Padsarkasme

Ek kom vanoggend, terwyl ek soek na ‘n e-pos wat ek ongelukkig wraggies uitgevee het, op ‘n boodskap af wat ek lank gelede vir iemand gestuur het. Dit was een van die boodskappe wat ek gedink het wel uitgevee is, so imagine hoe verras was ek!

In die e-pos het ek vertel hoe mense wat nie padreëls nakom nie, die wit waks uit my irriteer. Nadat ek iemand wat baie naby my is so byna-byna in ‘n ernstige padongeluk verloor het (‘n aankomende kar kon nie in sy baan bly nie en die besope poe… ek bedoel, persoon, het boonop die spoedbeperking oortree), voel ek selfs sterker hieroor.

My gedagtes het sommer vanself na ‘n insident gegaan wat ‘n hele ruk gelede plaasgevind het, en ek het gesit en grin vir myself… En aangesien ek ‘n vinnige blaaskans van my studies wil vat, deel ek dit graag…

Een ding moet julle van Strooimeisie weet: sy hou niks van mors nie. Of dit nou kos, tyd, water of geld is wat onnodig vermord of uitgegee word; mors is vir my ‘n vieslike ding en ek haat dit soos pes.

Verkeersboetes; iets wat sommige mense weekliks, maandeliks of jaarliks derduisende rande uit die sak jaag; is na my mening iets wat as geldmors geklassifiseer kan word. As jy weens jou eie nalatigheid nie by die reëls wil hou nie en geld daarvoor wil opdok, is dit seker net jou eie keuse. Dis vir my egter sleg, want mens mors nie net met geld nie maar ook dikwels ook ander onskuldiges (wat die padreëls waarskynlik navolg) se lewe.

Okay… okay… okay… Ek gee toe dat ek seker baie ver van onskuldig af is. In die 15 of wat jaar wat ek al my liksêns het, het ek al ‘n volle drie spoedboetes gekry. Maar ek moet ook net sê dat dit almal boetes is wat ek gekry het net nadat ek ‘n nuwe (of ander) kar gekry het. So ek wil dit graag duidelik stel dat dit eerder as “spoedbewusmaking” as “spoedkaartjies” beskou moet word. Enigiemand wat al ooit opgradeer het van “skedonk” tot “knortjor” tot “kar” tot “check my wiele” sal waarskynlik presies weet waarvan ek praat. Daardie eerste paar kilo’s se ry is ‘n moerse aanpassing, want dit voel asof jy stadiger ry as wat jy werklik doen. So ja… ek is skuldig, maar met ‘n baie goeie verskoning. En elke keer was dit maar ‘n klein boete (net so R200 wat ek die omie by die hof gaan vra het om nog verder te verminder), omdat ek net so amper-amper by die spoedbeperking gehou het en net-net vinnig genoeg gery het om ‘n kiekie in die pos te kry.

Dit gebeur toe nou so dat ‘n vriendin eendag saam met my in my kar ry. Haar kar was stukkend en ek het aangebied om haar daardie aand by die werk te gaan oplaai en huis toe te vat. Ons het heel rustig in een van die hoofstrate – ‘n dubbelpad met twee vaste spoedkameras – gery en omdat dit in die omgewing van halfses was, was dit nogal besig en in die piek van ons plattelandse spitstyd. Ek was in die vinnige baan, en daar het voor en langs my karre teen dieselfde spoed gery.

‘n Ent agter my het iemand in ‘n blink plat dingetjie baie vinnig op ons tjorre afgepeil. Hy het tussendeur die ander karre gevleg en as iemand te lank na sy sin gevat het om baan te verwissel, het hy ongeduldig sy ligte geflits en ek vermoed in die verbyry sommer ‘n paar lelike woorde en/of gebare ook by die venster laat uittrek.

“Kyk nou dié aap,” het ek rustig vir die effens ouer vrou langs my in die kar gesê.

Met die kar voor my in dieselfde baan as ek en die een skuins voor my in die baan langsaan, wat almal by die spoed gehou het, kon ek natuurlik nie vir Meneer uit die pad kom nie. Ek meen… daar was vir my geen plek om heen te draai nie en ek was verseker nie van plan om my tjor af te skryf teen ‘n randsteen nie. Meneer se common sense was egter min en sy ongeskiktheid baie, en ten spyte van sy protes is hy binne enkele sekondes sommer tussen ‘n hele rits karre ingeboks… tot sy erge ontsteltenis. Iewers was ek dalk vir ‘n oomblik bang dat hy ‘n ongeluk sou maak en dalk meer as net homself sou afskryf.

