Van vlugte en ver plekke

Terwyl ek nou net my hondekinders kos gee (ja, ek is ook soortvan ‘n ma), het ek opgekyk. Ver bo my in die strepiesgevlekte babablou het ‘n liggrys vliegtuig stadig begin om af te sak. Laer en laer, op pad na een van Johannesburg se lughawens. ‘n Dowwe gegôr het die metaalvoël getrou gevolg.

Ek kon nie help as om terug te dink aan die volle drie kere wat ek al op ‘n vliegtuig was nie…

Vyf jaar gelede, George toe – vir werk. Ek was nogal bang en het konstant aan Hansie Cronjé gedink en sy noodlottige vlug; gewens my man was saam om tog net my hand vas te hou, want hy sou my stil vrees kon voel en verstaan en dit kon stilmaak deur sy blote aanraking; nietemin sou niemand wat wel saam was kon raai wat in my kop aangaan nie. Ek is saam met vier ander kollegas, maar ek was darem slim genoeg om nie vir enige van hulle te sê dat my “vlieg cherry” daardie dag “gepop” sou word nie. Ons het in ‘n warm en sonnige Johannesburg opgestyg en die vliegtuig is effens hard in ‘n nat en winderige George neergesit. Of blykbaar was dit hard – ek sou nie op daardie oomblik geweet het nie. Almal was in ieder geval veilig… maar ook net met genade! Agter my het ‘n vrou met ‘n bitter stout kleuter gesit wat konstant parmantig geskree het omdat hy nie in die paadjie kan op- en afhardloop nie. My stoel is aanhoudend geskop en ten spyte van baie vies kyke en een kwaai “please?!” is niks omtrent die situasie gedoen nie. Die ma? Ek weet dis seker baie maklik om te praat, maar ek was lus om vir haar te sê haar vertroetelende “ag please, my baby” werk nie en sy moet dalk hard en kwaai “sit still and keep quiet or I’m taking away your tablet and all of your games, you little spoiled brat” net een keer probeer. Dreig hom! Vat hom badkamer toe en doen wat ook al ouers in badkamers doen as hulle kinders onhanteerbaar is. Gooi sy vloermoer vir hom terug en kyk of dit dalk werk… Doen net iets! Maar sy het nie. Was die vlug net ‘n bietjie langer, sou dit verseker met een ernstig  getraumatiseerde ma en ‘n ge-pakslaede kleuter geland het. Dit sou waarskynlik die kind se eerste pakslae in sy lewe gewees het, dalk sy laaste, maar was daardie vlug net twee sekondes langer, sou gebeur het!

Vier jaar gelede, weer vir werk, is ek Port Elizabeth toe. Dié keer het ek na die vlug uitgesien. Ek het nogal van die eerste een (en die retoer, wat stoutgat-kleuter-en-onbeholpe-ma-LOOS was) gehou, maar ek het nie besef dat die kollega wat langs my gaan sit een van daardie angstiges is wat allerhande pilletjies en druppeltjies voor en tydens die vlug moet drink om te keer dat sy dalk self soos daardie kleuter van vlug een word nie. Die turbulensie soontoe en terug was nogal kwaai (nuwe ervaring vir my… en ek wil nie sommer weer in so ‘n storm vlieg as wat ons op pad terug gekry het, ‘n halfuur voor hulle die lughawe in PE gesluit het vir gure weer nie). Ek en dié kollega het nogal goed oor die weg gekom en hoewel ek geweet het dat sy nogal skrikkerig is vir vlieg, het ek nie verwag dat sy die armleunings so styf sal vashou dat my vingers skoon vir haar part sou kramp en elke keer ‘n klein gilletjie sou gee as die vliegtuig soos ‘n roller-coaster wat van die spoor af gegly het in die lug ruk nie. Sê my… hoe maak mens in so ‘n geval? Want ek wou met mag en mening vir haar sê dis alles okay en dat sy nie bang hoef te wees nie, dat ons binnekort gaan land… maar dis ‘n kollega en ek wou nie soos ‘n pleegouer van een of ander soort optree nie. Buitendien sou dit mos neerhalend wees…? So al wat ek elke vyf minute gevra het – en elke twee minute as dit gelyk het of sy gaan uitpaas – is of sy okay  is… en sy het gewoonlik nie regtig daarop geantwoord of reageer nie.

Vlug en retoer drie was so drie jaar gelede, saam met my ma af Kaap toe. Die vlug was kort omdat ons konstant gesit en giggel het oor elke liewe ding en my ma elke nou en dan vir my gevra het of ek nou seker is dat ons op die regte vliegtuig is en op pad is na die regte plek toe. Dit was by verre die meeste wat ek nog gelag het op ‘n vliegtuig; nie net vir my ma nie, maar ook ons skreeusnaakse kaptein. Van die vlug self kan ek nie veel onthou nie – net die spierwit bergpieke wat ons baie duidelik kon sien net voor ons aan die suidpunt van Afrika geland het. Ek het gewens ek kon soontoe gaan, om vir die eerste keer in my lewe REGTE sneeu te sien (iets waarvan ek steeds net droom), maar dit kon nie gebeur nie. Terwyl my ma vakansie gehou het vir ‘n week, was ek aan ‘t werk. Die vlug terug was my heel eerste aandvlug. Ons het opgestyg terwyl sagte wit wolke vatbaar-naby aan die vlerk waar ek gesit het geraak-raak het en geland net nadat al die ligte in Johannesburg aangekom het.

Soms wonder ek hoe dit sal wees om verder as net ‘n plekkie in die Kaap te kon vlieg. Ek droom nogal dikwels van reise na ver lande… die mense, kulture, eetgoed, drinkgoed, doengoed… die geboue, wat my altyd so op Internetprentjies fassineer… Eendag, as ek weer geld het, sal ek ‘n plan moet maak. Waarheen weet ek nog nie. Maar ek weet ek sal baie graag wil reis.

Dalk België of Australië, waar van my familie bly… ek sou baie graag eendag wil sien hoe die Aurora-ligte lyk (kan iemand my vertel – ís dit so magical soos wat dit op foto’s lyk?)… ek sou elke kasteel in Skotland en Ierland wou sien… ek sou op die banke van katedrale en kerke in Duitsland, Frankryk en Spanje wou lê en net staar na die kunstige aanmekaargestikte dakke en die slim argitektuur… en ek sou die Alpe, die Swartwoud, die Outback se rooigrond, die natuur op al die plekke wat op die oomblik heeltemal buite my bereik is wou verken.

Dis lekker om te droom. Deesdae fantaseer ek al meer en meer van sulke plekke en dinge wat ek dalk nooit eers gaan kan sien nie. Vir nou, weet ek, moet ek my voete eers net vas op die aarde hou en my gedagtes maar saam met daardie vliegtuig laat vlieg na ver en onbekende plekke… maar dit bly steeds lekker om te kan droom.

Advertisements

4 thoughts on “Van vlugte en ver plekke

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s