Tong-innie-kies

Die mense wat my ken, weet al dat hulle baie vir my kan lag; veral as ek die dag baie besig, gejaagd of moeg is. Soos wat seker maar met enige ander persoon ook gebeur, vang ek eienaardige goed aan, raak ek ‘n visuele definisie van lompheid en sê ek goed wat dalk eerder maar nie gesê moes word nie… goed wat ek jare en jarrrre later nog aan herinner sal word deur almal teenwoordig.

Ek het nog altyd gewonder waarom sulke goed altyd voor ‘n klomp mense gebeur en waarom ek nooit dadelik besef wat ek gesê het nie. Dalk is my gedagtes net op daardie oomblik minder “vuil” as die mense om my, en draai ek regtig net goed om of verwar ek woorde… dis ‘n onskuldige kortsluiting in my brein… niks te vreeslik nie.

Ek het vanaand ‘n bevlieging gekry. Ek het nodig om net iemand laat glimlag. Buitendien voel ek dis tyd vir ietsie ligs hier en my kop moet bietjie uit die gutters.

Laat weet my asseblief of my vertelling (dalk effe aangedik, maar werklike goed wat my mond ontsnap het) ‘n uitwerking op jou mondhoeke het! Is jy reg? Hier kom iets wat sommiges dalk ‘n freudian slip sou noem (jy weet dit, SW), maar wat ek net ‘n genetiese spraakprobleem noem (want my ma het eerlikwaar dieselfde probleem as ek):

Vriende het ‘n rukkie gelede by ons kom kuier. Ek was sat gewerk en het gevoel dat ek sommer aan die tafel op my bord kos aan die slaap wou raak. Dit was ‘n resep vir chaos… ek was moeg, my kop was nie by die geselskap nie en daar was mense.

Die eerste slip het gebeur terwyl ons gepraat het oor maniere waarop ons ‘n Expo wat binnekort in die omgewing gehou gaan word nuwe lewe kan gee. Hoewel dit glad nie in my lyn van werk is nie, geniet ek dit baie om my opinie te lug en saam oor sulke goed te dink en gesels. Wonder bo wonder kry ek wel soms ‘n kreatiewe aha-oomblik wat ‘n goeie en werkbare idee is.

Halfpad deur die gesprek het ek kriewelrig begin voel. Die een vrou het snaakse giggel-geluidjies begin maak en die man het bloedrooi gebloos. Die ander vrou het ‘n olyf op haar bord rondgeskuif met haar vurk, asof sy besonder diep dink. My man het teruggesit en vreemd-stywerig geglimlag… en ek het aanhou praat; bly dat ek hulle almal se volle aandag het en dat my idee duidelik hulle gedagtes prikkel. Dit was eers toe ons begin afdek het, wat my man dit saggies vir my gesê het…

Exhibitors.”

Ek het hom aangekyk asof hy laf is.

“Ja… wat van hulle?”

Hy moes die onskuld op my gesig gesien het, want hy was my genadig en het my dadelik van nog groter vernedering gered.

“Dis nie exhibitionists nie. Dis exhibitors…

In ‘n oogwink was ek rooier as wat die rypste tamatie maar net kan wens om te wees. Die onderwerp in sy geheel is vir die res van die aand verder vermy, maar my selfopgelegde vernedering was nog lank nie verby nie.

Toe ons in die TV-kamer gaan sit het op gemaklike wegsak-banke, het ek eers in my handsak begin krap, waar dit op die nabygeleë kombuistafel se punt gestaan het. My gestel was af, ek het verkouerig gevoel en my lippe was droog. Ek het geweet dat ‘n pers stiffie goed al is wat sou werk. Tipies van my, in my toestand van slaapnood en verstrooidheid, het ek hardop met myself gepraat.

Shit.

“Wat’s fout?” My man was teen dié tyd skoon geamuseerd met my gekkige maniere. Hy het geweet ek is soos ‘n zombie en het elke oomblik daarvan geniet.

Sorry… My libido is weg.”

Doodse stilte… afgesien van die gekrap in my handsak…

“Ek weet ek het dit vandag by die werk gehad. Ek het nog daarvan vir ‘n kollega geleen. Maar nou kry ek dit nie.”

“Jou… wat?” Duidelike verbasing in sy stem.

“My libido…” Ek het dit harder gesê as voorheen, omdat hy my duidelik nie die eerste keer gehoor het nie. “Die pers houertjie. Jy ken dit mos? Flip, ek hoop nie ek het dit alweer verloor nie…”

Met my kop so diep in my handsak en my voorarms ook boonop daarin begrawe, het ek amper die ander vrou in die geselskap se senuweeagtige snorklaggie gemis. Toe ek opkyk, het vier stelle baie groot oë my aangegluur…

“Jou wát is weg?” Die glimlag op my man se gesig het my dit stadiger laat sê. Skielik baie onseker van wat uit my mond gaan kom.

“My li-bi-do…”

Terwyl ek die pers buisie Labello stadig uit die onderkant van my handsak getrek het, en die woord ewe stadig, maar baie hard en duidelik in perfekte lettergrepe uitgespreek het, het ek besef dat die naam op die houertjie en die woord wat ek nou vir die derde keer oor my lippe laat rol, alles behalwe dieselfde ding is.

As daar maar net ‘n berg was wat op daardie oomblik op my kon val, maar daar was nie. Daar was ook nie ‘n gat om my kop in te druk nie en skielik was my handsak nie diep genoeg nie.

‘n Histeriese lagbui het my beetgepak. Ek het gelag totdat die trane loop, opgehou, en toe wéér gelag. En ek het nie alleen gelag nie! Dit was eers toe ons almal bedaar het, vyf of sewe laguitbarstings verder, wat ek gemaklik langs my man op die bank gaan sit het, my skoen wat bly pla het effens uitgeskop het, en ewe verras laat val het:

“Dis maar net nie my dag nie… hier is wraggies nou nog ‘n kous in my gat ook…!”

Sal ons dit “woordsiekte” noem? Geneties en iets wat ek nie kan beheer of kan keer nie. Is daar ‘n werklike mediese naam hievoor? Ek weet net, ek het dit… en dis erg… maar gelukkig geniet die mense om my dit en wéét ek al hoe om vir myself te lag.

Advertisements

5 thoughts on “Tong-innie-kies

  1. Dit lig sommer my kop uit my gutter. Kostelik en ja, ek kan ook die simpelste goed oor kom omdat ek nie aandag gee nie of net nie regtig belangstel nie. Maar hierdie? Dit vat die koek. Defnitief net maar ‘n glips van die tong van ‘n baaaie intelligente persoon. Dankie!

    Liked by 1 person

    • Haha – Bitterbossie, my man het my na die tyd vreeslik gespot, want duidelik wéét ek van goed wat dié mense nie gedink het ek van weet nie… Ek bloos maar net en giggel… What’s done is done!

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s