Klein goedjies gewaarwording

Toe ek vanoggend wakker word, het ek geweet: ‘n onsigbaar-klein gogga het my iewers deur die nag beetgekry en maak nou moles met my hele lyf. Dit gaan my verstand te bowe dat iets so klein soos ‘n enkele griepvirussie ‘n mens se kop so kan laat pyn, jou lyf kan laat voel asof jy gekneus is op plekke wat jy nie geweet het jy het nie en jou so kan laat sweet. Dalk is dit net omdat ek lanklaas regtig so seer gehad het, dat dit nou voel asof ek amper besig is om dood te gaan.

Maar regtig nou – ek dink ons onderskat dikwels die impak wat klein goedjies op ons lewe kan hê. ‘n Griepvirus is maar net een so ‘n voorbeeld.

Ek het gister vir die eerste keer in ‘n baie lang ruk besluit om net lui te wees. Soos in absoluut niks (behalwe die nodigste) te doen en net voor die TV te lê en te rus. Dit is dalk waarom die gogga my gebyt het. Om een of ander onverklaarbare rede word ek altyd siek die oomblik wat ek begin ontspan ná ‘n ernstige werksessie of spanningvolle tyd. Kon nog nooit uitfigure waarom dit juis só werk nie.

Tussen al my gunsteling TV-programme en hier en daar ‘n film en ‘n blok sjokolade, het ek begin dink oor die plek waar ek myself tans bevind. Nie die fisiese plek nie, maar eerder emosioneel. En ek het ‘n klein gogga ontdek waarvan ek nie regtig baie hou nie; een wat dalk erger as griep kan wees.

Ek het besef dat daar iewers tussen “ek is selfstandig en sterk” en “kyk waar ek vandaan kom” iets in my begin groei het, en ek het nie ‘n clue hoe om dit te hanteer nie.

Ek is bang.

Net dit. Skeitbang vir die toekoms én die hede.

Die vrees dat dit wat ek doen en dit waarvoor ek staan hoegenaamd geen impak gaan hê en deur niemand onthou gaan word nie.  Ek is bang dat ek eendag sal wakker word en besef dat ek alleen is; dat almal vir wie ek eens op ‘n stadium omgegee het weg is. En dit is net ‘n stukkie van my bangheid.

Die grootste bang, of dalk die kleinste bang in my wat tans die grootste impak op my lewe het is egter die feit dat ek beginbang word het vir enige vorm van intimiteit – hetsy in liefde of in vriendskap. Dis iets wat ek die afgelope paar maande; dalk al jare; onderdruk. En dis klein genoeg om baie potensiaal te hê om groot skade aan te rig. Soos ‘n griepvirus se greep op ‘n mens se kop en spiere; ‘n stofkorreltjie vir ‘n asmalyer; ‘n lugborrel in ‘n persoon se aar; ‘n klein chip op die rand van ‘n Royal Albert-teekoppie. Ek het hierdie vrees in my dat iemand eendag weer vir my gaan sê “sorry, maar jy is net nie goed genoeg nie”.

Dit voel vir my asof ek die begeerte om nuwe mense te ontmoet en vriendskappe te verdiep begin verloor het, want op een of ander stadium raak almal tog op een of ander manier weg en beweeg hulle aan. En dis alles cool, behalwe as hulle jou vergete en ontnugter laat staan en wag met twee glase wyn in die hand. Dis seer as mense van jou vergeet. En dit gebeur sonder waarskuwing en sonder dat iemand regtig daarvoor vra. Dalk is dit waarom soveel van ons maar eerder ons kantoordeure toemaak en net fokus op ons daaglikse pligte; onsself toespin in ‘n koekon van “ek het nie nou tyd nie” en “ek is regtig besig”, want as ons werk ons besig genoeg hou, sal die mense mos nie kan pla nie. As mense nie kan pla nie, dan is daar geen kans dat ons naby aan hulle kan kom nie… wat lei tot die vermindering van potensiële seerkry.

Ek het nie meer die begeerte om nuwe dinge by die werk aan te pak of selfs voor te stel nie. Ek is moeg vir die aanhoudende afbrekende kritiek en ek is moeg daarvoor dat goeie en uitvoerbare idees afgekraak word omdat een of twee kollegas eenvoudig te lui, sleg of te incompetent is om saam te werk. Ek het respek vir ‘n paar mense verloor toe ek sien hoe manipulasie en verswakte standaarde aan die orde van die dag is en dan toegesmeer word met stroop sodat niemand te veel vrae vra nie. Ek is moeg daarvoor dat hierdie dinge – die blatante verlaging van standaarde om in ‘n beter lig gesien te word deur mense wat nie ‘n idee het waaroor dit gaan nie – wat so teen my grein gaan, nou op my afgeforseer word. Ek is moeg daarvoor om te voel asof ek amper gestraf word wanneer ek iets voorstel; asof iemand besluit, “Haai siestog! Sy het nie genoeg werk om haarself mee besig te hou nie… hier is dus nog ‘n hoop breinlose werk vir jou… los die breinwerk tog net vir iemand anders want dis nie jou werk nie.” (Ja, die laaste deel is al in soveel woorde vir my gesê!) Ek is gatvol daarvoor om nét te doen wat ek moet en niks meer as dit nie; vir iemand wat haar hele lewe lank nog die ekstra myl loop in alles wat sy doen, is dit hel om nie myself te kan wees nie en dis hel om te moet aanvaar. Klein goedjies wat gebeur het, wat nou aan my vreet en my lam laat voel. En bang. Wat ek is bang vir die dag wat ek my groot mond gaan oopmaak en dan nie weer myself gaan kan stil kry nie. Dit gaan waarskynlik die dag wees wat ek “werkloos” op my Facebook-profiel sal moet skryf.

