‘n Toilet-storie

Dit mag dalk vreemd klink dat ek nou so iets hier kwytraak, maar ek het nou die dag ‘n regte aha-oomblik daar op die troon in die klein vertrekkie aan die ander kant van ons huis gehad. Siende dat ek al by meer as een persoon gehoor het dat daardie sogenaamde marmergod, waar ons almal daagliks laag moet buig, soms help om blink gedagtes uit te broei, wil ek graag dié met julle deel.

Ons gastebadkamer was nie altyd ‘n helder, mooi of gemaklike plek nie. Inteendeel – toe ons oorspronklik by die huis ingetrek het, was dit een van die grillerigste badkamers waar ek ooit heen moes gaan. Dit was skoon en netjies; daaroor het ek seker gemaak. Grillerig dus in die sin dat daar iets aan die plek was wat gemaak het dat ek eerder sou knyp tot ek na ‘n ander badkamer kon gaan. Die vloer en mure het daardie amper-swart klipperige teëls op gehad. Die wasbakkie, toilet en stort was oud en alles het meer as die aanvaarbare hoeveelheid stampe weg met merke en krake wat oral wys. Een liggie wat ook maar net op genade lig gemaak het, het ‘n amperse kersligeffek in die grotagtige plek geskep en die enigste venster (piepklein agter die stort) kon nie juis minder lig inlaat nie.

Dit was ‘n badkamer waarheen ‘n mens nie wou gaan as jou piepie groot of dringend was, of as jou maag ontstuimig of onvoorspelbaar was nie… of eerder, dis hoe dit vir my gevoel het. Dit was die plek waar jy  eers ná behoorlike inspeksie sou wou sak, jou besigheid doen en so vinnig moontlik jou hande was, sodat jy net daar kon wegkom. Ja… inspeksie! Dit was die enigste badkamer waar ek dit ooit gedoen het, maar ek het dit elke keer gedoen: voor ek gaan sit het, het ek eers die toilet se sitplek versigtig met een vinger opgelig en rondom die toilet geloer het om seker te maak dat daar GEEN kriewelende agtpotiges is wat dalk op my skoot sou wil klim in die middel van ‘n… uhm… offersessie nie. Die toiletrol is ook telkens versigtig nagegaan voor ek veilig genoeg gevoel het om myself nederig te laat verkeer. (En ja – ek blameer hoofsaaklik Facebook hiervoor, want dis net as gevolg van die van reën- of muurkrapspinnekoppe wat in badkamers of aan die agterkant van toiletrolletjies skuil!)

Natuurlik was my paranoia nie verniet nie! Ek het een of twee keer ‘n wandelende duiwelsding daar gekry. Die badkamer is dan ge-Doom en so gelaatstaan vir ‘n halwe dag. Toe venster, toe deur en al. Eers dan het ek al die moed wat ek moontlik gehad het bymekaargeskraap om die dooie gedrog te gaan verwyder (met ‘n LANG besem en ‘n LANG skoppie, sodat ek hom so op ‘n afstand in die toilet kan afspoel). Teen dié tyd was my nood natuurlik al heeltemal weg. (Ek het al gewonder of piepie op een of ander manier omskakel in adrenalien, want waarheen anders gaan dit as mens dit so wegskrik!)

Die badkamer is genadiglik nou oorgedoen. Onpraktiese muurtjies wat die lig van die troon weggekeer het, is uitgebreek, die enkele liggie is met nuwe downlights vervang wat die hele vertrek goed verlig, die donker teëls is vervang met moderne ligte teëls en die toilet, wasbak en stort is ook meer modern en natuurlik sonder al die stampmerke en krake. Sagte handdoeke, gordyne wat die heelwat groter venster omhels en  en ‘n mooi groot goueraam-spieël sorg dat die plek meer uitnodigend en minder intimiderend is… ‘n plek waar jy jou offer met ‘n gewillige hart en sonder paniek of spanning kan bring.

