Met hierdie ring…

Amper ’n dekade gelede het ek, op ’n pragtige sonskyndag in April, die mooiste dag van my lewe gehad.

Ek is seker die voëls het daardie dag gelukkiger as gewoonlik geklink, die rivier se water het helder geblink, en die omgewing is in skakerings van geel, rooi en groen geverf… rooi-bessie-bosse het langs die voetpaadjies gepruik en groot gekleurde plantaanboomblare was soos ’n tapyt van herfskleure oor die voetpaadjie self gesprei. Die boseffek teen die rivier is perfek afgerond met digte wit bloekombas. Plek-plek was ’n apie of bokkie net-net sigbaar.

Ten spyte van die wit rok (al wou ek so graag die dag in ’n baie ligte skakering van groen en ivoor spandeer), te groot hoepel-onderrok en te klein boob-fillers (wat op aarde noem mens tog daai pads wat jy voor by jou klere instop as jy glo dat jy met pruimedante pleks van groot geelperskes op jou borskas opgeëindig het?) en die vrou wat so drooggemaak het met my hare, was dit vir my ’n dag wat ek vir die res van my lewe sou koester. Goeie raad het my laat besluit om daarop te fokus om elke stukkie detail van die dag in te neem, elke dingetjie te onthou. Foto’s help immers net soveel en dit vang net soveel aspekte van die dag vas. Buitendien, het ek geweet, is daar altyd die goedjies wat nie deur ’n kamera vasgevang kan word nie, wat mens eintlik moet onthou.

“Met hierdie ring belowe ek ewige trou aan jou…”

Vir my voel dit of dit net gister is wat ek die woorde hardop voor ’n honderd en een ander mense gesê het; vir die een in die honderd. Ek onthou hoe my stem van opwinding gebewe het en ook hoe krakerig dit geword het toe ek die omvang en betekenis van my belofte besef. Dit was nie vir een enkele oomblik vir my ’n perdekoop-situasie nie. Inteendeel. Ek het nog nooit in my lewe enigiets so ernstig opgeneem nie.

Toe ek opkyk en sien hoe my amper-man se mondhoeke bewe, het vrees my vir ’n oomblik gevul. Dit het gelyk asof hy wou hardloop… vinnig, ver en aanhoudend. Dis iets wat geen kamera vasgevang het nie en wat tot vandag toe nog in my kop bly. Hy het, jare later toe ek hom daaroor uitvra, gesê dat hy op daardie oomblik besef het hoe lief hy vir my is en hoe groot ons belofte is. Ek dink nog steeds hy het oorweeg om eerder te hardloop.

Dis egter daardie belofte wat ek daardie dag gemaak het, wat al ’n ruk lank in my kop bly maal. Dit en die ring waarmee die belofte geseël is. Het jy al ooit gedink wat dit werklik beteken?

Ek het, natuurlik, vriend Google gevra vir raad en op soveel goed afgekom dat my kop skoon begin raas het. Duisende verduidelikings is in ’n oogwink op my rekenaarskerm uitgespoeg – waarom dra mens juis ’n trouring aan dáárdie vinger, wat beteken die trouring, die simbool van die ronde ring, die belofte…

Ek het oor baie van die leesstof gevluglees en besluit dat ek van een hou wat iemand op ’n blog geskryf het (lees dit gerus hier); dis anders as wat in al die ander webblaaie geskryf gestaan het, maar ek het besef dat dit die betekenis is wat ek aan my eie trouring heg.

In ’n neutedop gaan dit daaroor dat die trouring nie ’n simbool is om te wys dat jy “gevat” is nie (en glo my – vir sommige mense is daardie ring aan die vinger juis ’n uitdaging wat hulle net nie kan weerstaan nie). Dit is ook nie iets wat jou herinner aan die belofte wat jy gemaak het nie (weereens, iets wat so maklik oorgekyk kan word of selfs net afgehaal kan word in ’n oomblik wat die ding aan jou vinger oorbodig, onnodig of ongevraagd is).

“Met hierdie ring belowe ek ewige trou aan jou…”

En dit is presies wat dit is. Die ring wat ek aan my vinger het, het niks met my te doen nie. Dit is bloot vir my die simbool dat een spesifieke iemand vir my lief is; lief genoeg om daardie dag nie die hasepad te vat nie. Ja, hy was ontrou, maar ek was ook nie juis ’n engeltjie nie. Ja, ons het probleme, maar ek wil graag  glo dat ons verskille en ons probleme ons wel nog op die ou einde sterker na mekaar sal laat groei. Ja, hy het my seergemaak en laat voel dat ek nie eers meer wil bestaan nie, maar het ek nie ook maar op ’n manier hom  seergemaak nie?  Al dié goed is in elk geval irrelevant.

