Werk, swottings en vermyding

So ek het die afgelope 30-en-’n-handvol jaar myself leer ken as ’n effense control freak. Ek sou nou nie sê ek is obsessief-kompulsief oor enigiets nie, maar ek kom dalk naby daaraan as ek dink hoe ek soms uit my pad sal gaan om dinge wat vir my belangrik is te probeer beheer. Ek is grootgemaak met die gedagte dat jy iets maar eerder self moet doen as jy wil hê dit moet reg gedoen word… iets wat ek nooit vir enige kind sal leer nie, want ek ken die nagevolge daarvan te goed.

My neiging/poging/obsessie om tot ’n sekere mate in beheer te wees het nog altyd die duidelikste gerealiseer in my werk. Dis nou nog die geval:

Ek was ’n paar jaar gelede in beheer van ’n klein besigheid, wat ek (met hulp, duh!) uitgebrei het tot ’n winsgewende onderneming. Ek het bloot ’n visie gehad, aan die diep kant van dié swembad ingeduik, en my agterwêreld af gewerk. Niks minder as sukses sou vir my aanvaarbaar wees nie en ek het besluit dat ek in my doel sal slaag, maar nie saak wat nie. Dit het elke krieseltjie van my tyd en energie gevreet, maar ek was gefokus op die einddoel en ek het ’n flippen goeie job gedoen, al moet ek dit nou ook self sê. Dalk het die perfeksionis in my te veel kere die oorhand gekry, want die gewoonlik saggeaarde en stil mensie het ontpop in ’n wafferse besigheidsvrou wat nie nonsens vat nie. Nietemin het dit gewérk en ek dink dit was dalk die een posisie wat my werklik soos ’n handskoen gepas het.

Natuurlik het dié besigheidjie my ook laat groei… Daar het ek geleer hoe belangrik die klein goedjies is wat so dikwels as onbenullig afgemaak word… admin-takies, kliëntediens, gehaltebeheer… bo alles trots in die werk wat jy doen en goeie etiek. Integriteit. Ek het geleer dat enige besigheid eintlik nie klein en onbenullige takies het wat uitgestel kan word nie, want in die besigheidswêreld is álles belangrik, al speel dit op een spesifieke oomblik net ’n klein rol in die groter prentjie.

Die besigheid word vandag deur iemand anders bestuur, maar soms wens ek dat ek weer kan teruggaan soontoe. Ek mis die uitdagings, vinnige pas van alles, die dink op my voete en die planne maak en probleme oplos; dinge wat ander mense dikwels afskrik, is juis die goed wat my trek… ek sal verslaag kan raak aan daardie adrenalien wat pomp nét omdat jy weet dat dit nou of nooit is en daarna smag om weer die soete smaak van sukses te kan proe.

My “nuwe” werk, wat ook maar sy eie uitdagings het, is op ’n manier aansienlik rustiger. Soms vreet klein goedjies my tyd en raak ek gefrustreerd, maar ek begin al meer wonder of dit regtig die tipe werk is waarvoor ek uitgeknip is. Dit vereis breinwerk (ek sal immers dood neerslaan en sommer uit spiteful-geit dadelik begin vrot as ek ooit eendag breinlose werk sonder enige uitdagings en verrassings sal moet doen). Daar is sprake van baie van die ander klein “goedjies” wat die besigheid vereis het, maar daar kom deesdae amper te veel sieldodende tye wat ek net wens ek kon weghardloop.

Dit irriteer my dat daar te veel goed is waarvan ek nie kennis dra nie – onderlinge gebeure wat ek sou hoop minstens met my bespreek word, of minstens net onder my aandag gebring moes word omdat ek ’n aandeel in die saak het en ’n beskeie maar wel waardevolle bydrae sou kon lewer. Ten spyte van die kliënte waarmee ek te doen kry en die porsie van die werk wat “myne” is, het ek geen beheer nie. Ek het geen sê nie. Ek het geen reg tot enige invloed nie. My werk het van “adrenalien-pompende uitdagings” na “kophou en deurdruk” verander en dit frustreer my ontsaglik baie op die oomblik, want ek weet ek het ’n strategiese kop op my skouers wat meer werd is as die oorskiet wat op die oomblik my kant toe kom.

