Naamloos

‘n Poging tot ‘n kortverhaal, geïnspireer deur my nagmerrie van gisteraand. Die  nagmerrie wat my uit die slaap uit hou, omdat ek dit so graag nié wil nie, maar hy wil. Blykbaar.

Dit was ‘n besonder vinnige proses. Onpersoonlik en koud. Onemosioneel. Onsimpatiek. Prosesmatig. Professioneel. Pynlik vinnig en effektief. ‘n Belewenis. Iets wat sy nooit weer in haar lewe wil deurmaak nie. Alledaags vir sommiges; vernederend vir haar. En effens deurmekaar, want sy weet nou nog nie wat sy eintlik daar moes doen nie… O, ja.

Voordat die bedompige reuk van ou papiere en klewerige sweet haar kan oorweldig, kies sy koers na buite, deur twee vatterige-vuil glasdeure, totdat sy aan die bokant van ‘n ry breë trappe staan. Die helder lig en vars suurstof gee haar onmiddellik ‘n effense steekpyn tussen die oë, asof sy nou ontrekking kry van dit wat sy in ‘n kwessie van ‘n paar uur ervaar het! 

Sy wonder skielik of sy nog gaan wakker word. Haar maag grom, so dit behoort nou enige oomblik te gebeur. Haar selfoon se alarm sal nou afgaan, sy sal gaan koffie maak en dan sal sy en haar man so lekker in die bed sit en gesels dat sy uiteindelik laat is vir werk. Ja. Daar grom haar maag weer. As enigiets haar kán wakker kry, is dit haar maag wat kramp van honger. En sy het juis nie gisteraand geëet nie, want… O, ja. 

Sy staan ‘n paar treë terug, maar wanneer sy voel hoe die gebou se koue koelte haar laat bewe, stap sy instinktief vorentoe in die son in. Sy vorder egter nie verder as die tweede trappie nie en gaan sit net daar. Die koel amper-lente briesie streel sag aan haar roesbruin lokke terwyl sy kan voel hoe die son haar stadig warmer bak. Ten spyte van al die mense om haar, sien niemand haar eers raak nie. Elkeen is besig met sy eie lewe, eie dramas en eie probleme. Sy ook. 

‘n Allesoorheersende begeerte om nié nou alleen te wees nie, oorval haar en sy grou haar foon uit haar handsak. Unlock… Contacts… L… En dan stop sy. Soms is ‘n mens se instinktiewe gewoonte nie goed nie. Sy kan hom mos nie nou bel nie! Buitendien is hy waarskynlik nog binne besig. Met hande wat as gevolg van iets anders as die koue bewe, sluit sy weer haar foon en sit dit terug in haar deurmekaar handsak. Die ongemaklike knop in haar keel groei en sy sukkel al meer om dit weg te sluk. “Ek wil nie hier wees nie,” sê sy saggies vir haarself. En dan, met ‘n doodsheid wat oor haar gesig spoel, “maar dis nou te laat.”

Was dit ‘n paar minute of ‘n uur wat sy net so gesit het? Sy weet nie. En toe die sagte stem half agter haar:

“Is jy okay?”

Dit was ‘n stem wat sy die afgelope 13 jaar liefgehad het. Dis die stem wat haar gehelp het om nié alleen te voel nie, wat haar steeds skoenlappers in haar binneste gee… veral as sy dit só hoor. Sag. Asof dit van iemand kom wat werklik omgee.

“Nee. Maar ek gaan seker weer wees.” In haar kop skree sy vir haarself dat sy om hemelsnaam net nie nou hier in die publiek histeries in trane moet uitbars nie. Dis nog nie eers elfuur nie en sy wil haarself nie so vroeg al vir ‘n tweede keer verneder nie. Veral nie voor hom nie.

“Kan ek jou iets vra, asseblief? Dit sal regtig die heel laaste ding wees, ek belowe.” Haar stem klink klein en kinderlik broos. Sy weet nie waarom sy altyd praat sonder om te dink nie… sy wou hom dit nie vandag vra nie… tog is dit seker die beste tyd. Nou. 

Sy staan op terwyl sy die koue metaal trapreëling vasklem vir ondersteuning. Dan kyk sy in sy oë, wat stip op haar is. Die warmte wat eens so duidelik daar was, nou weggesteek agter sluiers van seer en geheime. Sy kakebeen geklem. Hoe graag sy nie nou net haar kop onder sy ken sal wil indruk en haar arms veilig om haar wil voel nie. Hoe graag sal sy hom nie net wil vashou nie… en wil voel hoe hy haar nader trek en veilig in sy arms vashou…

“Mag ek asseblief jou van hou?”

Sy mond gaan amper oop van verbasing. Hy is sprakeloos, maar net vir ‘n oomblik.

“Hoekom?”

Weer pla daardie blerrie knop in haar keel. Sy sluk hoorbaar hard.

“Want my pa se van wil ek nie hê nie. Ek wil niks met hom te doen hê nie. Ten minste is dié van iemand vir wie ek lief is s’n.” 

Die enkele traan ontsnap haar oog. Sy vang dit net voor dit oor haar wangbeen rol toe sy vinnig afkyk, maar sy weet hy het gesien, en sy wens hy het nie. Hy haat dit as sy huil, want dis onvolwasse en ‘n simpel reaksie wat niks verander of beter maak nie. Gelukkig was dit nét een traan! Sy kry dit nie reg om weer na hom te kyk nie en vryf haar hande om haar aandag van die emosienele warboel te probeer wegkry. Sy slaag egter nie daarin nie.

“Nes jy wil.” Sy stem is sag en self ook krakerig. Sy ken dit nie so nie. Sy wens sy kon dié sy van hom nog ontdek.

Sy kyk op in sy sagte groen-bruin oë wat sy so lank geglo het elke dag daar sal wees en wat haar altyd sal liefhê, en die woorde kom vanself en opreg:

“Ek is só lief vir jou. Dit sal nóóít verander nie. Jy weet dit.”

Dis die laaste keer wat sy dit vir hom sou sê, en hulle albei besef dit. Maar dit was die waarheid… daardie soort wat seermaak en sny, so waar is dit. En hoewel sy weet dat sy dit nie weer terug sal hoor nie, het sy nodig gehad om dit weer te sê. Die laaste woorde tussen hulle sou dié van liefde wees, het sy lankal besluit, en van opregtheid.

Dan draai sy om voor hy kan antwoord, want sy is bang vir wat hy nié gaan sê nie. En sy wil nie dat hy die trane wat nou onkeerbaar oor haar gesig stroom, sien nie. 

Sy stap vorentoe. Son toe. Die Here weet, sy wil nie… maar op die trap van die skeihof kan sy nie langer bly staan nie. Selfs al beteken dit ‘n rukkie langer by hom.

Advertisements

5 thoughts on “Naamloos

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s