Ek kort ’n vakansie

So op die oomblik voel dit asof ek naby breekpunt is.

Nee – nie oor my persoonlike lewe nie. Dinge in my huwelik gaan eintlik weer heel goed vir ’n slag. Vir die eerste keer in ’n lang tyd voel dit asof my man besef wat ek bedoel as ek sê ek is lief vir hom, en as hy my vashou kan ek voel dat iets iewers verander het. ’n Goeie verandering, wat ek hoop dié keer bly en hou. My werk is egter net te veel en wil nie klaar kom nie… inteendeel, die berg van ’n agterstand wat ek het word net al groter en groter, die spertye kom net nader en nader, en my werk frustreer my soms soveel dat ek oorweeg om maar eerder strate te gaan vee vir ’n lewe of pizza af te lewer… maar dit sal nie werk nie, want ek sou dan my hele salaris opeet en te swaar geword het vir die pizza  delivery scooter. So nou weet julle waarom ek my blog deesdae so afskeep: studies, werk, honde-kinders, man en ’n huishouding juggle is nie ’n maklike taak nie, maar my beste vriendin glo vas dat ek Supergirl is, so dalk kry ek die onmoontlike nog eendag reg.

As julle my in lewende lywe geken het, sou julle weet dat ek nogal ’n dagdromer kan wees op die beste van tye. Verre lande fassineer my, nabye plekke ook. Ek droom onbeskaamd en kliphard van die Kaap en sy bekoring en die bosveld se naggeluide… knetterende vure in kaggels wat ek nie hoef skoon te maak nie… onbekende paaie en weggesteekte kliphuisies met groot kuierstoepe… groen grasperke onder koeltebome wat treur dat dié rissiepit nie verewig daar kan lui wees nie…

Nog iets oor my: ek kry dit eenvoudig nie reg om stil te sit nie. Hoewel ek nie glo aan multitasking nie, is dit vir my die grootste straf om net te moet stilsit. Daarom is ek altyd aan ‘t google, tel ek die naaste leesstof op as iets my begin verveel en skop-skop-skop ek alewig met my voete as ek verveeld is. En wat ek doen, is waarop ek fokus. As ek TV kyk, sal my hele lyf en gesigsuitdrukking saamkyk (dikwels tot die vermaak van die mense om my). As ek studeer, sal ek in georganiseerde chaos tussen papiere en papiere sit en frons. As ek met my honde speel, sal hulle weet dat hulle prioriteit vir my is. Aktief. Gefokus. Toegewyd. Dis in my ingebore en ek kan dit nie help nie. So wat ek nou volgende gaan bieg is GROOT…

Vandag, tussen my werk deur en met ’n hoofpyn wat broei tot iets wat my waarskynlik vanaand na twee pille sal laat gryp, het ek myself kort-kort betrap waar ek sit en wonder hoe dit sou wees om net weg te breek van die plek waar ek op die oomblik is. Waarheen sou nie soveel van ’n probleem wees nie; ek het nie nonsens wat dit betref nie. Saam met wie sou my ook nie pla nie, hoewel julle seker kon raai dat dit lekker sou wees om saam met my man weg te breek… weer gehaltetyd vir mekaar te maak en mekaar net met tyd te bederf (want dit bly steeds vir my die grootste geskenk wat iemand vir my kan gee). Ek het nog nooit net alleen of alleen saam met vriende weggegaan nie.

Die “hoe” is egter die probleem.

Tyd is iets wat ek wraggies nie veel van het nie en ek kan mos nie net afnsy en wegbreek van my verpligtinge af en myself gaan geniet nie! Daardie skuldgevoel wat so knaag as mens weet jou vloere blink nie of jou werk is nie voor pleks van agter nie, is iets wat nog eendag ’n gat in my kop gaan vreet. Wat sou dit nou buitendien van my as mens sê as alles nié reg is nie! Tog wens ek dat ek ’n uitvoerbare plan kon beraam om net vir ’n rukkie te kon wegkom uit die malle gejaag en verantwoordelikhede in my lewe… die spertye… die druk en die (eintlik) onrealistiese eise wat gestel word deur mense wat eintlik nie ’n benul het wat ek alles doen nie.

Ek is moeg. Sielsmoeg. Kopmoeg. Lyfmoeg. Emosioneel en fisies voel ek so uitgeput dat ek net wil slaap, lui wil wees en ’n veer wil voel omdat ek net vir ’n rukkie selfsugtig is en niks doen nie… net totdat my batterye weer gelaai is, in elk geval. Net vir ’n langnaweek… dalk vir ’n week. Net sodat ek saam met die somer sonnig kan lyk en mooi kan voel. Maar.

Terwyl die stapel werk op my tafel my aangluur omdat ek 10 minute afgeknyp het vir dié skryfsel (okay… dis eintlik sover 12) en om myself van totale waansin te red, weet ek diep in my hart:

Ugh… ek kort ’n vakansie! Maar ek kan dit in terme van tyd ongelukkig nie bekostig nie.

Advertisements

6 thoughts on “Ek kort ’n vakansie

  1. Ek is bly dit gaan weer goed in jou huwelik (ek weet nie hoekom nie maar ek het gedink jy het nie meer een nie – sorry). As DIT goed gaan maak dit die res makliker.
    Die tyd van die jaar gaan dit dol en ek dink die meeste mense voel so – jy moet fokus op dit wat belangrik is, nie blink vloere en sulke goed nie, gee jouself tyd en vat bietjie ‘n blaaskans.
    Sterkte ek hoop jy voel gou beter.

    Like

    • Dankie vir die inloer en kommentaar!
      Weet jy… ‘n kort rukkie terug het ek gevoel of ek nie meer ‘n huwelik het nie. “Egskeiding” was die tema van al ons gesprekke en ek het nag na nag nagmerries gekry daaroor, want dit was nooit my keuse om te skei nie; nie van die liefde van my lewe nie. Ten spyte van alles wat ek en hy gedoen het. Op een of ander manier het dinge egter beter geword. Ek dink daar moet nog baie gebeur voor ons kan sê dit is nou REG, maar op die oomblik is dit BETER. En daarmee kan ek op die oomblik tevrede wees.

      Jammer as ek jou of iemand anders onder ‘n wanindruk gebring het. Ek het bloot geskryf wat ek op daardie oomblik gevoel het. My een skryfsel was ‘n werklike droom, maar dit was net ‘n droom. Gelukkig het dit nie regtig gebeur nie, en ek hoop dit sal ook nooit gebeur nie.

      Liked by 2 people

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s