En dit bring my by my studies, wat verband hou met my werk. En hieroor het ek gister, so in die middel van ’n semi-histeriese tranedal waarvan almal buite my toe kantoordeur salig onbewus was, ’n aha-oomblik gekry. Nee, daar was geen noemenswaardige studie-deurbraak nie. Nee, die verslag waarmee ek besig is, is steeds nie klaar nie en dit kort nog baie timmerwerk. Nee, geen liggies het aangegaan wat moeilike konsepte vir my meer duidelik of logies laat lyk het nie. Inteendeel, ek sukkel nog met net dieselfde goed as waarmee ek eergister gesukkel het. Maar ek dink ek verstaan nou waarom ek so sukkel.

Ek is ’n control freak en ek dink die onlangse gebeure in my lewe waardeur ek pynlik stadig gewerk het (grotendeels op my blog) het my laat anders optree teenoor goed waarmee ek sukkel. Is dit normaal dat ’n mens op ’n punt kom waar jy net wil wegskram van goed waarmee jy sukkel? Kan dit dalk die rede wees waarom ek so sukkel om te vorder? My studies laat my op die oomblik dommer as grond voel. Idioties. Simpel. Ek twyfel konstant of ek besig is met gehalte werk op die regte vlak. Of dié goed waarin ek graag my hart en siel wil put dalk eintlik niksseggende nonsens gaan wees… en dit alles laat my voel ek wil eerder my studies vermy as wat ek dit konfronteer en daardeur stoei tot ek die antwoorde het. Dit voel vir my asof ek geen beheer het nie; dit maak my bang. My studies voel soos ’n reus wat my, ’n klein swartmiertjie, gaan dood druk. Ek wil nie meer dom en onnosel en onbekwaam en onbevoeg en plain stupid voel nie, en dis waarom ek dit op ’n manier bly vermy.

So, noudat ek die probleem geïdentifiseer het, moet ek seker net ’n manier kry om dit op te los… reg?

Skielik spoel iemand anders se woorde deur my kop: “neem beheer van jou situasie… jy kan… dan kom ons saam aan die ander kant uit…” Shit. Ek weet daar is geen omdraai nie, en ek weet ek moet deurdruk. Ek wens net ek weet hoe!

Advertisements

10 thoughts on “Werk, swottings en vermyding

  1. As deeltydse beheervraat en voltydse korrelkop wil ek waag om te sê daar is twee dinge wat almal van eersgenoemde spesie in gemeen het.
    1. Elke persoon is uniek en daar bestaan nie ‘n “standaard” oplossing vir almal se frustrasies nie.
    2. Elkeen van ons wil altyd alles aanpak teen ‘n “deadline”, en derhalwe is ons ongelooflik krities op onsself, self op die suksesse!
    Ek kry dit reg om myself stadig maar seker te leer dat dit okei is om somtyds op te gee en iets anders te loop doen tot die frustrasievlakke gedaal het en jy weer die teenswoordige probleem volspoed kan probeer plat speel.

    Ek ken jou nie, maar ek wil jou sê jy is definitief nie onbekwaam of stupid nie. Jy is net gefrustreerd. Gee jouself toestemming om op te gee op vandag en more van nuuts af te probeer.

    Like

    • Hehe… Liewe onbekende mede-beheervraat en korrelkop – dit voel vir my asof jy my dalk tog ken. Dit wat jy skryf; veral die deel dat ‘n mens jouself toesteming en tyd moet gee); is só waar! Ek het jou raad gedeeltelik gevolg en myself toegelaat om ‘n rukkie weg te skram, die saak van alle kante te bekyk en toe die bul by die horings gepak (want ek is hopeloos té hardkoppig om tou op te gooi ‘n uitdaging net te los). So far, so good! Eintlik beter as net goed!

      Like

  2. Soos wat jy ‘n hele olifant alleen sal opeet – een happie op ‘n slag! Haha, van een control freak (en ek is nie ‘n EFFENSE een nie) aan ‘n ander; daar gaan altyd iets wees waaroor ons freak en stress. As jy weet waar jou probleem lê, is jy reeds op die regte pad. Vorentoe! en ek wens jou alles van die beste toe.

    Liked by 1 person

  3. Stem saam met Hester en Perdebytjie. En ja, dis al ‘n reusestap in die regte rigting wanneer jy jouself kan opsom, leemtes kan identifiseer en met jou deursettingsvermoe, is jou pad oop vorentoe sodra jy rigting gekry het. Posduiwe maak ook so – sirkel, sirkel so ‘n rukkie en dan kry hulle koers. Sterkte! O ja, daai eerste treetjie is baie belangrik … en dan nommer twee, drie…

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s