Die kersie op die koek

Verjaarsdae is nie vir my so ‘n groot ding nie. Of eerder, ander mens s’n is, maar nie myne nie. Ek is nie seker waarom ek só daaroor voel nie… dalk net omdat ek altyd op skool (en selfs na skool) beter was om partytjies te organiseer of verrassings ‘n geheim te hou of selfs net mense spesiaal te laat voel as wat ek self aan die ontvang-kant daarvan was.

Met my eie “groot dag” wat al vinniger nader kom, is ek gister en vanoggend al ‘n paar keer deur verjaardag-feesdriftiges (van jy dit?) gevra wat ek beplan… wat ek gaan doen… en almal se gesiggies sak sommer as ek net sê dat ek nie regtig gedink het om iets groots te doen nie.

As ek dink aan “my verjaardag”, kom daar allerhande prentjies van die allermooiste verjaardagkoeke in my gedagtes op… 

Van my eerste verjaardag het ek natuurlik niks meer as ‘n foto-herinnering nie. Ek, lomp en met ’n wit lint om my kaal kop gebind en in ‘n kantrokkie waarvan Bridal Barbie maar net kon droom, sit vooroor en gluur na die koek wat soos ‘n bedjie lyk. My gunsteling poppie was netjies onder ‘n suiker-kombers… wat dalk die groter rede vir my aandag was as die koek self. Een wit kersie het die koek mooi afgerond; ek weet nie wie vir my eerste wens verantwoordelik was nie.

Toe ek ses geword het, het ek my hele graad een klassie na my huis genooi (hoewel nie eers die helfte opgedaag het nie). Die koek het ses figuurtjies gehad wat linte om ‘n paal in die middel van die koek gedraai het. Dit was oulik, ek onthou daardie koek was baie lekker, maar daar was geen kersies nie. Ek het dit nogal gemis.

Op my dertiende verjaardag het my ouma vir my ‘n bokskoek laat bak, wat ek skool toe gevat het. Die koek was lekker, die klasmaats het dit baie geniet en ek was vir ‘n week daarna populêr omdat ek swieties gevat het op my verjaardag. Ek het dié keer my eie kersie aangesteek, gewens en geblaas terwyl ek daardie aand saam met my familie van die koek (‘n tweede bokskoek) geëet het.

Ek verbeel my my sestiende verjaardag was ‘n oorslaap-video-aand by my ouma se huis. Net drie vriendinne is uitgenooi. Ons het pizza geëet en ek kan regtig nie onthou of daar enigsins koek was nie.

Ek het my eie verjaardagkoek gebak toe ek 21 geword het. ‘n Hengse groot opskop met baie vriende en vriendinne. My beste vriendin se ma het vir my die allermooiste kunsblom van versiersel gemaak, maar dit het ek apart as geskenk gekry en vir jare daarna nog gebêre in ‘n boksie… totdat die boksie een vreeslike dag uit my kas geval en die blom flenters gebreek het. Ek het my byna dood gehuil. In elk geval – met die groot een-en-twintigste het ek ook kersies op die koek gesit, maar dit is nooit aan die brand gesteek nie en nooit uitgeblaas nie. Die koek het eenkant gestaan en is bedien sonder enige gedoentes, want waarom tot nou ‘n groot storie van ‘n koek maak.

Ek het gisteraand, terwyl ek weer gesukkel het om aan die slaap te raak, gegoogle wat die betekenis van kersies op ‘n verjaardagkoek is… daar is vreeslik baie simboliek, maar die twee waarvan ek die meeste gehou het, is die volgende:

Simboliek 1: Elke kersie stel een lewensjaar voor (duh!), en soos wat jy dit doodblaas, aanvaar jy dat die verlede verby is, en met elke vlammetjie wat vrek kan jy ‘n wens maak vir die nuwe jaar. Dit simboliseer dus dat die verlede verby (doodgeblaas is), maar dat daar hoop en wense vir die toekoms is.