Tog… toe ek nou die dag weer soontoe gaan (want die badkamer aan ons kamer was beset), het hierdie eienaardige gevoel my weer beetgepak. Ten spyte van die pragtige plek waarin die badkamer getransformeer is, en die feit dat ‘n paar jaar nou al verby gegaan het vandat ek laas ‘n spinnekop daar gekry het (terloops – peppermint of suurlemoen help om allerhande grillerige goed agter ‘n toilet weg te hou; vervang dit net elke dan en wan), het ek steeds effens grillerig gevoel. Onseker of ek met vrymoedigheid kan gaan sit; dit ten spyte daarvan dat ek al honderde of dalk selfs duisende kere sonder om twee keer te dink, dit wel intussen al gedoen het.

So wat anders moes ek doen? Ek het, soos wat ek jare gelede gedoen het, die sitplek met die punt van my een vinger opgetel en vanaf ‘n veilige afstand die onderkant daarvan beloer… op my tone gestaan en staaaaaaaadig probeer om agter die toilet in te kyk en seker te maak daar is niks nie… en nadat ek in die toiletrolletjie se gaatjie gekyk het, die rol een keer versigtig laat rol.

Ek was hoorbaar verlig toe ek geen spinnekop van enige kleur of grootte daar ontdek het nie.

In die sit het ek oor my optrede nagedink en nogal simpel daaroor gevoel. Kon ek myself egter blameer? Seker nie. Daar was net ‘n oomblik wat ek getwyfel het; ‘n oomblik wat ek onseker was; ‘n oomblik wat ek nodig gehad het om aan myself te bewys dat daar niks is om voor bang te wees nie.

Dis vreemd, en ek wens ek kon verstaan hoe dit gebeur dat alles heel goed gaan, tot een dag waarop ‘n mens sommer net skielik en sonder rede terugdink aan dinge wat was en dan spinnekoppe onder ‘n toilet se sitplek begin soek… die sitplek waar jy voor jou siel weet geen spinnekoppe meer is nie…

My aha-oomblik? En is dit nie soos wat die lewe ook maar is nie? Ten spyte van die tye wanneer alles goed gaan en jy geen rede tot kommer het nie, ís daar soms nog dae wat jy vir geen rede begin twyfel en wonder of alles wel reg is nie. Ek haat dae soos daai, en dit bly vir my ‘n geweldige groot uitdaging om nié die toiletsitplek van my lewe op te lig nie; te vertrou dat die mintblare en suurlemoenstukkies wel doen wat hulle moet doen… aan te hou glo dat geen spinnekop my aan die boud gaan byt of op my skoot gaan klim terwyl ek kwesbaar is nie. Jitte – maar soms is dit regtig nie maklik nie! Want wat AS daar ‘n grillerige reënspinnekop is wat wag om jou ‘n hartaanval te gee wanneer jy dit die minste verwag?

Advertisements

14 thoughts on “‘n Toilet-storie

  1. Jy moet net bloot genoeg mintblare en suurlemoenstukkies in jou lewe toelaat……soet, suur…..en tog ‘n bietjie bitter. Dit maak van jou ‘n beter en sterker mens…..

    Like

  2. Terug pieng: Facing the giants | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se blog

  3. Ek was nooit rerig bang vir spinnekoppe nie. Het in die bos groot geword. Gewoonlik as ek my cabin in die kloof oor wegbreeknaweke oop sluit, dan lê daar maar ‘n paar verkrimpte spinnekopgeraamtes. Dan vee ek hul uit. Maar so 3 maande terug moes ‘n klein spinnekop my daar gebyt het, jinne, dit was amper doktersake! Ek weet nie eens wanneer ek gebyt is nie. Nou het ek baie respek vir hulle …

    Like

    • Klein karnallie! Die meeste spinnekopbyte kon glo voor terwyl mens slaap. Kenners meen spinnekoppe wíl nie noodwendig byt nie; hulle verdedig hulleself net as hulle bedreig voel… en as mens oor hulle rol in die bed, voel hulle blykbaar redelik erg bedreig. 😉

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar op strooimeisie Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s