‘n Badkamer se verstaan

Is daar al ooit navorsing gedoen oor badkamers se emosionele intelligensie? Dit is wat ek vanaand so skuins voor elf sit en wonder, terwyl die koue van die teëls stadig tot in my boudvleis vorder. Vet-isolasie help ook net soveel.

Ek wonder hoe dit gebeur dat die vloer traandruppels absorbeer; soveel só dat die stortvloed van hartseer geensins meer môre sal sigbaar wees nie. Klaarblyklik doof ‘n badkamer ook klank uit… rou snikke ontsnap mens se keel in ‘n badkamer, maar nie die mure nie, hoewel dit hard en duidelik klink hier teen die bad se rand. ‘n Toiletrol wat troos… kraanwater wat trane afvee… ‘n handdoek wat warmte en vertroosting probeer bied…

Hou alle badkamers soveel geheime soos myne? Geheime oor hartseer, vloek, soebat en uiteindelike gebede wat stokkerig en stamelend in die lug opvaar en dan teen die plafon gaan vasplak,waar dit vir altyd en ewig vasklou…? Die beloftes en ge-bargain…? Die stilswyende aanvaarding dat jy môre weer sal terugkom. Weer hartverskeurend hartseer. Weer net tot jou boude te koud word, tot jy opstaan en verder gaan probeer slaap.

Ek wonder of enige ander vertrek in ‘n huis só goed die broosheid van mense kan verstaan soos ‘n badkamer. Sonder pretensie. Opreg. Ek dink nie so nie. Ek dink, sou ‘n badkamer ‘n persoon wees, sou dit by verre die persoon met die meeste kennis oor menswees wees; met teerheid en liefde en begrip. 

Ek wens mense was meer soos badkamers.

Advertisements

3 thoughts on “‘n Badkamer se verstaan

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s