Jou protea

Toe ek en my man getroud is, het ek toegegee met baie goed waaroor ek al as klein dogtertjie gedroom het.

Die troue was byvoorbeeld nie ‘n kaalvoet-piekniek langs die rivier, onder die groot bloekoms, wilgers en plantane, op sagte lowergroen gras nie. Dit was ‘n aansit-ete (hoewel steeds langs die rivier). Ek meen… wie gaan tog na ‘n troue toe sonder skoene, en ‘n piekniek het niemand se maag nog ooit vol gemaak nie… blykbaar! My rok was nie ‘n ligte avokado-groen met ougoud en vuilpienk borduurwerk op nie… want watter bruid wat die woord werd is, trou tog in iets anders as spierwit? Pleks van ‘n natuurlike los styl vir my krulkop, is my hare die oggend uitgeblaas, ingedraai en stywerig-hoog gebind, gesteek, gespuit, bespuit en – nét ingeval ‘n halwe haar dit sou waag om sy puntjie in die wind te steek – wéér gespuit. Daar was nie net ‘n paar mense nie, maar presies eenhonderd.

Dis egter goed wat my min gepla het. Vir my was troues nog altyd eienaardig. Mense wat dit nie regtig kan bekostig nie, se ouers spandeer ‘n huis se prys (indien dit nie meer is nie) op een enkele dag en dan sukkel die getroude paartjie vir die daaropvolgende vyf (of meer) jaar om finansieel sterk genoeg te word om dalk ‘n klein yskassie te kan koop. Ek en my man het besluit dit gaan nét een dag wees, en ongeag wat gebeur of nie – dit gaan een dag wees wat ons spesiaal sal maak en wat ons vir die res van tyd sal onthou. Dit het my – hardkoppig gebore – gehelp om fokus te hou. Met ‘n piepklein begroting het ons alles self betaal, alles self gereël, alles self gedoen, en ‘n hele paar opofferings gemaak.

Maar daar was een ding waaroor ek nie wou toegee nie; die blomme. Daai tyd was niks anders as gerberas of rose aanvaarbaar nie. Of lelies. Of so iets. Sag en pragtig en rein en vroulik. Tradisioneel. Ek is egter nie tradisioneel nie. Ten spyte van ‘n harekloof-sessie (of ses) met my ouers en my ouma, het ek voet by stuk gehou: die fokusblom sál proteas wees. Enige proteas. Alle proteas. Met fynbos. En nee… my handruiker sou uit Pink Ice-proteas bestaan. Nie ‘n koning- of koninginprotea met fyn blommetjies rondom nie. Geen rose nie. Geen lelies nie. Proteas en fynbos. Klaar!

Ek weet nie mooi wanneer of waarom my liefde en waardering vir proteas begin het nie. Dalk het dit iets te doen met my eerste Kaapse vakansie, toe ek daardie amper-helder-dog-sag-pienk blomme in ‘n rotsskeur teen ‘n berg sien groei het. Dalk was dit op daardie koue, winderige dag op pad Nature’s Valley toe, wat ek gesien het hoe sterk die bosse proseas in volle blom stáán en hóú. My ouers en ouma het nie daarvan gehou nie (en ek onthou Oums se neerhalense opmerking – “dis tog sulke houtagtige en harde blomme”), maar vir my was dit sag en pragtig, en terselfdertyd gehard (nie noodwendig hard nie). Dit was soos wat ek op ‘n stadium gewens het om te wees… soos wat ek op ‘n manier nou is.

As ek kon kies, sou ek graag jou protea wou wees, my lief. Soos wat ek tien jaar gelede proteas vir ons troudag gekies het, wil ek vra dat jy my as jou protea kies. Nie ‘n roos nie. Rose het dorings wat die uiters delikate blom en latere vrug beskerm, maar hulle beskerm deur seer te maak en ek wil nie meer seermaak nie. Ek wil nie ‘n lelie wees nie. Al ruik hulle lekker en is hulle pragtig, vrek hulle as dit koud word en verlep hulle as dit te warm word… buitendien wil ek langer as net ‘n paar dae hou. 

So asseblief; maak my jou protea. Want ek is sterk. Want ek het in myself sterk geword as gevolg van my lewe; my keuses; my omstandighede; myself. Jy weet ek het gegroei in stormagtige toestande wat ek soms self veroorsaak het; soms nooit wou hê nie. Soms het die kouefronte van die lewe reën en sneeu my pad langs laat kom wat my amper laat vrek het. Soms het die hitte van die lewe se somer en brandseisoen my tot amper niks geskroei en ek moes oor begin; voor begin; nuut begin; weer groei. Ek het nie altyd die regte besluite gemaak nie. Hemel weet – ek het al baie droog gemaak en die laaste paar seisoene het ek nie eers geblom nie. Sommige mense mag dink ek is hard, maar jy weet ek is ook sag. Jy ken die sagpienk van my hart en die uniekheid van my siel. Jy weet ek het nie dorings nie; bloot omdat ek nie met dorings gemaak is nie. En jy ken my – die hardkoppige rabbedoe wat nie sal toelaat dat my omstandighede my laat verwelk en verlep nie; nie binne ‘n paar dae nie, in elk geval! Ek sal uithou… aanhou… selfs as ek afgeknip en verplaas word as ‘n snyblom in ‘n huis… ek sal hóú. Nie omdat ek dit noodwendig kies nie (alhoewel dit ook my keuse is), maar eenvoudig omdat dit is wie ek is. Net so. Ek kan nie anders nie.

Laat my toe om my wortels in jou lewe te vestig, ‘seblief, en ek sal groei en die mooiste blomme blom; selfs in die kaalste skeure van jou hart.

Mag ek dit wees? Asseblief? Jou keuse… jou protea.

Advertisements

9 thoughts on “Jou protea

  1. Wow, dis so mooi(en hartseer). Ek het ook ‘n groot liefde vir proteas maar ek sal na die stukkie nie weer dieselfde na die blom kyk. Bly jy skryf weer

    Like

  2. Terug pieng: Protea reblog | strooimeisie

Lewer kommentaar op Spokie sny spoor Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s