Ek het ’n maand of wat gelede, met my besluit om meer ingestel te word op positiewe goed en te probeer om op ’n ander manier vir my huwelik te baklei, vir my man ’n brief oor sy trouring geskryf. Hy het nooit ’n geheim daarvan gemaak dat hy nie die “ding” wil dra nie en dat dit hom eintlik net pla. Die feit dat dit op sy bedkassie bly lê, het my egter meer as enigiets anders gepla. Dít is wat in die brief gestaan het:

My lief,

Ek weet jy hou nie van jou ring nie, maar sal jy dit nie asseblief weer begin dra nie?

Dis nie, soos wat jy dalk dink, ’n simbool van dat jy getroud is nie. Dit was nog nooit veronderstel om ’n meulsteen om jou nek te wees nie. Dit is wel ’n simbool van my belofte aan jou. Kan jy dié belofte ooit nog onthou? Want ek kan…

Ek het belowe dat ek lief is vir jou; ongeag hoe jy dalk voel; en dat ek vir jou daar sál wees wanneer jy my nodig het, dat ek jou sal respekteer en selfs alleen sal los wanneer jy dit vra. Ek voel egter ek het dit lank genoeg gelos en niks daaroor gesê nie.

Dra asseblief jou trouring, want dit het niks te doen met jou gevoel vir my nie, maar alles met my belofte aan jou. Jy het nie ’n idee hoeveel dit vir my sal beteken as jy dit dra nie, want dit sal vir my ’n herinnering wees dat jy wel my belofte, my liefde en my ondersteuning aanvaar. Ons is die afgelope twee jaar deur hel; ek weet jy is al langer as ek besig om te suffer; maar ek het nog nooit my ring afgehaal nie. Ek glo in jou belofte, ek weet dit kan herstel word, en wil jou weer vertrou en ek wil so graag hê ons moet die liefde vir mekaar op alle denkbare vlakke ontdek wat ons eintlik behoort te ken.

Ten spyte van wat jy sê jy dink probeer ek nie die lewe vir jou hel maak nie. Ek probeer jou nie beheer nie. Ek probeer egter wel my bes om vir jou lief te wees, jou te vertrou en te respekteer – ten spyte en ten koste van alles wat ek en jy al ooit in die verlede gedoen het – maar ek kan dit nie doen as jy dit nie wil aanvaar nie. As jy my of dit wat ek jou probeer gee nie wil hê nie, dan help dit nie dat ek nog langer probeer nie.

Jy hoef my nie hieroor te antwoord nie. Dra net jou ring as jy wil… of nie… ek sal dit as jou antwoord aanvaar.

x

Die handgeskrewe briefie het onder sy ring op die bed gelê toe ek uit die kamer is.

Het jy al ooit gevoel jy loop op ’n wolkie? Dat jy kan probeer om jou glimlag weg te steek, maar dan skyn dit steeds deur jou oë? Dat jy kan voel hoe jou hart warm lewe deur jou hele liggaam pomp? Wel, dis hoe ek gevoel het toe hy later by ons slaapkamer uitstap. Uitdrukkingloos. Woordeloos. Maar met sy trouring aan sy vinger.

Terug by die punt wat ek wou maak…

’n Troudag is ’n wonderlike dag, maar ’n huwelik gaan oor soveel meer as net die dag. Mens kan jou herinneringe hê, jy kan die mense wat daar was onthou, jy kan die goed en die sleg van die dag vir ’n leeftyd in jou verstand of op foto’s vaslê, maar daar is net een klein dingetjie wat eintlik belangrik is… die belofte wat JY gemaak het.

Verstaan nou net eers mooi: ek oordeel nie egskeidings nie en ek praat nie mense se besluit om in abusive relationships te bly goed nie. So waar as wragtig,  dis die laaste ding wat ek wil doen! Maar as jy besluit om in ’n huwelik te wees, wees daar met die regte rede. Wees daar om jou eie belofte na te kom. Wees daar omdat jy dit daagliks kies en omdat dit vir jou belangrik is. En wees daar omdat jy groot of klein goedjies raaksien wat gebeur, wat jou laat vashou aan die hoop en die vertroue dat daardie belofte aanvaar word en beantwoord word… al het wat ook al in die verlede gebeur.

 

Advertisements

6 thoughts on “Met hierdie ring…

  1. Sjoe, wat ‘n pragtige skrywe. Jy is so reg en het my weer daaroor laat dink. Dit gaan werklik oor ons liefde en beloftes aan mekaar en nie oor hoe mooi of blink die ring is nie. Well done, dat jy so verbete vir jou huwelik veg. Mense gee vandag so vinnig moed op en dan was daar dalk nog ‘n goeie paar jare net om die draai.

    Like

  2. So mooi en uit die hart (soos altyd!). Jou verhaal laat my so dink aan die vrou waarvan ek jou al vertel het – die vrou wat vir haar huwelik geveg het en uiteindelik net-net haar 50ste huweliksherdenking gemis het a.g.v. haar geliefde eggenoot se dood.(Maar soms met mens maar ook versigtig wees om nie vir 50 jaar lank iemand se slaansak te wees nie.)

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s