

karoo-view-cottages

Sonsopkoms @ Prins Albert (Foto: TripAdvisor)

Dit is die mooiste gesig: die son wat suutjies agter die berg uitklim, daar skuins agter ‘n plaashuisie se sinkdak. Soos ‘n ondeunde kind wat moeg is om wegkruipertjie speel en versigtig van agter die bank opstaan; al loerend omdat hy maar steeds nie gevang wil word nie.

Sy sit al van baie vroeg af en wag. Die vierde keer die week, en vandag sal ook die laaste keer wees. Dalk is dit waarom sy nie regtig kon slaap nie… Vanaand is dit weer terug huis toe, al wens sy dat sy nooit weer nodig gehad het om terug te keer na die malle gejaag van haar realiteit nie. As sy kon, sou sy elke dag net hier soos ‘n uil op ‘n kluit wou kom sit en wag vir die dag om te begin. Daardie eerste oggendgloed betower haar keer op keer en maak haar sommer lus vir die dag. Dit smokkel met haar kop en gee haar iets om na uit te sien… asof dit iets belowe.

Terwyl sy daar sit, hoor sy voetstappe van agter naderkom. Sy hand druk saggies en liefkosend aan haar skouer en sy draai haar kop, sodat sy sy kneukels net-net kan soen. Dan druk sy haar wang liefkosend teen sy hand en maak haar oë toe.

“Ek wil nie hier weggaan nie.” Sy soebat byna.

“Ek ook nie.” Sy stem is diep, maar sag, en dit is asof hy haar met hierdie drie woorde ook wil vra of hulle nie langer kan bly nie.

Terwyl die hemel verkleur in ‘n palet van ligblou, pers, pienk en die belofte van geel, kom sit hy styf teen haar met sy arms om haar middel. Beskermend.

“Kom ons bly nog ‘n rukkie? Asseblief?” Sy pleit werklik dié keer en hy besef dit.

Hy draai haar na hom en verstaan die begeerte wat hy in haar oë sien. Dit het niks met die plek te doen nie. Sy wil, soos hy, net vir ‘n oomblik langer die rustige kant van die lewe ervaar – sorgeloos en perfek saam met iemand kosbaar.

Sy soen is delikaat, maar warm. Perfek, soos altyd.

“Kom.” Hy staan op, met haar hand in syne toegevou en hulle stap saam terug na die knusheid van die huisie op die heuwel. “Ek is effens honger…”

“Maar dis nog so vroeg en die son is nog nie eers heeltemal op nie,” protesteer sy.

Hy draai net sy gesig na haar en sy stoute glimlag is aansteeklik.

“O…” Sy glimlag sag en tevrede.

Sy kyk ‘n laaste keer om en sien die geel gloed van die dag, en glimlag breër by die wete dat hierdie son netnou weer saggies deur die kamervenster op hulle sal bak.

 

Advertisements

8 thoughts on “Prins Albert

Lewer kommentaar op Biltong & Pot-roast Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s