Wat as ek val?

Ek onthou vaagweg in my verre-verlede daardie beeld wat almal seker ken…

“Spring!” Ek ken sy stem. Ek weet ek kan hom vertrou. Ek weet hy sal my vang en nie laat val nie…
“Maar ek is bang, Oups…” My stemmetjie was klein en bewerig, en dit het weggeraak nog voor ek klaar gepraat het.

Tog het ek uiteindelik gespring. En hy het my gevang. Sonder om my te laat val.

Ek was sy klein rabbedoe – sy enigste rabbedoe – en ek het, tussen ‘n groot klomp nefies wat almal ouer as ek was, my bynaam gestand gedoen. Daar was nie ‘n boom of muur of traliewerk wat ek nié uitgeklouter het nie.

Eendag het ek sommer tot op die dak geklim, wat tot dié episode hierbo aanleiding gegee het. Eintlik sou ek fine gewees het, maar my ouma het van onder af vir my gegil dat ek gáán val en toe vries ek eenvoudig. Skielik was die traliewerk te regop, die gras te ver en ek te hoog op ‘n dak. Maar Oups was daar om my te red.

Ek wens ek was nog ‘n klein dogtertjie. My Oups se rabbedoe… rissiepit… ogies… liedjie… Ek wens hy was nou hier om my raad te gee en my net so af en toe een van sy drukkies te gee. Maar ek is nie meer ‘n klein dogtertjie nie en Oups is al 25 jaar weg…

So vir 25 jaar het ek myself soos ‘n waaghals gedra op metaforiese dakke en elke keer het ek myself tot veiligheid gebring. Maar nou… 25 jaar later… is ek skielik bang, en ek wens daar was net iemand wat met oop arms onder staan. Nie om my te vang nie. Nie om my te paai om af te klim of versigtig te wees nie. Net om daar te wees as ek onder kom. Net om daar te wees ingeval my voet gly. Net vir sommer. Want om te val is een ding, maar om te val terwyl daar niemand is om jou op te help, te troos en dan saam met jou te lag nie… dis niks lekker nie.

Flip, ek mis my Oups!

4 thoughts on “Wat as ek val?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s