Dramavry: ‘n keuse

Hy het ‘n bietjie meer as ‘n jaar gelede die voorstel gemaak. Ek het van die begin af geweet dit was goeie raad, maar nie ‘n idee gehad hoe ek dit ooit gaan kan volg nie. Ek onthou nog hoe ek gedink het, “wel, respek vir jou as jy dit kan regkry”, en hoe ek gewens het sy voorstel het saam met ‘n volledige handleiding gekom. Dit het egter nie en ek moes dit self – ja, selfs sonder die hulp van ‘n wyse vriend – hierdie een uitfigure. Die goeie nuus? Ek het dit reggekry!

Mens besef nie altyd hoe ‘n groot impak jou reaksie op dinge uiteindelik op jou lewe het nie, of dat jy eintlik regtig in beheer is van die uitwerking van enige situasie in jou lewe nie. Of eerder, ek het dit nie tot redelik onlangs besef nie.

Ek het groot geword in ‘n huis waar veral my ma se kant van die familie alles altyd tot iets van “epidermiese proporsies” opgeblaas het. So is die kleinste en nietigste ding, soos iemand wat nie gegroet het in die verbyloop nie, tot die grootste ding ooit opgeblaas. Pleks daarvan dat daar gesê is dat die persoon seker diep in gedagte was of dalk groter dinge het om te hanteer as ‘n eenvoudige “hallo”, is daar besluit dat die persoon nie wou groet nie, dat ‘n vriendskap daarmee heen is, dat dit dalk is omdat die persoon se huwelik op die rotse is, genade – sy/haar kind gebruik dalk dwelms… of dalk was die persoon skaam oor iets en daarom wou hy/sy nie groet nie… want hoe kan die persoon jou nou in die oë kyk… ag shame. Dié storie is natuurlik strategies vertel vir mense wat sou simpatiseer met die verteller… wat dit beslis nié sou oorvertel nie…

As mense iets goeds vir jou doen of sê, het hulle ‘n verskuilde agenda en dan moet jy uitvind wat dit is voor hulle jou in ‘n strik vang. As iemand iets slegs teenoor jou doen of sê, moet jy keer dat dit groter word en uitvind waarom dit gedoen of gesê is, sodat jy die veldbrand en sensasie wat versprei word kan keer. Dit sou dalk kon werk ás jy nie in die proses self sensasie en ‘n veldbrand geskep het nie, wat altyd in my familie die geval was.

Dit was met ‘n groot gesukkel om hierdie mind set wat oor ‘n tydperk van meer as dertig jaar by my ingedril is, af te kon leer en ek sukkel in alle eerlikheid steeds soms daarmee. Maar ek is trots om te sê dat ek dit wel regkry (met wisselende grade van sukses; ek is nog nie ‘n pro nie).

Dis moeilik om te hoor en in sommige gevalle selfs te sien (soms haat ek sosiale media) hoe iemand wat my hoegenaamd nie ken nie, my slegsê en dan nie op my perdjie te spring en ten minste sy/haar storie se kop (soms is ek vies genoeg om sommer sy/haar kop ook) met ‘n skerp swaard te gaan afkap nie. Ek het oor die afgelope paar maande egter geleer dat dit baie beter is om net terug te sit, te besef dat mense geregtig is op hulle eie opinie (ook oor my, my familie en man of my vriende) en hulle die geleentheid te gee om hulleself te geniet in wat hulle doen, sê en dink. Glo my; hulle raak veel vinniger verveeld omdat jy nie optree nie en gaan soek dan self groener drama-weivelde.

Dis alles behalwe maklik om te hoor hoe iemand kla en vertel hoe hulle sukkel, maar in jou hart te weet dat dit as gevolg van hulle eie besluite is wat hulle so sukkel – ten spyte van goeie raad. Dis nie maklik om in hierdie gevalle nie betrokke te raak nie, nie meer raad te gee tensy hulle daarvoor vra nie, en beslis ook nie “maar ek het mos gesê”-sê-goed te gebruik nie. Ek het nie voorheen besef hoeveel mense daar is wat presies die teenoorgestelde van die beste raad gaan doen, net sodat hulle na die tyd kan sit met ‘n mandjie vol drama en verbrande vingers of ego nie. Net sodat hulle aandag kan kry? Net sodat hulle drama het om oor te kan praat? Net sodat hulle vir die wêreld kan vertel hoe verskriklik dit nou weer met hulle gaan? Want, jy weet… die lewe is só onregverdig!

Nonsens, het ek besluit. Daar is mense in my lewe wat mal is oor drama; mense waarvoor ek altyd baie lief sal wees en vir wie ek altyd daar sal wees AS hulle my vra om daar te wees vir hulle. Maar ek het op ‘n punt gekom waar ek self nodig gehad het om fantastiese raad toe te pas en te kies om dramavry te begin lewe.

So pleks daarvan om halsoorkop in die moeilikheid in te spring en te spartel saam met die groep, is ek nou meer bereid om op die kantlyn te staan en ‘n life jacket in die water in te gooi as iemand daarvoor vra. Ek wil nie meer deel wees van die crowd wat iets het om te vertel oor die verskriklike dinge wat met hulle gebeur of wat mense aan hulle doen nie, en ek wil nie meer aandag hê van daardie aard nie. Ek het ‘n tipe van ‘n kantlyn-mens geword, want dis iets wat ek moes doen om myself te red. Natuurlik is ek bereid om ook nader te staan en mense uit die water te help, maar self inspring? Nee – ek het al hopeloos te veel keer amper self verdrink!

 

Advertisements

3 thoughts on “Dramavry: ‘n keuse

Lewer kommentaar op strooimeisie Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s