Simboliek 2: Hierdie is nou my plan vir as ek eendag 50 tref… dalk vroeër! Elke persoon steek ‘n kersie aan en wens jou daarmee saam iets spesiaals toe vir die komende jaar (die wens kan hardop gesê word of geskryf word en net as brief oorhandig word; waarvan ek nou nogal hou… duidelik is ek ‘n woordmens). Die artikel het ook gesê dat die mense wat kersies aansteek iets moois oor die persoon mag sê (of skryf); iets wat hulle by hom/haar geleer het of van die persoon waardeer. Ek hou nogal daarvan, want dit maak die simboliek van jou verlede wat jou tog op ‘n manier vorm en maak wat en wie jy is so mooi duidelik. (Natuurlik word dit nie aanbeveel vir iemand soos Grimm Reaper en Oom Scrooge nie!) En dan, as simbool dat jy en die mense om jou daardie mooi wense en dinge aanvaar en saam hoop op ‘n mooi toekoms, en ook wil simboliseer dat julle mekaar sal help om daardie wense te bewaarheid en aan daardie hoop en mooi goed vas te hou, help almal om die kersies saam dood te blaas. Mooi, né! Ek hou nogal daarvan.

En skielik, net sommer so skielik, is ek lus om vir die naweek ‘n koek te bak. ‘n Anderster koek as wat ek altyd maak. Iets spesiaals. Al eet ek dit ook alleen op… 35 brandende kersies en al!

 

Advertisements

11 thoughts on “Die kersie op die koek

  1. Oeee ek hou van die idee dat elkeen vir jou ‘n kersie aansteek! Dis iets wat ek gaan onthou. Ek word volgende jaar 55 en is weer lus vir groot partie hou. So ek dink ek moet kerse orals neersit (verskillende groottes) en vir elke persoon wat die partytjie bywoon vra om ‘n kers aan te steek en ‘n kaartjie vir my te skryf om later te lees. (Party mense is lui vir skryf) … 🙂
    35! Wat ‘n mooi getal!

    Like

  2. Dalk moet jy saam met die 35 kerse 35 wense of koebaais neerskryf. ‘n Kers vir elkeen van die dinge wat jy agter jou sit, en ‘n kers vir elkeen van die nuwe dinge voor jou. 🙂
    Nou gee jy my ‘n idee vir ‘n geestelike aand, dalk by ons bybelstudie, dat ek vir elkeen 2 kerse gee. Hul moet dan die een aansteek vir iets wat hulle aflê, of agter hulle sit, en een vir ‘n nuwe hoop, ‘n nuwe wens, iets nuuts in hulle lewe.

    Liked by 1 person

  3. Die simboliek is awesome, en ek dink soos mens ouer word is die tweede verduideliking nogal spesiaal. Want ja, ons verlede maak van wie ons vandag is, ons kan nie regtig daarvan weghardloop nie, en eintlik moet ons ook nie. Ek is bly om te hoor jy gaan vir jouself ‘n koek bak en jou spesiale dag vier.

    Liked by 1 person

  4. Oooo,,,, hierdie naweek! My liewe ma verjaar die 15de en my sussie se pragtweeling die 14de. Ek hou van jou simboliek, Blaas die verlede dood – steek die toekoms aan. Baie geluk met jou verjaarsdag – mag jy op hierdie splinternuwe jaar se splinternuwe bladsy net die mooiste herinneringe skryf.

    Liked by 1 person

  5. Verjaarsdae is ook nie my ding nie. Ek verjaar saam my ouma….nee dis nie lekker nie. Dalk as sy n ware ouma is wat altyd haar kleinkinders eerste sit en bederf, maar nwe sy is n selfsugtige mens. Verjaarsdag was altyd hare. Ek moes elke jaar na haar toe gaan. So nooit kon ek my dag he nie nou wil ek nie my dag he nie. Maar n stukkie bederf en my kinders se arms om my nek is die grootste geskenk ooit.

    Like

Lewer kommentaar op perdebytjie Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s