Ode aan ‘n oop-deur-kollega

Vir meer as tien jaar lank het ek opgemerk hoe hy in die oggende onder by die deur van die gebou gestaan en rook het. Soms ‘n pyp met die lekkerste reuk van kersietabak; soms net ‘n gewone ou stink sigaret. Soms het hy maar net daar gestaan en mense groet, terwyl hy veel meer as net hulle haastige of halstarrige stappie kantoor toe raakgesien het.

Ek het nooit besef dat hy so diep kyk nie en het altyd te geïntimideerd gevoel om ‘n behoorlike gesprek met die man te voer… wat sou hy in elk geval omgee vir ‘n junior floskoppie se siening oor sake. Ek wens egter ek was nie so skaam en teruggetrokke nie, want nou dat dit eintlik te laat is, besef ek hoeveel ek van hierdie man kon leer.

‘n Paar weke gelede het ek, onverklaarbaar tranerig, na sy kantoor toe gestap en hom vir oulaas gegroet. Hy het vriendelik opgestaan, baie dankie gesê dat ek hom kom groet het en my ‘n drukkie gegee. Hoewel ons nooit werklik saam gewerk het nie, en ek net af en toe raad gaan vra het oor werkverwante sake, het hy vir my gesê dit was lekker om saam met my te kon werk. Omdat ek hom leer ken het as iemand wat altyd bedoel wat hy sê, het dié woorde verskriklik baie vir my beteken.

Ek kon sien dat hy baie opgewonde is oor sy aftrede en het hom alle voorspoed toegewens terwyl ek simpel gevoel het oor die botteltjie tuisgemaakte uiemarmelade wat ek as ‘n afskeidsgeskenk vir hom gegee het. (Die marmelade wat my dalk nog eendag beroemd gaan maak!) Hy het egter daarop reager asof dit die grootste geskenk ooit was. En toe besef ek vir die eerste keer werklik waarom ek so hartseer is om totsiens te sê vir hierdie indrukwekkende persoon.

In die tien jaar se “hallo”, “hoe gaan dit” en “goed dankie” het hy kort-kort ook vir my gevra wat fout was, as die normale singerige “goed dankie” nie uit my mond uit geborrel het nie. Soms, as my antwoord op sy vraag om watter persoonlike of werksverwante rede ook al net “okay” was, het hy my half skeef aangekyk en dikwels gevra “hoekom net okay“. Natuurlik het ek nie een keer gekla nie en ek het hom ook nooit vertel wat in my lewe aangaan nie. Ek meen… waar begin ek? Met my huislike hartseer? Met die feit dat ek my pa oneindig baie mis, maar te bang is om hom weer plek in my lewe te gee omdat ek weet hy gaan my weer seermaak? Met my studies wat stadiger as wat dit moet voortsukkel? My rekenaar wat onredbaar ge-crach  het en die feit dat ek toe al die tyd nie, soos wat ek gedink het, alles op my Google Drive ge-rugsteun het nie? Oor die probleem wat ek met my bestuurder by die werk het en voel dat sy my onnodiglik onregverdig behandel en op elke moontlike geleentheid afkraak, terwyl sy my idees en voorstelle as haar eie gebruik? En wou ek werklike sulke dinge aan die “grootbaas” wou verklap?

Eendag, in dié jaar nog, het hy dit egter nie net gelos nie. Hy het my laat verstaan dat hy weet iets is nie lekker nie, maar dat hy respekteer dat ek nie noodwendig daaroor wil praat nie. En toe – dat hy wil hê ek moet verstaan dat sy deur altyd vir my sal oop wees as ek wil gesels oor enigiets – werkverwant of persoonlik. Ek is daardie oggend met tranerig-blink ogies na my kantoor toe, want dinge was op daardie stadium nie lekker by my huis of by my werk nie; tog het ek nie die vrymoedigheid gehad om met hom te gesels oor enige daarvan nie. ‘n Week later het hy nie gevra hoe dit gaan nie; net na sy vriendelike groet gesê “ek hoop dit gaan al beter”. Dit het vir my so baie beteken.

In die soveel jaar wat hy my “grootbaas” was, het hy my altyd belangrik en waardig laat voel in my pos. Enige vraag waaroor ek raad kom vra het, het hy gerespekteer en sonder ongeduld geantwoord; selfs dikwels na die tyd vir my gevra of die saak opgelos is. Geen vraag was ooit vir hom “net ‘n simpel vraag” nie.

Ek het respek vir iemand wat werkers wat ver onder hulle is met menswaardigheid en waardering behandel. Ek het waardering vir iemand wat mens laat voel dat jy ‘n plek het en iets beteken; ‘n waardevolle bydrae kan lewer; maak nie saak waar in die rangorde jy val nie. Ek het iets geleer uit hooggeplaasde mense wat kyk en dieper sien as die masker wat op daardie oomblik oor ‘n mens se gesig is. Dit sê iets van mense as hulle kan sien of aanvoel dat dinge nie lekker is nie, maar jou toelaat om self daardeur te werk totdat jy genoeg selfvertroue het om met hulle daaroor te gesels. Ek wens daar was meer mense wat jou net laat verstaan dat hulle daar is, sou dit ooit gebeur dat jy wil praat oor dit wat krap.

Soms, dink ek, is dit net nodig om te weet dat iemand daar sal wees vir jou as jy die dag nodig het om te gaan afpak. Of jy nou sal of nie. Soms wil mens weet daar is iemand wat kyk en sien en verstaan… en omgee. Soms wil mens net weet dat daar ‘n oop deur in ‘n toe-deur-wêreld is.

So aan my oop-deur-kollega tot onlangs: dankie. Jy het my iets gewys van menswees in ‘n cut-thought toe-deur werksomgewing; van stille leierskap wat dieper kyk as wat die blote oog kan sien; van omgee. Ek gaan jou en die soet reuk van jou tabak voor die gebou eintlik regtig baie mis. Jy is die voorbeeld wat ek streef om te wees – ‘n oop-deur-kollega in alle opsigte.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s