En dan… in my persoonlike lewe… is ek bang vir my eie foute. Ek is oor die afgelope paar maande so pynlik bewus gemaak van elke swakpunt in my lewe en elke fout wat ek maak. Het jy geweet hoeveel selfvertroue dit kos om intiem te wees met iemand? Ek bedoel nou op seksuele vlak. Dis iets waaraan ek nooit gedink het, totdat ek besef het dat ek geen meer selfvertroue in dié verband oor gehad het nie. Dit is iets wat niks met begeerte te doen het nie (die hemel weet, daarvan het ek hope). Ek is in hierdie opsig skielik so bang dat ek hom net wéér sal teleurstel. Ek is so bang dat ek wéér nie genoeg sal wees nie. En ek is so bang dat hy opnuut sal besef dat ek wéér net ek is; niks meer as net dit nie. ‘n Paar klein woordjies wat in woede gesê is; wie weet of dit waar was of nie; wat my laat wegskram en laat hardloop as intimiteit op die spyskaart is en my laat bang voel vir die nagevolge. Dit het my seksueel begin doodmaak. En dit maak my selfs nog banger, want ek weet hoe ‘n belangrike deel hierdie intimiteit vir enige verhouding en die huwelik is.

So dis gesê. Dis uit. Ek en my blog-lesers weet dit nou. Ek is bang. Klein monstertjies het aan my binnekant kom vreet en nou sit ek hier met hierdie groot issue in my kop, en die wete dat iets besig is om my te oorweldig en stadig op te eet: ék ís báng! En ek haat dit. En ek het nie ‘n benul wat nou nie.

12 thoughts on “Klein goedjies gewaarwording

  1. Ek lees tans hierdie wonderlike boek, ‘Unashamed’ deur Christine Caine. Dit gaan sommer oor ons vroue en die reuse wat ons bedreig. Ek wil dit regtig aanbeveel.
    En … uhm … ek is bang om dit te vra … is dit nie tyd vir vernuwing wat jou werksituasie aanbetref nie? Ek wonder maar net? Jy het soveel potensiaal wag skree om uit te kom?

    Liked by 1 person

  2. Ek wil `n baie slim dametjie se woorde vir jou aanhaal….
    “Hoeveel keer laat ons toe dat vrees ons baas raak. Dis eintlik so verkeerd. Hoewel ons dinge wat met ons gebeur en selfs ons optrede daaroor moet in ag neem (en dit in ’n sekere mate ook moet respekteer en selfs waardeer), behoort vrees vir veral sulke simpelhede nooit beheer oor ons te hê nie. Die gogga moet eintlik nie die baba bang maak nie; die baba moet maak dat die gogga weghol! Ons moet beheer hê daaroor. En sou dit gebeur dat ons nie beheer het daaroor nie, dan kan ons altyd besluit om daarnatoe te werk. Die keuse is ons eie – wil ek die vrees oorwin of wil ek vir altyd bang wees?”
    https://strooimeisie.wordpress.com/2015/08/18/baba-maak-vir-gogga-bang/
    Partykeer antwoord jy sommer jouself, laaaaank voor jy geweet het jy gaan dit nodig hê. Ons almal maak foute langs die pad, ons almal beland soms in `n doodloop straat, want daar is nie `n GPS vir jou lewe nie. Maar jy is `n sterk girl, vir wie ek die wêreld se respek het. Ek weet daar is niks wat jou onderkry nie. Die mense by jou werk wat nie jou sonskyn kan raaksien nie, verdien in elk geval nie dat jy enigsins ekstra moeite vir hulle doen nie. Glo in jouself, en die res SAL in plek val.

    Liked by 1 person

  3. Ek verstaan jou bang heeltemal. Jou kop sê vir jou jy moenie na die duiwel luister wat al hierdie stront in jou oor fluister nie, jou hart hoor dit tog. Moenie probeer om alles op een slag uit te “sort” nie. Een dag kom daar ‘n liggie aan in ‘n sekere situasie en jou skouers word ligter. Komende van ‘n glas-half-leeg mens kan ek jou se dit is maar ‘n daaglikse stryd teen die klein jakkalsies wat ons verhoed om ons lewe ten volle te leef. Moet net nooit opgee nie, hou aan om teen dit te baklei.😉 Eendag sal iemand oor jou pad kom wat dink jy is die “best thing since sliced bread”, en jy sal net weet dat jy bietjie skiet kan gee en die mure afbreek wat jy om jou bou. Sterkte xx

    Like

Lewer kommentaar op perdebytjie Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s