Verkyker

As kinders was ek en my kleinboet alewig gefasineer met dinge wat die meeste ander kinders eintlik heel vreemd gevind het. Ons het geëksperimenteer met goed – wie kan die stinkste konkoksie laat broei (gewoonlik iewers in ‘n kas waar Oums daarop sou afkom… dat ek nog velle aan my boude het is absolute genade)… wat gebeur as mens kondensmelk, Coke, Frosties en Simba chips (beef geur) meng en dit dan eet… hoe is karretjies en poppe nou eintlik aanmekaar gesit… Kom ons sê net dat vrae wat begin het met “wat gebeur as” en “hoekom” my oups en oums konstant teen die mure uitgedryf het.

My boetie het ook natuurlik die interessantste speelgoed gekry (en hy was gaaf genoeg om my toe te laat om dit saam met hom te geniet) – argeologiese stelletjies met beiteltjies, hamertjies en kwassies… modelvliegtuie… ensiklopedieë oor dinosaurusse en die rubber weergawes van sy gunsteling soorte… ‘n hele tassie vol messies en glasies om miere, blare, grond en motte se vlerke mee te dissekteer en ‘n mikroskoop om behoorlik na dit alles te kyk. Ek het dit geniet om saam met hom te speel, maar dit was vir ons albei oor veel meer as om net te speel. Ons wou weet, ons wou uitvind, ons wou iets kry om méér vrae oor te vra, ons wou méér leer, sodat ons álles kon verstaan.

Vandag mis ek daardie tye nogal baie.

My boetie het, toe hy ‘n tiener was, een van sy grootste geskenke van ons ouers af gekry – ‘n klein teleskoop. Ons het, gepantser met ‘n flits, piekniekkombers, astronomie-boek en warm baadjies, nag na nag onder die sterrehemel gaan sit. Soms agter op die grasperk, meestal bo op die huis se platdak. Hy was altyd die kenner en ek; met my swak oë, waarskynlik van al my gelesery; die student wat sy elke woord verorber het.

Ek onthou hoe ons na sterre gekyk het, hoe ons probeer het om te verstaan hoe mense krappe en bulle en goed in die hemel kon sien (hengse verbeeldings, dink ek steeds), hoe ons een keer Jupiter van nader as die meerderheid aardbewoners kon besigtig, ‘n maansverduistering… hy het tot ‘n spesiale lens gekry toe daar een keer ‘n sonsverduistering was!

Soms was ek laf, en het ek my eie ou verkykertjie saamgevat op die maanverligte dak en daardeur gelê en kyk vir die liggies in die lug, terwyl hy deur die behoorlike ding geloer het. Hy het altyd vir my gelag daaroor, en ek het saam gelag terwyl ek speels gemaak het of ek presies kon sien wat hy sien.

Ons het albei verstaan dat die instrumente wat ons by ons gehad het, ons kon help om sekere goed beter te sien… maar ons het met tye net opgekyk, sonder vergroter of lens, en die swart hemel met silwer spikkels bewonder. Dis iets wat mens nie met ‘n teleskoop kan sien nie, ook nie met ‘n verkyker nie… net met die blote oog.

Ja, soms is fokus en dieper kyk beslis ook belangrik. Maar ek dink mens moet so versigtig wees om nie perspektief te verloor nie. Soms is dit nodig om jou bril af te haal of die lense weg te vat en net terug te staan en te sien… nie te soek nie; net te kyk na dit wat voor jou is en dit in te neem. Of bewus te word van dit wat langs jou is. Soms moet mens ophou om deur lense te kyk na dit wat ver is en net begin besef wat jy hier naby jou het.

Ek dink dis regtig sleg dat sommige mense op een klein sterretjie fokus as daar ‘n hele melkweg is wat hulle kan betower. Ek dink dis hartseer dat mense soms nie die volle prentjie wil aanskou nie; hulleself wil blindstaar aan een klein spikkeltjie in die prentjie… al is daardie spikkel ook hoe mooi… of hoe lelik. Ek dink dit is hartverskeurend dat mense soms so meegevoer word deur dit wat ver is, dat hulle heeltemal vergeet van wat en wie hulle by hulle het.

Teleskoop… verkyker… Dis mooi en interessant en pragtig om daardeur na goed te kyk, maar ek verkies steeds eerder net ‘n piekniekkombers en ‘n mens wat my toelaat om diep in hom/haar te kan kyk.

Advertisements

2 thoughts on “Verkyker

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s