‘n Blôr verby

Dis vandag 1 jaar vandat ek al my moed bymekaargeskraap het en vir die eerste keer ooit ‘n blog geskryf het. Skaamteloos en eerlik. Tot op daardie oomblik het bloggery my min getrek; eintlik half afgesit. Ek kon nooit verstaan waarom mense hulle lewensdrama, hartseer stories, sielsgeluk of selfs resepte op blogs deel nie. En toe skrik ek wakker en ontdek wat ‘n blog aan ‘n mens kan doen… en begin om self te blog.

Vandag verjaar my blog. Ek blog al vir ‘n jaar… ek blôr vandag! Of Strooimeisie verjaar vandag.

Dis eintlik skrikwekkend hoeveel ‘n mens in 365 dae kan verander. Ek het oor die naweek wat nou al vergete is en gister ‘n paar van my ou skryfsels gaan herlees en aan daardie gedagtes herkou. Sommige van die goed maak steeds seer. Ander dinge het ek al amper vergeet. Ongeag – ek het goeie nuus: oop en rou sere kán begin genees. Selfs seerplekke wat in jou hart sit. Ek weet, want ek kan daarvan getuig. Ontsteekte wonde is deur vriendskap en dié blog behandel, en dis vandag amper gesond. Ék is amper gesond…

So, hierdie is blog post nommer 160. Aanvanklik het ek nie gedink ek gaan 50 haal nie. Ek het al 370 boodskappe hier ontvang en Strooimeisie het meer as sestig volgelinge. Amper 7000 besoekers. Toe ek begin het, het ek gewonder of drie mense ooit een keer my goed sou lees (so julle kan seker dink dat die 60+ ‘n hengse ding vir my is)…

Nee, dié stats is nie iets om die sjampanje voor nader te gryp nie. Dis eintlik nie eers noemenswaardig nie. Maar vir mý beteken dit ontsaglik baie. So dankie aan elke leser, elke volgeling en elke ondersteuner… elke persoon wat omgee en elke vreemdeling wat nou ‘n vriend is (ja, al ken julle my net as Strooi).

Wat het ek geleer? Hier is ‘n paar goedjies wat ek oor myself geleer het, maar ek glo dat dit vir almal geld:

1) Jy is áltyd sterker as wat jy dink. Jy is ook áltyd sterker as jou situasie en in beheer van jou keuses, maak nie saak hoe wie jou laat voel (of probeer laat voel) nie. As jy kies om uit iets goors te leer en daaruit te groei, sal jy sterker word… dalk selfs ‘n beter mens. Ja – jy kan kies of en wat jy uit iets gaan leer en of jy gaan toelaat dat dit wat met jou gebeur het jou gaan opeet en of jy dit gaan oorwin. Net só kan jy kies hoe jy op goed gaan reageer (en of jy iets liewer net gaan ignoreer). Onthou net dat goor en slegte goed met almal gebeur. Soms tref ‘n klomp groot goed wat sleg ‘n mens net op een slag.

2) Ten spyte van alles, het álmal goed sowel as sleg in hulle. En al twyfel ek soms, glo ek dis die moeite werd om te glo en te hoop vir die goeie in mense en dat dit meer as die sleg sal wees. Dis ‘n ingeboude ding vir my, en ek gee nou amptelik moed op – ek gaan dit nie meer probeer verander nie, al lei dit soms tot seerkry. Ek glo egter nie dis sleg nie, en ek wens meer mense wil begin om die goeie deel van mense raak te sien… al is dit net vir ‘n rukkie.

3) Rou is nodig. As iets slegs met jou gebeur, is dit nodig dat jy dit verwerk. Dis nie vinnig nie en dis als behalwe maklik. Prosessering is ‘n proses (duh – hehe!) en dis ‘n moer belangrike deel van gesond en heel word. Laat jouself net toe om daardeur te gaan. Kom ons sêaar net jy moet tog toelaat dat rowe oor die seerplekke vorm, want dis eintlik al hoe die seerplekke gaan gesond word.

4) Kry dit uit. As iets jeuk dan krap jy, so as iets pla, kry dit uit jou sisteem op enige produktiewe manier. Die rouproses is nie net ‘n ruspose nie; ek dink dis ook ‘n tyd waarin jy jou energie opbou vir dit wat volg… wanneer jy tot aksie oorgaan. Gebruik jou energie, kreatiwiteit of selfs die gebrek daaraan deur iets nuuts (soos blogging) te leer… beweeg aan, begin oor… moet net nie niks doen nie en moenie vir langer as wat nodig is opkrop of rou nie. Want dít is wat depressie veroorsaak. Dít is wat ‘n kommapunt in ‘n punt kan laat verander. Don’t go there… don’t ever go there! As dit tyd is, laat toe dat die roof wat in die rouproses gevorm het afval…

5) Weet dat jy nooit alleen is nie. Weet dat jy iets vir iemand kan beteken. Weet dat jóú storie iemand se lewe kan verander. Wéét dit, want al ken ek jou nie, weet ek dit is die waarheid. Ek kan daarvan getuig. Ek was altyd bekommerd oor rowe op ‘n mens se hart; op jou siel; want wat word van rowe wat binne jou wese vorm? Dit los op. Soos ‘n disprin in water los dit eenvoudig net op en word dit amper niks… Hoe? Deur hoop. Deur vriendskap. Deur liefde. Deur die belofte van môre.

Fluit, fluit… maar my storie is lank nog nie uit!

Advertisements

8 thoughts on “‘n Blôr verby

  1. Strooi, jy is een van my gunsteling bloggers en ek het jou storie gevolg deur hierdie jaar. Ek kan nie glo dat jy so positief en goed anderkant uitgekom het nie. Ek glo jy het nog ‘n entjie om te stap, maar jou insig in jouself en jou positiewe volwassenheid is ‘n openbaring! Dit is ‘n voorreg om een van jou gesigslose vriende te wees en ek hoop om nog baie uit jou postiewe pen te lees!

    Liked by 1 person

  2. Ek gee so ‘n sug van goedvoel. Hartlik geluk met jou blogverjaardag! Hartlik geluk dat jy die moed gehad het om jou pyn hier te kom uitskryf. En weet jy wat, jy is ‘n UITSTEKENDE skryfster, hou net aan. Dankie vir jou goeie raad. Mooi loop vorentoe.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s