Met ‘n geflits van ligte, wilde handbewegings en ‘n mond wat dalk eerder maar uitgewas moes word, het die man in die plat kar agter my gebly, totdat die kar skuins agter hom besluit het om die arme siel tog maar ‘n kans te gee om bane te verwissel. Hy het ‘n kort entjie verder by dieselfde verkeerslig as ek stilgehou… langs my… Sy venster was reeds af en hy het my vriendin so ewe met ‘n glimlag gevra om hare ook af te draai. Sonder om twee keer te dink, het sy dit gedoen (tot my verdere frustrasie).

“Tannie, is die kind besig om te leer bestuur?” was sy gemaak-vriendelike vraag; so vol omgee soos ‘n perdeby se angel.

Laat ek nou net eers verduidelik: my humeur is nie een wat vreeslik lank hou nie. Veral nie as daar ‘n padvark in ‘n plat kar langs my probeer maak of ek ‘n kind is nie. Ek het al baie gehoor dat ek jonger lyk as wat ek is en is tot op 25 nog by casino’s voorgekeer en gevra vir my ID, maar wraggies! Om ‘n vrou wat duidelik al in haar dertigs is ‘n kind te noem kan mos eenvoudig nie geduld word nie. Om te dink dat ek ‘n kind is omdat ek by die reëls hou, het my ook beduiweld gemaak. Die man se pad-manewales en nou ook nog sy arrogansie het my bloed om al die verkeerde redes laat kook. En weet jy wat gebeur as my bloed kookpunt bereik? Woorde borrel in onkeerbare sarkastiese rympies by my lippe uit.

Ek het vorentoe geleun om verby my vriendin te kyk; voluit in Meneer se oë. Die selfvoldane uitdrukking op sy gesig was soos die laaste bietjie oemf wat nodig was om dié ketel te laat oorkook.

“Hoekom? Het Oom bestuursklasse nodig?” My vraag het meer onskuldig geklink as wat ek wou hê dit moes.

“Poplap, as jy in die vinnige baan is, dan beteken dit jy moet jou petrol trap.” Dit was duidelik dat hy wag vir nog ‘n oorkooksel.

“OOM…” Ek het dit aspris harder gesê, en dit het duidelik die gewensde effek op die outjie se ego gehad. “Kan ek vir jou my besigheidskaartjie gee?” Sy gesig het van vermakerig tot heel uit die veld verander. Ek het hom egter nie kans gegee om te antwoord nie.

“Ek kan jou help met ‘n puik oogkundige. Duidelik sukkel jy om die spoedbeperking te lees én dis ‘n dieselkar dié.”

“My oë makeer niks.” Hy was nou nogal bekaf en minder selfvoldaan.

“Nou dan móét jy my kaartjie vat. Ek kan jou leer lees!”

Met dié het ek regs gedraai en hy het verder gestaan en wag vir die lig om vir hom groen te slaan. My vriendin het heelpad huis toe gelag en ons spot tot vandag nog daaroor.

Ek wens amper die lig was vir my langer rooi, want ek sou graag wou sien hoe hy soos ‘n wafferse goudvis hap vir antwoorde (my vriendin sê dis hoe dit gelyk het) of wou hoor wat sy volgende opmerking sou wees. Ek hou immers van ‘n uitdaging; veral as dit ‘n uitdaging is om my brein te laat werk en op my voete te laat dink. Maar… die pyltjie vir my was groen. En die padreëls het gesê dat ek liewer moes ry.

Advertisements

5 thoughts on “Padsarkasme

  1. vuurklip is moedswillig. As ‘n kar voor hom indruk is daar soms geleentheid om wraak te neem. Dikwels stop ek agter die indrukker by ‘n rooi lig. Die oomblik wat die lig groen slaan, blaas ek die toeter. Dit irriteer die hel uit so ‘n indrukker uit.

    Like

  2. Ek laat altyd die padvark in die groot 4×4 agter my toe om verby my klein karretjie te ry en dan trek ek agter hom in, waai vir hom in sy regterspieël, flits my ligte, druk my toeter – tot my man my ernstig berispe. Dan seil ek rustig by hom verby in die linkerbaan teen die hoogte op. Baie min van daai grootkokkedoor diesel SUVs is vinniger as my klein motortjie EN ek is ‘n beter bestuurder.

    Like

  3. Dis tog so onnosel dat mense dink ‘n gewone dubbelbaan se regterbaan is vir vinnige verkeer.Mens ry juis regs omdat jy regs gaan draai!Ek is net so moeg vir sulke stommerikke en ek moet erken,dat ek soms grens aan padwoede oor sulke ape!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s