Donker vrees

Ek dink ek verstaan dit nou. 

Ek het vanaand ‘n film met die naam Dark places gekyk (voorprent). Dit was vir my nogal goed; ek hou daarvan as ek nie die einde van ‘n film kan raai nie; en dit het my laat dink. Veral die laaste paar sinne.

Ek dink nie wat ek nou hier gaan skryf, kan regtig by die film uitgebring word nie. Dis dalk net my diep filosofiese oomblik ná daai tweede glas witwyn wat net té vinnig na my kop (en alle ander ledemate) gegaan het. Tog – op dié oomblik maak dit vir my sin.

Ons almal jok. Soms. Want ons is almal bang. Gewoonlik. Of dit nou vir iets, vir iemand, of vir onsself is… Daar is altyd iewers iets wat ons ontken, nie wil onthou nie, of probeer ontvlug. En om die volle waarheid te ontwyk, help net ‘n bietjie om die bestaan van dit wat ons regtig bang maak, te erken. Dis waarom ons jok as ons droogmaak. Ons is bang vir wat ook al ons aksies sal veroorsaak. Ons is bang vir hoe ons realiteit mag verander op die oomblik wat ons ons vrees in die gesig moet staar.

Die leuen self is egter nie altyd donker nie, en dis nie ‘n donker plek nie. Dis dikwels net iets waaroor ons onseker is. Die spook onder ons bed… die geraamte in die kas… Die donker plek is daardie hoekie in ons kop of lewe waar ons daardie vrees laat skuil. Daardie plekkie waar hy kan wortel skiet en groei. Daar, waar ons naderhand selfs daarvan vergeet. Of waar ons juis nié daarvan kan vergeet nie.
Ek bly in ‘n tweestryd met my en my pa se situasie. Soms droom ek van hom as die ou wat saam met my sandkastele langs die see gebou het, en soms jaag hy my weer in my nagmerries met ‘n pistool in die hand rond. Soms wil ek hom weer in my lewe inlaat omdat hy mos my pa is. En soms wens ek dat ek net van hom kon vergeet. Omdat?

Omdat ek bang is. Moer bang. Nie vir hom nie, maar eerder vir wat hy in my lewe kan doen. Nie omdat ek dink hy kan nie, maar omdat ek weet hy sal. 

Ek dink regtig ek verstaan dit nou.

My vrees het nie soveel met my pa te doen nie; eerder dit wat hy potensieel vir my beteken: fyn en flenters skerwe van myself. Ek is bang hy maak my weer so seer, dat ek nie weer myself sal kan regmaak nie. Dat ek dié keer te veel van myself sal verloor. Dat ek dié keer te hard sal word vir alles wat nié seermaak nie.

Pa… ek kan nie, want ek is bang. Vreesbevange dat jý my weer gaan breek. Finaal gaan breek. En ek is meer as vertrapte leuens, skerwe van drome en valse beloftes werd.

Advertisements

2 thoughts on “Donker vrees

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s