Geluk sit in ’n hond se stert!

Dis ʼn wonderlike gevoel, weet jy? Om te kan asem haal. Om te kan weet jy is so ver van perfek af dat dit nie eers snaaks is nie, maar dat dit okay is. Om te weet dat jy soveel foute het, maar dat jy ook goed is. Om te besef dat die lewe – met al sy ontydige seerkry en onbeplande afdraaipaadjies – met passie en in volheid gelééf moet word… eenvoudig omdat dit juis daarvoor geskep is. En om te glimlag wanneer sien dat – ten spyte van al jou tekortkominge en foute – jou hond se stert steeds opgewonde swaai as hy jou gewaar.

Ek het grootgeword in ʼn tyd waar ʼn hond met ʼn lang stert ʼn vreemdheid was. Veral groot honde met lang sterte was skaars, maar sterte onder kleiner rasse was ook nie altyd populêr nie. Vandag is presies die teenoorgestelde waar.

Dierebeskermingsverenigings en aktiviste van elke kleur en geur het begin om hulle stemme stadig maar seker dik te maak en op te staan teen die brutale marteling wanneer klein hondjies se sterte afgebind word. Net ou honde se sterte is vandag nog kort. As ʼn teler of eienaar van ‘n jong hond vandag op straat gevang word met ʼn afstert-woef, sal hy spoedig hofsake in die gesig staar… moontlike onmiddellike tronkstraf opgelê word… sonder verhoor of borgtog… en in die tronk sal hy dalk self na ʼn ruk ʼn stel knaters kwyt wees sodra die res van die gevangenes sou uitvind dat hy ʼn hond se stert durf snip het!

So lief as wat ek nog altyd vir honde was, kon ek dit – die saak van die hondesterte – seker maar net weens my eie onkunde oor die onderwerp nie heeltemal verstaan nie. Ek meen… dis ʼn hond se stert; nou nie juis wat ek as dieremishandeling sou beskou nie. En as die stertjie vroeg genoeg afgebind was en gereeld skoongemaak is, het die hond sonder veel probleme nie ‘n saak daarmee gehad nie. Vir my, soos baie ander mense, was langstert honde aanvanklik vreemd. En toe verander dit.

Ek het ʼn paar jaar gelede ʼn baba hond aangeneem. Ons ken die telers goed, maar hierdie een hondjie het anders as die res van die werpsel gelyk. Weens hierdie uniekheid, wou niemand hom koop nie. Ek en dié spesifieke hondjie het van die dag wat hy gebore is ʼn spesiale band gehad. Dit was asof hy my uitgesoek het en ek ook vir hom. (Ek weet dit klink seker vreeslik vreemd, maar glo my as ek sê hierdie woef was net “anders” as enige ander hond wat ek nog ooit teëgekom het.) Toe ek hoor dat hy by een van die plaaslike troeteldierwinkels sou opeindig, het ek besluit dat ek dit eenvoudig nie kan toelaat nie. Die volgende dag het ons hom gaan oplaai. En van toe af is hy sy ma se blou-oog-lieweling.

Dit was vanmiddag, toe ek buitentoe gaan om ʼn bietjie met hom te speel, wat ek sy stert weer opgemerk het. Net so lank soos sy lyf, met lang hare wat soos ʼn waaier heen-en-weer as hy gelukkig is. Hoe meer opgewonde en gelukkig, hoe wilder trek die fan-tail. Selfs op ʼn Saterdag, nadat ek hom in ʼn vreeslike wilde week afgeskeep het, het hy met sy lang swaaiende stert vir my deur die venster gestaan en kyk. Nie vies nie. Nie in ʼn bui oor die beperkte aandag nie. Net opreg gelukkig, omdat hy geweet het ek kom met hom speel.

Ek het oor ʼn tydperk my opvatting oor honde en hulle sterte verander en besluit dat ʼn hond se stert sy glimlag is. Dis daardie een deel van ʼn hond wat sy gemoedstoestand wys – daardie opregte vreugde en ondeunde blydskap. Jy weet… soos wat ʼn glimlag vir ʼn mens is. ʼn Stertlose hond is vir my soos ʼn mens sonder ʼn glimlag… ongehoord en verkeerd.

Dieper as dit:

Ek dink mense se geluk sit dikwels ook in hulle stert… metafories gestel, natuurlik. En dit is moontlik vir enige mens om sy/haar stert te swaai en dit vir almal te wys; ten spyte daarvan dat dinge nie altyd lekker is nie, ten spyte van jou verlede, ten spyte van jou huidige omstandighede. Want dit is moontlik om iets te vind om oor gelukkig te wees. Dis egter jammer dat soveel mense eerder kies om hulle sterte reeds van jongs af, af te laat bind… ek wonder of hulle aldag besef watter onreg hulle hulself aandoen.

Liewe mens, is jy stertloos? Wel sluk ʼn bietjie evolusiesap en word ʼn akkedis sodat  jou stert kan begin groei! Maak ʼn plan. Glimlag dat daai pragtige perfekte of skewe pêrels sommer ander mense verblind. Lag hardop en heerlik sodat daardie aansteeklike klank die lug vul en mense emosioneel ophef. Want dis pragtig. Dis lekker. Want weet jy wat? Jy leef… so lééf gelukkig, en moenie bang wees om dit te wys nie!

 

Advertisements

4 thoughts on “Geluk sit in ’n hond se stert!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s