Dank vir stank?

Kan dit werklik al 15 jaar gelede wees? Die gedagte is nog so helder in my kop. Ek, jong en energieke student, wat saam met ‘n groep sendelinge in Afrika ingevaar het. Dit was net vir 10 dae en dit was net Mozambiek toe, maar dit het verander hoe ek oor baie dinge gedink het.

My fokus was by die kinders, wat leergieriger was as wat ek ooit in my lewe gesien het. Hulle het elke woord wat ons gesê het, ingespons asof dit die wonderlikste ding ooit is. Die plaasskooltjie waar ons hulle van 1 + 1 geleer het, het net twee mure gehad. Daar was ‘n grondvloer. ‘n Halwe grasdak. Geen banke of tafels nie; die kinders het op boomstompe en gevlegde grasmatjies gesit en sommer op klein handgemaakte swartborde op hul skote gesit en werk – hul swart handjies spierwit van die bordkryt. Dié kinders het niks gehad nie. Sommige van hulle het skaars heel klere aangehad. Geen skoene nie (ja, dis bos, maar dit is nogal ‘n storie as daar ‘n deel van die oggend afgestaan word vir die kinders om dorings uit hulle voete te trek).

Hulle skoollied, wat selfs deur die valsstes drie keer ‘n dag uit volle bors gesing is, was eenvoudig “My beautiful school. I shall never ever forget my beautiful school.” Ek het, saam met die res van die groep, met trane in my oë gestaan elke keer wat hulle dit gesing het. Dit was geen skool nie, eerder ‘n bouval.

Die onderwyseres het elke oggend eers vir elke kind ‘n drukkie gegee, daarna begin met haar les. Die stuk van die muur wat swart geverf was moes werk vir ‘n onegalige skryfbord waarop die persoon met die mooiste handskrif sou sukkel om leesbaar te skryf. Sy was streng en regverdig; geen kind het eers probeer teëpraat nie en hoewel hulle nie al die antwoorde altyd reggekry het nie, het hulle wel probeer. Aanhoudend en sonder om moed te verloor.

Wat ek by die skool gedoen het en hoe ek op die ou einde ‘n bydrae daar gelewer het, kan ek skaars onthou. Die kinders – klein en groot – wat amper niks gehad het nie, het wel baie vir my gedoen.

Ek weet daar is baie kontroversie rondom “Afrika-geid”. Ek weet daar word dikwels opgebou, net sodat iemand dit kan kom afbreek. Ek weet ons het ‘n mooi en ryk land op ‘n wonderlike kontinent – die potensiële broodmandjie van die wêreld – wat net regtig nie voldoende bestuur word nie. Ek weet dat ek, soos soveel mense om my, al hoop verloor het op ‘n blink toekoms hier. Tog… hierdie kinders, of deesdae die gedagte aan hulle, gee my weer hoop. 15 jaar later. Hulle is al jongmense. Ek hoop net dat hulle nog so positief, leergierig en  vol dryf is soos wat hulle daai tyd was. Ek hoop hulle is nog so dankbaar. Dalk nie vir ‘n halwe gebou as skool nie, maar vir die lewe en dit wat die lewe bied… en ek hoop hulle probeer nog met soveel ywer en  deursettingsvermoë om probleme op te los, want dis mense soos hulle wat van Afrika ‘n beter plek maak.

 

Advertisements

2 thoughts on “Dank vir stank?

  1. Strooimeisie.
    Ek het wyd gery deur veral Wes Afrika.
    Dis ongelukking oral dieselfde en dit laat mense, veral die jonges, ontnugter en moedeloos.
    Intussen breek my hart vir ons land met sy issues.
    Vir Afrika met sy seer geskiedenis.
    Vir Mamma-Afrika wat kan, maar nie wil sorg vir haar kinders nie, want hulle sorg nie vir haar nie en misbruik haar net.
    Vir die geld-wêreld wat nie omgee nie…

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s